Showing posts with label Al Dhafra. Show all posts
Showing posts with label Al Dhafra. Show all posts

Thursday, January 29

Gespaar vir 'n ete

Uitgespaar dankie het 'n hele nuwe betekenis gekry gister nadat ek en Charmaine gister in 'n liederlike ongeluk betrokke was. Dit was ongelooflik hoe Vader Sy hand oor ons gehou het, en ook engele op ons pad gestuur het om ons te beskerm en by ons te wees, maar daarvan vertel ek volgende keer ...die skok en dankbaarheid voel nog bietjie te groot.


Tanya en Werner Schultz wat die wonderlikste boekies vir kinderbediening skryf (loer bietjie hier) het kom kuier om 'n werkswinkel vir groepleiers en dienste vir Suid-Afrikaanse kinders in die UAE aan te bied. Ek sal op ons kindergroep blog meer hiervan vertel, maar hierdie is spesiaal vir Tiana, Christiaan en Conroy om te sien wat hulle alles op hul eerste dag in Abu Dhabi aangevang het. Met ernstige digte mis moet hulle eers in Fuijerah land en 'n hele klomp uur wat voordat ons hulle eintlik kon kry. Ons moet 'n darem 'n bietjie die dorp wys en hier is die "bewys" foto dat hulle wel in Abu Dhabi is. Die Abu Dhabi skyline op die agtergrond. Die grootste/hoogste vlagpaal in die wereld en die twee se arms kom nie eers halfpad om die paal nie. Kan julle dink hoe groot is die vlag wat daarop waai? Ons gaan eet by die Al Dhafra restaurant om hulle bietjie van die tradisionele disse te wys en dis so 'n mooi aand. Van hierdie bote vaaruit en mens kan op hulle sit/le en tradisionele kos eet. Al wat vir my teen hierdie tel is dat mens eers hier van 10nm kan eet en dit is baie ver te laat vir my. Ons moet in die restaurant se ontvangs wag en hier sit die drie sheikhas so onder die sheikhs se foto's ... uitgespaar! Die twee van hulle lyk reg om al die nuwe disse te probeer. Tania en Charmaine loer na die vis tafel maar oa die haaie wat daar le, laat my besluit dat ek liewer net by die ander kosse sal bly vanaand. Die twee loer na al die disse voordat daar besluit word wat om te probeer. 'n Man in tradisionel drag kom skink vir die twee Arabiese koffie

.

Charmaine vertel van die eerste keer dat sy die koffie geproe het en Tania moet proe want ons wil haar gesig sien. Sy hou 'n goeie "pose" :-). Tania later met 'n paar verskillende drankies voor haar. Party wil sy van weghardloop soos die koffie en daai klein glase met die "tamarind" drankie wat soos parfuum proe. Dit is van 'n boomvrug en word ook die Indiese dadel genoem. Die groen een is 'n "lemon & mint" drankie wat baie tradisioneel is en die oranje een vars mango sap. Die land dood oor vars sappe en dis baie lekker. Na al die eet is dit tyd vir nagereg en hier skep Tania van die "Um Ali". Die Um gedeelte beteken "ma" en die dis is vernoem na die ma van Ali wat dit gemaak het. Dit smaak baie soos broodpoeding en word oa van croissante, melk, kaneel, rosyne, pistachos, almond, rooswater en suiker gemaak. Terloops as ek 'n lekker dis kon "uitdink" sou dit bekend staan as Um James :-). Bo-op al die soetgoed kom bak hulle klein deegkoekies wat amper soos 'n kruis tussen vetkoek en koeksisters smaak en dan gooi jy sulke dadelstroop bo-oor. Dis blykbaar lekker maar ek is mos nie 'n dadel eter nie. Na ons magies lekker vol is neem die eienaar vir die twee as 'n spesiale guns na die VIP eetgedeelte en daar kan klomp foto's geneem word. Dis baie goud. Ons groet en ons hande word gewas met rooswater voordat ons die restaurant verlaat. Vandag werk hulle met die kinders van Dubai, Sharjah en Abu Dhabi so ons gaan baie rondry en besig wees.

Tuesday, July 31

Toer deur Abu Dhabi - 7

Gister het ek vertel van Die Al Dhafra restaurant .


Hulle het ook 'n boot (dhow) waarop mens kan eet terwyl hulle op die water vaar. Hier is die ingang na die boot.
Die Al Dhafra eetboot vir 'n tradisionele Arabiese ete terwyl jy ook na die dorp se liggies kyk terwyl die boot vir twee uur langs die Cornish vaar.
Hierdie foto was eintlik vir Nelmari geneem. Van die straatkatte wat bietjie koelte soek in die hitte. Dis 'n slegte tyd vir alle katte in die dorp omdat dit so warm is en omdat baie mense huis toe is vir die vakansie en dan net hulle katte los. Hierdie vier bly egter baie lekker by die hotel.
Amelia probeer een van Chi Chi's se beroemde Margerethas en sy sug want die koue gaan lekker af.

Ek en Charmaine is meer waaghalsig met ons drinkgoed, ons drink diet Coke. Wat hierdie restaurant so lekker maak is die uitsig oor die see maar teen hierdie tyd was die fotograaf te moeg om foto's te neem. Ons het lekker gelag toe die rekening kom - baie minder as die koek en koffie by die paleis hotel.

Dit was regtig 'n lekker trippie en ek hoop julle het geniet om dit saam met my te doen.











Sunday, July 29

Toer deur Abu Dhabi - 6

Hier's ek terug met my toer waarmee ons amper klaar is. Laas toe ek vertel het, was ons by die Cultural Foundation.

Die produkte wat hier verkoop word is alles tradisioneel en deur die vrouens by die Womans Craft Market gemaak. Amelia eye een van die strooi houers met die dekseltjies vir 'n tradisionele hoekie by haar huis hier.



Van die rokke wat hier gemaak word. Ek's nie seker of die kussings en bedoortreksel ook hier handgemaak is nie.


Die Cultural Foundation het die oulikste "bont" restaurant met 'n baie billike spyskaart. Al trick is vir die item om wel beskikbaar te wees die dag. Mens kan nogal baie pret hê om te bestel. Hoenderbroodjie - "sorry not available today", Kaasbroodjie - " sorry not available today" en so gaan jy aan totdat jy verplig is om die tuna broodjie te bestel want dis al wat oor is. Hier is 'n hoekie in die restaurant.

Ok hierdie foto is in die badkamer geneem, Amelia het beide haar hande nodig gehad. Dis baie Afrika is dit nie, om goed op ons kop rond te dra.
Nog ''n plek waar mens koffie kan drink in die sentrum, dit was net toe met ons besoek. Daar is gewoonlik 'n pianis wat die mooiste musiek speel terwyl mens koffie drink.
Onder is 'n groot uitstalllings area waar allerei kunswerke uitgestal word. Ek het op 'n stadium van die SA uitstalling vertel wat hier gehou is. Vandag is daar 'n fotografie uitstalling. Twee kenners besig om te kyk.
Na die Cultural Foundation ry ons Iranian Market toe by die hawe. Dis nou dodelik warm en ons gaan dit glad nie buite die motor waag nie en sommer foto's deur die venster neem. Hier is van die stalletjies waar mens behoorlik enigiets kan koop.

Weet nie vir wie mens kos maak in sulke klein potte nie, maar ek dink dit sou handig op 'n Voortrekkerkamp gebruik kon word.



Dis ook die een plek in die dorp wat mens plante kan koop. Ons sal seker weer moet kom want weens die hitte was al wat Amelia gesê het: "Ja ek kan plante hier kom koop, maar in die winter ok"Anderkant van die Iranian Mark kry mens die Al Dhafra restaurant wat uitkyk oor 'n hawe. Hier eet mens tradisionele kos en dis 'n baie oulike en gewilde plek om kuiermense heen te bring.
Van die vissersbote wat hier vasgemeer is. Dis 'n regte vissershawe en dit ruikkkkk!!!
Die mense leef op die bote en lyk asof Saterdag dalkies wasdag in Al Dhafra bootgebied is.

Ons is nou amper aan die einde van die toer, nog net die middagete ...