Saturday, October 22

Hier wil jy stop ... die Kaasfabriek

Een van my nuwe gunsteling paaie om te ry is die R406 en dis net daar waar ek nog een van die juwele van die omgewing raak ry, die Concordia plaas waar die Kingwill Kaasfabriek is.

Natuurlik is dit die "babatjies" wat eerste aandag trek.  Hier word die melk van die Jersey koeie gebruik om die lekkerste kase te maak. Die familie besigheid het in Januarie 2000, op 'n klein skaal sommer in die kombuis begin deur 'n verskeidenheid resepte te toets totdat hulle die perfekte een gevind het.  

Zelda is huidiglik die "kaasmaker", wat oorgevat het by haar skoonouers, maar almal spring in om te help wanneer daar tyd en hulp nodig is.  Haar regterhand, wat al 12 jaar deel van die kaasfabriek is, is Ngoni  wat ook help met die proses.  

Die kase het gou gewild geword en was dit nodig om 'n klein fabriek te bou sodat hulle kon byhou met die aanvraag na die kase. Kingwill kaas het ook toekennings gekry vir die kase wat hulle maak.  Tans is die kase by 'n verskeidenheid afsetpunte beskikbaar en ook elke Saterdag by die Greyton mark.

Daar word 18 soorte cheddars met verskillende kruie en speserye gemaak van ongepasteuriseerde melk verskaf deur hul eie Jersey koeie.   Dis moeilik om te kies tussen die verskillende soorte:  Mild Cheddar, Pepper, Smoked Jalepeno, Cumin, Mixed herbs, Olives, Chilli, Chives & Onion, Garlic & Onion, Stinging Nettle, Mustard Seed, Italian mix (sundried tomato & Basil), Corinder, Rosemary,, Smoked cheddar, Nature cheddar, Teddy's cheese en One year mature - alhoewel ek natuurlik my gunstelinge het. 
Vir kwaliteit tradisionele kaas met heerlike geure, sonder enige kleursel, kom bederf julle self en besoek die kaasfabriek persoonlik.  Zelda is 'n uitstekende gasvrou en deel graag die inligting rondom die kase.

Hier is regtig 'n geur vir elke smaak.  Net wat mens nodig het in die warm somer maande en kragonderbrekings ... 'n heerlike kaasbord met koue vleise :-) of vir die wat hou van 'n kaas- en wyn kuier.  Of ...as 'n geskenk.

Gaan maak 'n draai, jy sal nie spyt wees nie.

"Die Here het groot dinge vir ons gedoen en ons is vol vreugde"

(Psalm 126:3)

Geniet die res van julle naweek!

Ek praat weer

Sandra 

Monday, October 17

Ons gaan see toe

Die pad see toe is nie altyd die N1 of N2 vanaf ander provinsies nie, dis partykeer die kleiner en grondpaaie vanaf die binneland.  Dis een van die blessings om naby die berg en die see te wees. Hier van Riviersonderend se kant, is daar verskei roetes en ons vat presies die regte een vir wat ek nodig het om te gaan vis eet.  (Ja want visse swem in die see, hulle klim nie berg nie)

Ek is gewoond aan kraanvoels wat saam met die skape kuier, maar hierdie is een van die grootste swerm (is dit die regte versamelnaam?) kraanvoels wat ek al sien uithang het met skape. Dit lyk asof die leier gehoor het van die haan wat op die mishoop staan.
Met 'n toet probeer ons die vergadering omvergooi, maar die leier verander net van posisie terwyl die ander doodstil staan.  Die heel pad het mens hierdie pragtige prentjie van verskeie groen / geel met kraanvoels, skape en oulike lammetjies.

Struisbaai is pragtig en rustig en dit wil wil somer word alhoewel die lente nog sukkel om kop uit te steek. 
Nog een wat besig is om ander toe te spreek.  Die voels weet defnitief iets wat ons nie weet nie.  Ons luister maar en los hulle uit om die vis te gaan eet waarvoor ons gekom het.

Soo lekker om Struisbaai te geniet voordat dit somer en vol van toeriste is.  

Ons gaan draai 'n entjie verder waar die water meer stormagtig by Kaap Agulhas en die skeepswrak van die Meisha Mari wat in 1982 gestrand het.  Wonder of hulle nie die vuurtoring se lig raakgesien het nie en wat die rede vir die stranding was.

Die Here is my lig en my heil;  vir wie sou ek vrees?
Die Here is die toevlug van my lewe:  vir wie sou ek vervaard wees?
(Psalm 27:1)

Mooi dag vir jou, ek praat weer

Sandra



Monday, October 10

Laaste stasie op die roete (3)

Wanneer mens in die omgewing van Riviersonderend ry, is daar 'n paar bordjies wat Protem toe wys en ek was nogal nuuskierig om te sien hoe die dorpie lyk.  Die eerste keer wat ek van die dorpie lees is van die skool wat reeds in 1916 daar begin is, toe 'n mnr B Human 'n stukkie van sy grond afgebaken het en 'n skool en ablusie geriewe daarop gebou het.  
Baie van die omgewing se kinders het hier skoolgegaan voordat die skool in Riviersonderend begin is.  Gedurende 1915-1917 is die spoorlyn vanaf Klipdale gebou (soos vertel in vorige blog) en het die dorpie Protem as gevolg van die spoorverbinding ontwikkel.  
Graanprodukte, boerderybenodighede, lewende hawe en pos is per spoor vervoer en mettertyd het die dorpie ook sy eie poskantoor en handsentrale gehad.
Ek het ongelukkig nie 'n foto van die stasie kon neem nie, maar die spoorlyn is tot Protem aangele, met die doel om dit later tot by Swellendam te voltooi.  Omdat hierdie deel dan ook net "tydelik" was, het die stasie die naam Protem gekry, want "Pro" beteken tydelik.
Toe daar later besluit is om die spoorlyn te voltooi, was die spoorstawe te duur en die trein wat tot Swellendam moes loop te groot.  Die spoorstawe vanaf Klipdale tot Protem sou verwyder moes word want te stawe was te nou vir die groter treine.
Die gevolg was dat die spoorlyn nooit voltooi is nie, en vandag staan die woord Protem bekend as "tot hierso en nie verder nie".  Die trein vervoer nog steeds koring tussen Protem, Klipdale en Rietpoel.  

Die spoorlyn mag dalk doodgeloop het hier, maar die mooi is steeds daar en beslis 'n rit werd. 

"Alles het deur Hom tot stand gekom:  ja, nie
'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie"
(Johannes 1:3)

Hoop julle het die volg van die treinspoor saam met my geniet!

Tot 'n volgende keer

Sandra

 


Wednesday, September 28

Tussen stasies in die Overberg (2)

Ons doen nog die treinspoor roete net 'n klein entjie vanwaar ek bly.

Die bordjie wys name aan wat nie eers Google kan antwoord nie, alhoewel dit se die twee dorpies le teenaan mekaar.  Mens kan skaars die huise van Klipdaale sien, so waar begin en eindig Carolineville en wie was sy?

Hier op Klipdale, stop die trein om nog 'n paar trokke aan te haak.  Lyk nie asof iets die trein of werkers aanjaag nie, alles is rustig en behalwe vir die trein, raas die stilte. 

Ek dink dit was vroeer die stasiegebou en mens voel half hartseer oor hoe dit nou lyk.  Ek kan my net indink hoe dit in die beginjare gelyk het.

Net so langs die stasie is die ou huis, miskien die stasiemeester sin?  Dis net hier waar my kop weer die gedagte van 'n treinrit en piekniek optel en nog verder uitbrei.  Die ander kant van die huis wat op die spoorlyn uitkyk is bietjie toegegroei so mens kan nie foto's neem nie, maar ek sien 'n teetuin.  As die trein stop met sy "Overberg toeriste", kom hulle in die tuin sit en kan kies van koffie en tuisgebak, of selfs 'n tradisionele ete om die gevoel van die dorp en platteland te kry.  Sien jy dit saam met my?

'n Aktiewe skool wys dat daar nog jong mense in die dorp is en die dorp waardeur ons ry na die skool toe, is skoon en netjies.  Klipdale het ook baie baie jare terug een van die grootste plaasskole in die omgewing gehad.
En net omdat my teetuin nog nie daar is nie, moet ons by die winkel/poskantoor stop vir 'n drinkdingetjie en dan is dit verder na die volgende treinstasie ....

"Wees altyddeur bly.  Bid sonder ophou
Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God
in Christus Jesus oor julle
(1 Tessalonisensie 5:16-18)

 Lekker dag, ek praat weer

Sandra




Friday, September 23

Tussen stasies in die Overberg (1)

Tussen treine, tussen stasies
Le daar basies net die lee spore
Tussen treine, tussen stasies
Le die lee spasies van die onskuld nou verlore

Dan dink ek terug aan soveel dae, soveel stawe op die spoor
Ja, daar was voorheen 'n tyd van treine,
waar en wanneer het ons dit verloor?

Onthou jy daardie liedjie van Richard van der Westhuizen?  Met 'n rit deur die omgewing draai daai liedjie nogal in my kop.  Ons stop by die stasie wat duidelik nie meer is nie en die mooi van ou murasies trek my aandag.  
Die spoorlyn vorm deel van die Overberg lyn wat graan vervoer.  Konstruksie begin reeds in 1914 en in Januarie 1914 kom dit tot by Rietpoel, April tot by Klipdale en Protem in Junie van dieselfde jaar. Met die aanle van die spoorlyn word 'n groot probleem om die graan te vervoer opgelos en help dit om die area een van ons grootste koringproduksie gebiede te maak.  


Groot was die blydskap toe die trein ons waarsku, die lyn word nog gebruik.  

Dis so 'n mooi wereld, mens wil eintlik se, haak 'n passasiers wa aan, verkoop kaartjies en laat ander dit ook sien en selfs kom piekniek hou by die eindpunt - of soos later 'n ander idee ....

Ons ry verby pragtige plase met die mooiste groen, perde met vulletjies, skape met lammetjies, verskeidenheid voel en ou gebou wat 'n storie of twee kan vertel.  Volgende stop Klipdale ...

"U sorg vir die land en gee oorvloed,
U maak dit baie vrugbaar.
Die groot riviere is vol water, U laat die koring welig staan ...
U laat alles wwelig groei
(Psalm 65:10-11)

Praat later so tussen die loadshedding weer
Mooi dag

Sandra