Thursday, May 21

Vrede vir die siel

Ons volgende roete word beplan rondom ‘n besoek aan die Holy Island. Omdat die see gety ‘n rol speel in die tye wanneer mens op en af van die eiland kan kom, maak ons eers ‘n draai by ‘n klein dorpie met die naam van Haddington.

Page3

Dis vroeg oggend en die dorpie is doodstil en so rustig dat ons nie regtig wil verder nie. Ons wil gou-gou hulle publieke toilet besoek wat mens seker kan se is by die “kerkplein” en die omies wat aan die straat werk – die straat terloops is nog met die ou hobbeltjies soos daar by Markplein in Kaapstad se die dorpie gaan eers vanaf 9 uur toilet toe. Later voor ons vertrek gaan ons gou en was dit nou ‘n belewenis!!

Page4

Ek moes eintlik met my kamera gaan want die toilet het nog elke jaar vanaf 1995 die “loo of the year award” gekry :-). Dis silwerskoon en al die sertifikate hang die toilette vol en ons spandeer ‘n lang tyd om die toekennings te lees. Intussen kom ‘n ou tannie en vra omverskoning dat die toilette nie voor 9 oop was nie. Hier is ons net ‘n paar minute in die dorp en almal wat leef en beef weet van ons. Hierdie dorpie is verskeie kere tydens die “War of Independence” vernietig en weer opgebou.

Page5

Die Tyne rivier omring met die lieflikste parke omring die dorpie en ons kan net nie genoeg van dit kry nie. Die mense vertel graag van hulle dorpie en die “nuus van die dorpie” is op die oomblik die swaan wat ‘n nes het en almal kom kyk elke oggend hoe dit met haar gaan. Die klein kerkie dateer ook vanaf 1462 wat gedeeltelik oorgebou is na ‘n aanval in 1548 …. jinne dis oud.

Page6

Maar mens voel ‘n rustigheid hier wat ons nog nie by enige van die ander dorpe gevoel het nie en dis ‘n goeie begin vir die dag.

Page7

Ons volgende stop is die kusdorpie van North Berwick waar mens nog die “oud” voel reg langs die see.

Page8

Berwick-Upon-Tweed kan mens beskryf as die “brue-stad” want daar oor dieselfe rivier kry mens brue van oud tot moderne wat jou oor die rivier vat. Ons bestemming van die dag … die Holy Island.

Page9

In 625 het Paulinus na die Northumbria omgewing gekom en duisend Christene gedoop. Met die kroning van koning Oswald het hy gevra dat daar ‘n monnik na die area gestuur word en so maak Aidan in 635 sy opwagting. Hy is later die Biskop van Lindisfarne gemaak en het ‘n “monastery” hier begin - ‘n plek waar mens kon kom bid en leer. Die gety is laag en ons saam met honderde ander stroom op die eiland af met net 5 uur om alles te sien voordat die gety terugkom.

Page10

Die kasteel het sy ontstaan aan ‘n “wet” van destyds dat alle “havens” beskerm moet word teen die Skotte. Die blokhuis is rondom 1548 gebou en gedien as blyplek vir soldate.

Page11

Gedurende 1944 is dit deur sy toe eienaars, ‘n broer en suster de Stein aan die Nasionale Trust gegee. Ons beloer en bekyk dit omtrent van alle kante.

Page12

Die oorblyfsels van die Norman kerk is besonders om te sien en mens kan nie die strome mense daar glo nie.

Page13

Daar is ook ‘n standbeeld van St. Aidan wat die eerste monastery of die eiland begin het In sy hand hou hy dan ook ‘n fakkel (vlam) wat die uitdra van die Chistendom simboliseer.

Page14

Ons besoek ook die klein kerkie wat tussen 1120 en 1145 gebou is. Dit is rondom 1860 weer gerestoreer en ook gedurende die 70tigs. Die besonderse glasvenster van St. Aidan is ter nagedagtenis aan die familie wat voor 1944 eienaars van die eiland was.

Tuesday, May 19

Op soek na kastele

Met die opstel van die “voorlopige” beplanning was Charmaine se insette net …. ek wil kastele sien,. Ons eerste stop dus ‘n kasteel vir haar.

Page2

In die dorpie Aberdour is daar die pragtige oorblyfsels van die Aberdour kasteel. Regs in die hoek is die toringhuis wat die oudste deel van die kasteel is. Met die jare is daar elke keer deur die nuwe “eienaar” dele aangebou.

Page3

Die tuine is pragtig uitgele en volgens oorlewing in 1540 begin. Die tuine is weer her-ontdek in die 1970’s.

Page5

Na die wonderlike besoek ry ons ‘n eintjie verder deur dorpies met die name van Kirkcaldy, Elie en St Monans.

Page6

Wat vir my nogal snaaks is, is die watervlakke tydens laagwater. Die bote is behoorlik gestrand op droe grond waar die wind hulle kan omwaai.

Page7

By Anstruther stop ons vir middagete waar mens blykbaar die lekkerste “fish & chips” in die hele Skotland of Engeland kan kry en nadat ons die winkeltjie opgespoor het, kry ons so koud dat ons liewers aartappelsop en heerlike warm brood eet. Page8Seuns julle sal glad nie in Skotland kan bly nie want die deure is almal sulke klein deurtjies en daar sal heeltyd koppe gestamp word. Kyk selfs Charmaine is langer as die deur alhoewel ek vermoed Elriza en Leane behoort loshande daar te kan loop.

Page9

Ons draai om by St Andrews en toe sous dit soos julle op die foto by die Fort Rail Bridge kom. Hierdie brug is naby ‘n pragtige dorpie Queensferry. Dit is 1.5 km lank en was die eerste groot staal brug ter wereld wat in 1890 geopen het. En spesiaal vir jou maat … hulle het 8 miljoen “rivets” gebruik om dit te bou :-).

‘n Suksesvolle dag waar ons baie gesien het en dit word afgesluit met ‘n bord tradisionele Skotse kos.

Saturday, May 16

Oud en koud

Dis nou die ou hoofstadjie van Skotland ... mistroostig. En natuurlik het Charmaine wat so lief is vir die koue besluit hierdie "somerweer" moet 'n ander naam kry en die mense weet nie wat somer is nie en nog klomp ander goed.



Page2

Ons bly lekker in ons blou deur plekkie wat mens met sulke smal trappies tot op die tweede verdieping vat (dit help om die shopping min te hou want daar is nie hysbakke nie). Die tuine aan die agterkant is verskriklik mooi en groen (middelste foto) en die kombuis het selfs 'n kaggel of gakkel (soos James sou se) in. Ons besluit om in die "beter" weer die Edinburgh kasteel te gaan besoek.

Page4

Die pad na die kasteel is styl maar baie mooi en ons stap ook verby waar hulle besig is om reg te kry vir die Taptoo later die maand. DIe kasteel is 134 m bo seevlak en ons voel dit beslis. Die indrukwekkende hek/nuwe ingang is eers in 1888 gebou. Mense as jy binne is, waai die wind 'n hond uit 'n bos en dis in "miemie" se woorde, bloedig koud. Baie van ons tyd word dus binne die museums by die kasteel deurgebring om uit die koue te bly.

Page7

Een van hulle is die Skotse nasionale oorlogmuseum waar ons ongelukkig nie binne kan foto's neem nie. Daar is boeke en boeke vol name van mense wat gedurende verskillende oorloe dood is en dit sal mens 'n heeldag neem om vir 'n nasaat se naam te soek. In die regtehoek is die begrafplaas van die honde wat "in diens" doodgemaak is.
4e
Hier is die museum van die anderkant. Dis baie mooi.
Page6
Met die reen dra ons sulke geel plastieksakke om droog te bly en as die wind waai flap-flap ons met die sakke wat waai. Hier neem Annie en Charmaine 'n ruskansie om foto's te neem.
Page5
Die kerk is oppad kasteel toe en die venster en beeld is in die museum.
Page4_0
Die pad terug is koud maar mooi en ons kry kans om by 'n gevriesde doedelsakspeler foto's te neem en by een van die nou gangetjies 'n koffiewinkel te besoek met heerlike skons.
Page5_0
Die uitsig van verskeie kante van bo op die kasteel geneem. Met die weer kan mens nie ver sien nie ... maar dit lyk koud ne?!

Page8

In opdrag van James word daar na 'n skotse rokkie vir hom gesoek en ons besoek een van die plekke waar die materiaal en die klere gemaak word. Dis vreeslik interessant hoe die patroon met die verskillende clan kleure geweef word.
Page7_0
Ek verstom my oor die pryse van hierdie goed en wat mens alles nodig het om die uitrusting "volledig" te maak. 'n Suksesvolle dag agter die rug waar ons baie gesien het.

Friday, May 15

Tussen stasies en lande

Eindelik begin die toer, sommer met die aankoms by die lughawe. Abu Dhabi lughawe se nuwe terminaal vir sy plaaslike lugredery Ethiad is oop en staan geen tree terug vir die fancy een in Dubai nie.

Page1

Ons kry lekker sitplekke met meer as genoeg beenspasie – elkeen het so sy eie hokkie waar niks en niemand hom/haar kan pla nie en natuurlik slaan die stoel af in ‘n bed. Charmaine lyk asof sy in’n hospitaal bed le – maar hier het sy al haar bed bietjie opgelig. Gou-gou is sy ook ‘n “lug-shopper” (julle weet mos :-)) en word daar gekyk na oorbelle ens. Ons kan kies van verskeie ontbyte en die kontinentale een is al klaar meer as genoeg. Baie plus punte vir die redery want ons kan tee tot dit uit ons ore kom drink uit lekker groot bekers. Na ‘n ruskansie moet ons natuurlik daai high-tea wat ons nog moet drink sommer in die lug drink met heerlike broodjies en skons.

Page1_0

Ons eerste hobbeltjie is veronderstel om die openbare vervoer na dit hotel te wees, maar dit verloop sonder enige moeite (sterretjie vir onsself). Die hotel waar ons oorslaap is 5 min se stap van die dorpie Heathrow wat baie klein, maar GROEN is. Julle moet weet komende hier van die woestyn is sulke weer en soveel “koel” groen iets wat ons baie dankbaar voor is. Reg oorkant die hotel (regterhoek van foto) is die Sam Philips Woodlands wat in 2001 deur die gemeenskap aangeplant is en ons geniet dit om daar te stap. Vars van die reeks “Inspector Morse” sien ons ‘n klomp polisiemanne daar en besluit om nie heeltemal in te loop nie.

Page1

Die oggend wat ons Annie in ‘n plekkie met die naam van Watford moet ontmoet begin reeds 06:00 en dis iets wat ons na opsien want ons moet 5 keer van treine wissel na plekke waarvan ons niks weet nie. Die Engelse is nou nie juis hulpvaardig of vriendelik nie en mens kan behoorlik nie jou gedagte wissel as jy eers in ‘n rigting begin stap nie. Maar ons is oulik (nog ‘n sterretjie) en 2 en ‘n half uur later kry ons vir Annie en die toer kan amptelik begin. Ook nie lank voor ons eerste “pub” stop vir koffie en ander dinge nie.

Page2

Nadat ons eers van die snelweg afklim begin die “toer” vir my want ons ontdek die mooiste klein dorpies en alles is sooo groen. Na een so ‘n verkeerde afdraai kom die dorpie Haydon Bridge waar mens net nie genoeg foto’s kan neem nie. Die dorpie is blykbaar ook bekend vir sy spa – maar daarvoor het ons nie tyd nie.

Page3

Dan die agterpaadjies opsoek na die Hadrian wall. Die muur was gebou in opdrag van die “Emperor” Hadrian na sy besoek aan Brittanje 122vC en strek vanaf die eenkant van die land na die ander kant (80 Romeinse myle of 120 km). Dele daarvan is toegegroei en van die muur is ook met die jare afgebreek en die klippe gebruik vir iets anders. Ons is baie gelukkig om nog ‘n paar dele te sien.

Page4

En na klompe ure op die pad bereik ons die grens tussen Engeland en Skotland. Soos julle op die foto’s sal sien staan ons drie redelik regop in Engeland maar die wind is ernstig sterk in Skotland. Kyk net hoe staan Miemie se ore na die wind haar beetgehad het (dis die een sonder die bril)!

Page5

Die omgewing verander en ook so die boustyle en ons volgende groot stop is Jedburgh. Daar verkyk ons ons na die Jedburgh Abbey wat in 1138 gebou is en waar die Augustinian monnike gebly het.

Page6

Die Kelso Abbey is in 1128 gebou en het 84 jaar gevat om te bou. Daar is ook die pragtigste kerk. ‘n Heerlike staproete rondom die plekke met bankies om op te sit. Beslis ‘n dorpie wat mens kan besoek en om te kom kyk hoe alles na die restorasie waarmee hulle besig is lyk.

Page7

Sestien uur later vir my en Charmaine kom ons lekker moeg by ons blyplek in Edinburgh aan wat ons vreeslik gesoek het. Moes naderhand by ‘n taxi gaan raad vra. Kyk hoe hou Charmaine “kop” terwyl hy verduidelik. Die enigste wegneemplek verkoop sulke lekker vetterige kos en ek eet my eerste Skotse kaasburger – sonder brood – twee patties met kas tussen-in gebak in’n dodelike deegie. Kinders ek drink Irn Bru wat soos yster proe! Ons was doodmoeg maar more le daar weer ‘n vol dag voor.

Wednesday, May 13

Die toer begin

Net so ‘n kort tydjie terug was plekke soos Inverness, Isle of Skye, Invergary, Roslin, Holy Island, Keswick, Berwick ens. vir my baie onbekend. Ja, die prentjies het ek al iewers in ‘n boek gesien, maar nie eers twee keer na die dorpe gekyk nie. En nou, danksy Annie se inisiatief is ek/ons ‘n paar daggies weg om die plekke self te sien. Die volgende paar dae sal ek, Annie en Charmaine in Engeland, Skotland en Ierland rondry, kyk, ervaar, inneem en foto’s neem.

Natuurlik gaan hulle nie heeltyd genee wees met my wat alles afneem nie, daarom het ons gereel vir “dubbels” wat sal instaan wanneer ons dit nie self kan en wil doen nie. Laat ek julle voorstel:

P1100956

Sandy die Siamese Kat wat vir wie anders as myself sal instaan.

P1100959 P1100958

Ann die NZ-skapie wat vir Annie sal instaan en Miemie die chihauhau vir Charmaine.

P1100961

So daai twee eilandjies, ek hoop julle is reg vir die DDTT-toer want ons drie is reg vir julle!

etihad

Annie ons is oppad, sien jou amper! En die van julle wat saam wil toer, hier’s baie plek op die blog kom saam.