Friday, August 10

Foto'tjies van die baba leeus by A.D.W.C

Hierdie leeutjies is so oulik dat dit vir my moeilik is om net 'n paar foto's uit William se groot versameling te neem. Ek dink dit het nie veel verduideliking nodig nie, hulle vertel hul eie storie. Dis geneem terwyl William by die A.D.W.C (Abu Dhabi Wildlife Centre) gekuier het met sy foon kamera.

William jou skoen smaak baie lekker

Lyk hulle nie stout en reg om te speel nie?
Die waterbottel is 'n lekker speelding
Dis myne
Terwyl sussie met die waterbottel speel val ek die bank aan
Dit is Mercedes (die dogtertjie) se stoel waarop sy graag sit
Ons geniet die gras en skaduwee buite
Mercedese knip 'n uiltjie terwyl Hunter water drink.
Hunter speel graag met die kussing
William kry klein bytjies by Mercedes

Later in die week wil ek graag nog foto's van die pragtige diere by die A.D.W.C vir julle wys EN hoe William twee hande vol leeus het om besig te hou.























Thursday, August 9

William kuier by die A.D.W.C

In 'n vorige skrywe het ek julle van die leeutjies vertel en dat William die kans het om saam met Ronel te gaan en bietjie met hulle te speel. Ek kan nie regtig daaroor skryf nie, aangesien ek nie daar was nie, maar ek deel graag die foto's met julle omdat al die diere so pragtig is. William het oor die 100 met sy foon geneem en 50 met die kamera. Om dus 'n paar te kies was baie moeilik, so ek gaan so 'n paar keer vir julle die foto's wys. Die res van die foto's sal op die album te siene wees.

Die hek met twee "katte" op. Die plek se naam is die Abu Dhabi Wildlife Centre. As ek reg verstaan het, was al die diere geskenke.

Weerskante is die hokke van die diere.
Die krokkodil en seker al dier wat nie 'n probleem met die hitte het nie alhoewel water maar net so lekker warm word hier.
Dis 'n tipe van 'n gastehuis en seker nie 'n plek waar ons sal kan kuier nie.

Die jagluiperd lyk nie mal oor die fotonemery nie.
Hierdie leeu is 'n jaar oud sê William

Twee rooikatte soek koelteplek. Let daarop ... eenmaal 'n kat altyd 'n kat ... ek sien 'n krappaal en sandbank. William vertel dat die water so pienk is omdat hulle goed ingooi wat help teen ontwatering.
Die "gevaarlikste" dier by die sentrum ... skillie skilpad.

Die wit tier lyk lekker vas aan die slaap van die hitte

Ok so waar is die leeutjies sal jul vra? Hulle is so oulik hulle verdien hulle eie inskrywing, kyk more. Die ander diere wys ek vir julle volgende week.





Wednesday, August 8

Vat 'n raai ....



Sommer 'n ietsie anders vandag.

Hier is ou foto's en nuwe foto's wat ek nooit andersins kan wys nie. Raai bietjie wie die 15 persone op die 13 foto's is en staan 'n kans om iets te wen.

Ek weet party sal baie maklik wees en ander nog meer maklik, maar probeer tog. Die een met die meeste reg name wen ... indien van die UAE "iets van die huis" en indien van SA "iets van die UAE".

Ek weet dis slegs vir 'n klein groepie mense, maar hou dop, binnekort het ek iets waaraan almal kan deelneem.

Tuesday, August 7

Eddie kan ook bowling of .... nie

Oor die naweek het William en Eddie bietjie gaan boul. Ek was nou nie daar nie, en vertel die storie uit William se mond uit (soos die kinders altyd gesê het wanneer hulle wil hê jy moet 'n spesifieke persoon se woorde gebruik). Natuurlik was Willempie se foon daar vir die foto's.
Kyk ek kan op eenbeen staan as ek die stoel vashou!

Die kegelbal op sy skouers soos 'n sak aartappels gereeld om te rol ....

En die nodig aksie .... Ek weet nie wat het met die kegels gebeur nie?

Will het 'n ander aksie om die kegels om te kry.

En hy hou daai bal dop soos die ou omies op die rolbalbaan.

'n Paar uitslae skerms is afgeneem waar ME ver en minder ver wen. Moet darem noem dat die pa een van die wedstryde gewen het.



Monday, August 6

Nie AISA leeus nie REGTE LEEUS!!!

Hoeveel keer moes julle (ek dink ek praat hier meer met die junior-senior burgers) hoor dat mense van die buiteland sê of vra "loop die leeus in julle strate rond daar in SA"? Dan het ons altyd maar net geglimlag en gesê nee hulle's in die wildtuin, julle moet maar self kom kyk. Interessant hier vra hulle anders. "Where you from?" "South Africa" "Oh South Africa ... but your white". So ten minste weet hulle die leeus loop nie in Johannesburg se strate rond nie .... maar nou weet ek hoekom.
Die leeus bly in villas in Abu Dhabi!!!! Ja julle het reg gehoor. En die beste van alles is, hulle kom al die pad van Suid-Afrika se strate of meer korrek vanaf Bloemfontein. James dis miskien die fout met die Cheethas, hulle is eintlik Leeus?

In die winkel loop ek vir Ronel ook 'n SAfrikaner raak. Sy bly al amper so lank as ons hier in Abu Dhabi. Eers by die plaaslike veearts gewerk en later by een van die Sheikhs se jagluiperd teelprogram betrokke geraak. Sy was ook 'n paar keer al "ma" vir my katte as ons op vakansie is. Sy kan nie gesels nie sê sy want sy het baba leeutjies in die motor. Dink jou in ons reaksie ... ag moedertjie kan ons hulle sien?

Gelukkig bly Ronel net twee villas van ons af en kon ons gou gaan loer. Die tweetjies was 'n geskenk vanaf SA (Bloemfontein) aan die Sheikh en nou moet sy hulle oppas totdat hulle op hulle eie kan wees op die plaas. Hulle is BESIG en WOELIGE goetertjies. Met die inkom mag ons nie foto's neem nie want die flash kan hulle skrikmaak. Hulle is regte leeus wat jou eers ernstig beloer en dan van agteraf probeer benader. Sy sê hulle eet en kou alles op. Hulle bly by haar in die kamer en slaap in 'n kampbedjie en sy kry geen slaap nie. Hulle het haar zebravel flenters gekou - was seker 'n teleurstelling toe hulle uitvind daars g'n vleis nie. Nelmari nader hulle baie versigtig.

Na 'n hele paar minute het hulle ons half in die kamer aanvaar en is 'n paar met redelike knypbyte beloon. (Dit word met trots aan almal wat wil sien gewys) Die leeus het onmiddelik vir William uitgekies as hul gunsteling. Tydens hierdie foto het die wyfietjie op sy skoot kom sit en wat julle nie sien nie, is die mannetjie wat aan sy voet krap dat hy ook opgetel kan word.

Daar's hy die mannetjie word opgetel en vasgehou. Hy's heeltemal gemaklik in Will se arms. Hulle is sooo pragtig en mens kan maklik vergeet hierdie katjies kan nie sonder handskoene aangepak word nie. James sal dit nie 'n lekker mascot vir AISA wees nie - al die spanne sal weghardloop! Ronel het ons ook uitgenooi om later die maand die plaas te kom besoek voordat dit vir die publiek oopmaak!!! Lekker want verlede week is daar ook klein rooikatjies gebore.


Vir nog fototjies van die leeus kyk in my Photo Album regs net onder die temperatuur meter, in die Leeus folder! As hulle te klein is, dubbel click om dit groot oop te maak.

More gaan William by die "Teelsentrum" werk en hopelik baie foto's van die ander baba wild neem, ek vertel later in die week daarvan.