Showing posts with label Corinne. Show all posts
Showing posts with label Corinne. Show all posts

Wednesday, February 6

Wanneer kan dapper dom wees?

Soos belowe 'n bietjie meer van die pretpark by Global Village. Daar is nogal iets van alles om op te ry, stadig, vinnig, rustig, waaghalsig en waansin. Ek het nie eers probeer kyk waarop ek sal en wil ry nie, het sommer besluit niemand kry my op enigiets nie
Aan die ander kant het ons Corinne en Charmaine. Hier staan die twee hulle opsies en oorweeg .. en baie gou is beide omgepraat om op die eerste en beste rit te gaan. Laat ek julle maar vertel dat ek dit nie eers sal oorweeg nie. Julle sal my baie dirhams moet betaal ...
Kyk net hoe braaf lyk partymense .... terwyl ander die tokens tel net om seker te maak sy het wel hierdie mal perd opgesaal en daarvoor betaal!
Vol glimlagte sit hulle en wag vir die stoele om "toe te maak" Hulle is die enigste wat sover moed het, so hulle wag so bietjie om te sien of ander ook sal opdaag.
Vasgemaak en ek dink 'n bietjie benoud nou. Niemand anders het opgedaag nie, so hulle het die hele rit vir hulle self. Ek wonder of hulle die besluit heroorweeg ....
En dis die goed wat hulle aangedurf het, ek kan nie eers die naam onthou nie, maar die rit is woelig hoor!
Die video wil nie aflaai nie (iewers is daar mos 'n kabel stukkend in die see en die water te stormagtig om dit reg te maak - so kom loer weer binne 'n dag of so na die video julle moet dit hoor.

Kliek op die pyltjie en sit julle klank lekker hard...daai gille (geraas) kan net van twee persone afkom want hulle is al ouens op die rit.

Na die rit en glo my daai is nie brawe gesigte nie, dis verligting...

Kliek en luister na die onderhoud ... Ai dat mens dit aan jouself kan doen.

Monday, February 4

Altyd iets nuuts

Maak nie saak hoe lank jy in die UAE bly nie, daar is altyd iets nuuts te sien. Vir 'n paar jaar al hoor ek net van die Global Village wanneer die kinders soontoe gaan op 'n skoolbesoek. Dis iets wat jy jou besoekers moet wys hoor ek, en besluit om eers self te gaan kyk om dit regtig so besonders is. Corinne wat al 'n paar maande in Abu Dhabi bly was nog nooit in Dubai nie en ons nooi haar saam, min wetend dat in haar Charmaine 'n proe enigiets en durf enigiets aan vriendin kry. Nelmari en ek is bietjie meer versigtig.

Global Village het in 1996 langs die Dubai Creek begin en daardie jaar het 500,000 die plek besoek. Die jaar daarna het 900,000 na 18 lande se uitstallings gaan kyk en so het dit elke jaar net meer en meer geword. In 2005 word alle vorige rekords gebreek met 5.2 miljoen besoekers daardie jaar en 38 lande wat deelneem (nog steeds is ek nie een van hulle nie). In 2005 trek hulle ook na die huidige perseel toe en nou is daar al 40 lande wat deelneem. Eintlik in 2008 gaan ek deel uitmaak van die statistieke vir die jaar! Hier wag ons vir die hekke om oop te maak. Julle kan sien dis heerlik koel en Nelmari, Corinne en Charmaine is warm aangetrek.

Die brosjure sê "a shopaholic's delight" met al die handwerk van reg oor die wêreld wat uitgestal en verkoop word. Dis die lekker van die plek ... dat mens al die lande kan besoek, daar kan koop sonder om op die vliegtuig te klim. Sommer gou is die meisies geinteresseerd in die lappe

As ek die helfde van die foto's kon opsit waar diè twee kosse en lekkernye geproe het, kon ek klompe bloks skryf. Hier kan hulle nie verby die dadels van Saudi loop nie.
Ek weet nie watter land dit is nie, maar selfs vir my wat al heel kaneel in hierdie dorp gesoek het, is dit 'n bietjie "te" groot. Mens sal baie pampoen nodig hê.
Hulle kan ook nie by die heuning verbystap nie en koop 'n botteltjie. Dis koningsbye hierdie en alhoewel dit heerlike heuning is, kos dit klomp.
Al probeer Nelmari 'n baie vroom gesig opsit, steek sy gou aan met die proe. Wat het jy daar?
Dit is "spookasem" soos ons dit nie ken nie. Dis touerig en lyk soos barbie pop hare, maar dis lekker en nie so soet soos dit waaraan ons gewoond is nie.
Ernstig word daar na die stalletjies gekyk terwyl daar "mielies" geeet word. Daarna was dit nog klapper, stokkies snaakse goed, ens. ens. ens.

Die stalletjies (of paviljoene) wat daar vanjaar is, is (*wat ons besoek het): Afghanistan*, Noord-Afrika*, Bahrain*, Pakistan*, China*, Palestyn*, Czeh republiek, Phillipines, Egipte*. Qatar*, Oos- en Wes Afrika*, Rwanda, Europa*, Saudi*, Oos Asie, Senegal, India*, Sri Lanka, Iran, Syria*, Indonesia en Loas*, Thailand, Jordania,
Turkeye*, Kuwait*, UAE*, Lebanon, Vietnam, Morocco*, Yemen en Nepal*. Die donker vang ons voor ons alles kon sien ... dis nog ver Abu Dhabi toe, maar ons sal weer kom.

Wat ek nog nie genoem het nie, is dat daar 'n pretpark ook is. Hier is Nelmari, Charmaine en Corinne op die "Big Wheel". Maar daar was ook ander aksie .... en daarvan vertel ek julle more! (Moet net eers versekering uitneem ..... ek gaan bietjie foto's en video wys)