Ons roete vat ons nou deur die binneland na die Highlands toe en nog steeds wil die weer nie heeltemal saamspeel nie. Vir die tweede keer ry ons oor die Fort Rail bridge en nog steeds kry ek dit nie in sonskyn weer afgeneem nie. Die roete vat ons deur die mooiste omgewing en mens kan nie genoeg kry van die bome en mere nie.
Ons ry deur die Perth omgewing verby dorpies soos Crieff en St. Fillans waar ons stop vir iets warms. Dan is dit op in die Hoogland deur Glen Coe, Onich voor ons ons bestemming Fort William bereik. Dis regtig ‘n pragtige klein vakansiedorp wat so onder die Ben Nevis berge sit aan die eenkant en ‘n groot meer aan die ander kant. Die berge het terloops nog sneeu op!
Ons loer ook vinnig na die ferry wat vandaar na die ander kant vaar en vang dit tydens spitstyd. Elke dag “leer” ons iets en vandag kan ek net se dat “miemie” se oe nie meer so goed lees nie :-).
Die blyplek is reg langs die kanaal waar die bote deurvaar en naby baie van die bekende besienswaardighede. Die volgende dag vroeg gaan soek ons die monster van Loch Ness en by die beginpunt verkyk ons onself aan die grootte (dis 27 myl lank) g’n wonder die monster kan homself so wegsteek nie. Natuurlik het ek en Charmaine ook ons teorie oor wat van die monster geword het.
Langs die pad nog een van die mooi kastele, die Urquhart kasteel wat so teen die meer sit.
En dan aan die einde kry Miemie, Sandy en Ann die monster en hulle staan baie dapper vir ‘n foto – die ander mense dink ons is koekoes. Ek lees ook dat die skotte se die beste manier om die monster te sien is om genoeg whiskey te drink, want dan sien jy hom maklik. Duidelik was ons hot chocholate nie sterk genoeg vir die oe nie.
Ons ry verder na die dorp van Inverness. Hulle se alle paaie in die hoogland lei na Inveness wat die omgewing se “hoofstad” is. Die rivier Ness vloei deur die dorpie en dis prentjie mooi.
Ons loop deur die strate en neem honderde foto’s en kry ook ‘n kans om deur een van hulle “malls” te loop. Sussie die grootste Monsoon wat jy al in jou lewe gesien het staan reg in die middel van die sentrum. (Het ongelukkig nie iets gekoop nie maar gedink aan jou en dis mos die gedagte wat tel of hoe).
Die pad terug vat ons oor berge en dale en die Eilean Donan kasteel op die Duich meer wat ek so deur die venster afneem is ‘n goeie en gepaste afsluiting vir die dag.