Saturday, August 27

Laslappie en kwilt wereld

Ek is tans handeviervoet binne in die geskiedenis boeke besig om stories en feite rondom die dorpie Riviersonderend op te lees.  Dit hou my lekker positief besig want ek kry die geleentheid om met "ouer" inwoners te sit en gesels oor dit wat hulle onthou en ek sal jok as ek se ek geniet dit nie.  

As jy nou in die rigting van die dorp ry, is die pragtige lappieskombers landskap die eerste indruk van die dorp en sy omgewing.  Wat ek van lappieskombers weet is gevaarlik min - natuurlik het ek al foto's van 'n lappieskombers gesien en stories oor die maak van 'n kwilt in Amish boeke gelees, en dis sover my kennis strek.  Mmmm miskien nie heeltemal nie, ek weet dis harde werk om een te maak, en ek weet dat die eindproduk ongelooflik mooi is - net soos die huidige landskap op die oomblik.  

Dis net hier waar ek besef kwilting is nie geskiedenis nie, dis baie aktief en lewendig hier in Riviersonderend en baie gewild onder vroue ouer en jonk.    Laat ek net 'n bietjie geskiedenis ook ingooi - kwilting het sy ontstaan in Swede rondom 1500 gehad en die oudste kwilt wat ontdek is, was in 'n Egiptiese graf van die 1700.  En hoor dit ... die duurste kwilt, die "reconcillation quilt" is in 1991 vir $264 000 aan 'n museum verkoop.  Kan jy dit glo, meer as 4 miljoen rand vir 'n kwilt.

Hier op die dorp is 'n besonderse klein winkel met die naam Quilt Den.  Dis in die hoofstraat, maar jy gaan dit nie sommer net raak ry nie - jy moet by die restaurant Vn'Desden stop en deur die restaurant loop om daarby uit te kom.  Daar is 'n 99% kans dat jy vir Petro, die eienaar van Quilt Den daar gaan kry besig om aan 'n kwilt te werk.  

Dis natuurlik ook 'n skatkis met die mooiste lap en alle naaldwerk produkte wat mens kan nodig kry om 'n kwilt te maak.  En as jy al die produkte het, of jy is soos ek wat nie kop of stert van naaldwerk weet nie (ek kan darem 'n knoop aanwerk en soom insit), Petro hou gereeld werkswinkels vir beginners en gevorderde kwilters. 
As mens by 'n werkswinkel sit en hulle hoor gesels, idees uitruil, lag, mekaar help en werk, kan jy ampertjies dink dis lekker. 😀Hier word kwilts vir kleinkinders en/of kinders gemaak, vir mense wat oorsee is, vir 'n familielid, 'n spesiale geleentheid of sommer so.  Tussen-in hoor jy ook dat "eendag as ek tyd het gaan ek vir myself 'n kwilt maak".  Party stik met die masjien en ander werk met die hand, maar elke steek met liefde.

Ek kan nie dink dat mens dit enigsins vir iets anders as liefde kan doen nie, want dis harde en lang ure werk, met die pragtigste eindresultate.
As jy weer deur die dorp ry, verminder bietjie spoed en stop by Quilt Den, Hoofstraat 30 (in die Vn' Desden restaurant) en gaan loer na klaar gemaakte kwilts, ens of materiaal om jou eie een aan te pak, jy sal nie spyt wees nie.  

U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my
moeder.  Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike
wyse geskep.  Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.
Psalm 139:13-15
Mooi dag, ek praat weer
Sandra

No comments: