Tuesday, February 19

Volla vat die pad Bloem toe

Ek wil nog die foto-storie van die Volla vertel. Eintlik na baie mondelingse probeerslae was dit die groen motortjie se kans om te wys, dat hy/sy die pad Bloem toe kan vat om daar 'n opregte studentemotor te wees.
Die begin van die trippie .... Onrus na Bloem via Swellendam en die berge
Asemskep tyd vir die groene op die berg .... saam met James en Leanè


Robinson pass en na 860 m ..... weer 'n bietjie asemskep ....dis warm
Die bestuurder en passasiers skep ook 'n bietjie asem en warm in die berg
Hulle slaap oor op Beaufort-Wes en neem 'n paar interessante winkeltjies af die volgende dag. (Ons adverteer nie ...)
Eddie wys mens kan by hierdie winkel vars lewerkoekies koop. (Hier sou ek verby hou)
En hier skep hy alweer asem. Die kinders begin die trick agterkom.

Maar mens kan spot soveel jy wil ....die groene het dit gemaak en nou sal sy lewe seker meer opwindend wees as om net in die motorhuis op Onrus te staan

Monday, February 18

Ons hou konferensie

Laaste paar dae het die griep my bietjie ondergekry, maar ek wil nog vertel van verlede week se Konferensie. Klomp Suid-Afrikaanse vrouens in die UAE het in Dubai saamgetrek om die Ester Konferensie by te woon. Dit was aangebied deur Elza Meyer van Moreletta kerk in Pretoria en sy het haar hele span saamgebring om die konferensie vir ons almal 'n belewenis te maak.Haar lofprysingsspan was iets wat ons nog nie hier in die land gehoor of belewe het nie en die vrouens wat nader aan 200 as 150 was, het so lekker gesing dat niemand aan die einde wou ophou sing nie. Om alles wat gedurende die naweek op een blog te sit is amper onmoontlik, maar met die hulp van Charmaine, deel ek graag die konferensie met julle.
Wat 'n naweek! Ons het geleer hoe Hadassa, 'n beeldskone jong Joodse meisie, Ester, die koningin van Persie geword het en die Joodse volk van gewisse ondergang gered het. Saam met Hadassa, wat 'n jaar lank skoonheidsbehandeling moes ondergaan totdat sy soos Mirre en ander lekkerruikgoed geruik het, het ons 'n geestelike reis onderneem van dinge neerlê wat ons saam met ons deur die lewe sleep. Die pyn en vernedering, verkeerde besluite en sonde en sommer net di eminagting van ons menswees lê soms baie diep weggesteek. Ons moes dit na die oppervlak bring, bely en neerlê. Want dis nie net dinge wat tussen ons en Vader staan nie, maar tussen ons en ander mense en ons onvergifnis bind ons. Baie trane ouens ....
Dan die proses van gebied of terrein .... wat mens dit ookal noem, teruggee aan Vader. Dinge soos ongeloof, tyd, kinders se opvoeding....sulke moeilike goed....En elke keer as God terreine in ons lewens terugkry, het hulle op die horing geblaas .... hoendervleis!! En terwyl ons vrouens terreine van ons lewens aan God teruggee, het tien mans, Gideons, rondom ons gestaan met wit vlae met rooi kruise op en hulle hande uitgestrek en vir ons gebid. Dit is simbolies van die mans wat om die vroue staan wat hulle regmatige plek voor God inneem en hulle ondersteun met krag en gebed.


Toe Elsa in Witbank was met die Ester konferensie, het 'n dominee 'n visie gehad dat die vroue God prys, omring met die mans wat bid en hulle beskerm en rondom almal was ‘n muur van vuur... God se beskerming.

Sy vertel ook dat soos hulle die konferensie deur die land aangebied het (SA), het hulle in die Oos-Transvaal die grond wat gebrand het aan God teruggegee. In die Wes-Kaap, het hulle die kerk teruggegee omdat hulle 'n boodskap gekry het dat die liggaam van Christus op aarde, die kerk nie 'n kop het nie en Christus se posisie as hoof van die kerk is teruggegee. In Bloemfontein is die 14 nasies in SA weer aan God teruggegee. Met haar besoek aan die Oos-Kaap het 'n vrou haar 'n klippie teruggegee en gevra dat sy dit by Buffelsbaai in die see gaan gooi want hull emoet die harde harte van mense en hulle ongeloof aan God teruggee. Sy en haar span het so gemaak en ook die water van die land aan Hom teruggegee. Voor hulle terug is huistoe, het dit begin reen en soveel dat van die spanlede vasgekeer was op Buffelsbaai. Met die terugspoel van die water het honderde hart klippe of die strand uitgespoel. (Sy het vir ons kerk hier een van die klippe saamgebring)

Die volgende proses was om te verstaan dat God ‘n plan het met elkeen van ons se lewens en dat ons in in die UAE is vir ‘n rede. God wil dat ander volke en nasies Hom in ons sal sien en leer ken. Ons is ver van ons land en ons mense hier en ons oorlewing is afhanklik van ons fokus op God, soos Abraham toe hy sy land moes verlaat om hom in die land wat die Here hom sou wys te gaan vestig. God belowe aan Abraham ‘n land vir sy nageslag en sodat God al die nasies van die wêreld deur Abraham kan seën. Wow!! Genisis 12:2-3 Nuwe dinge wat ons geleer het is dat wanneer ons op reis is... soos ons wat hier in die vreemde land ver van ons goed en en ons mense is, dan is ons vertroue op God, omdat ons nie vir onsself enige iets kan toe eien of vestig nie. Wanneer mense grond besit en uitgebreide besigheidsbelange het, begin hulle na ‘n ander stem luister en is daar ander reëls waaraan hulle onderworpe is.
Die laaste stap in die proses was om uiteindelik gekroon te word as Ester, koningin. Ons belowe om God bo alles lief te hê. En elke vrou het ‘n kroon ontvang. Dis baie moeilik om te beskryf wat in ons binnestes gebeur het. Ons laaste middagete was ‘n kospakkie met ‘n lint om en binne in ‘n goue kroon en die versie uit Ester 4:14 wat sê dat miskien is dit vir ‘n tyd soo hierdie dat jy gekroon is as koningin. Ons het gekyk na ‘n ballet wat die troonsaal in die hemel voorstel en tyd gehad om met ons Koning God te praat oor ons toekoms saam met Hom. Sowaar 'n konferensie wat ons altyd sal by bly.

Saturday, February 16

Geluk met jou verjaarsdag

MARISKA ! ! !

baie geluk met jou verjaarsdag vandag. Ons hoop dat die nuwe jaar net propvol mooi dinge vir jou is en alles waarvan jy droom Geniet jou dag!
Liefde Die Holloways

Wednesday, February 13

Naelbyt stryd

Vroeer die week het ons teen AIS (Abu Dhabi International School) gespeel en ons het nogals gedink dit sal 'n baie maklike wedstryd wees. Maar o wee, hulle het 'n meisie wat 3e skiet (seuns wat is die regte naam vir dit?) en dit beteken dat haar span nie veel hoef te doen behalwe om die bal iewers in sig van die doel vir haar te gee nie. Sommer gou-gou was ons agter.

Die leeu wys sy spiere en moedig die span aan.
Die juffrou bespreek ernstig verandering in taktiek en hoe om nr 9 te keer om doele te skiet en die kinders luister mooi want na rustyd verander hulle spelpeil. Nelmari het 'n paar goeie bewegings af na die doel toe waar sy punte aanteken en gou-gou is ons voor met genoeg punte dat die ouers op die pawiljoen se senuwees kan rus.

Hier skiet sy 'n strafdoel.

Monday, February 11

Dis alweer Terry Fox tyd

Die jaarlikse Terry Fox wedloop is gedurende die naweek langs die Cornish gehou en klompe mens, hulle het meer as 10 000 verwag, het opgedaag en in mooi weer die wedloop op allerhande maniere voltooi. Alhoewel ek by 'n konferensie in Dubai was, het Eddie en Nelmari dit bygewoon en vir my foto's geneem.
So 'n mooi sonskyndag alhoewel mens aan die warm baadjies kan sien, dis koud vir Abu Dhabi.
Verskillende spanne het deelgeneem.
Mense het op allerhande maniere gearriveer, selfs met hierdie laaaangg hammer.
Aangetrek met sportklere, gewone klere en tradisioinele klere
Party het die kans gebruik om ook vir iets anders te oefen .... of sy weet iets gaan met ons weer gebeur binnekort
Party het geloop en ander gehardloop en ek's seker die mooi uitsig het die pad korter gemaak.
Heelparty Suid-Afrikaners het ook kom deelneem.
'n Verskeidenheid "drinkpunte" was daar ook. Kyk hoe's die skinker aangetrek.
Nelmari hulle het omtrent rustig aangekruier

Klein Amber Boulton met haar pa en ma nadat hulle klaargemaak het. .