So stadig maar seker is ons besig om 'n gat in die sand te grawe en ek sien dat die miere by ons self met 4x4's beweeg sodat hulle orals kan bykom. Nog bokse om uit te pak en dinge om reg te skuif en op te hang, maar ons begin so stadigaan aan ons nuwe plekkie gewoond raak.
Tussen-in het Nelmari ook nog 'n ISAC basketbal toernooi gehad en gelukkig het die ander lande hierdie keer Abu Dhabi toe gekom en het hulle nie nodig gehad om te reis nie. Die toernooi is dan altyd ook die "toets" oor hoe goed of sleg die span regtig is.

Ons dogters het my regtig verras en elke wedstryd of hulle gespeel het of gerus het, is met groot ywer en vreugde aangepak. Aan die einde van die eerste twee dae was ons dogters onoorwonne en ook eerste gekeur vir die halfeindstryd wat sou kom en wat hulle ook gewen het.

Dan was dit tyd vir die finaal teen 'n span van Egipte en ons meisies was omtrent opgevuur en reg vir die wedstryd - maar so ook Egipte. Dit was so 'n naelskou eindstryde dat die mammaratzi skaars die kamera kon vashou om foto's te neem :-) - te bang ek mis 'n punt.

Maar ons dogters verwerk die druk goed en wen op die einde met 10 punte! 'n Toe kon die mammaratzi foto's neem en die span wil nie wegloop voor die kamera nie. Hulle was soooo bly!

Hier sit en wag hulle tydens die prysuitdeling vir hulle trofee.

Die trotse span en die afsluiting van 'n uitstekende suksesvolle seisoen. Al die werk was nie verniet nie!

Een ding wat ek van hierdie span moet se, en die ander spanne het daaroor opmerkings gemaak ook - wanneer hulle gespeel het, was hulle doodernstig, maar as die wedstryd klaar is, was hulle vol glimlaggies en vriendelik met almal.

Die einde van die basketbal seisoen bring ook 'n einde van 'n "span-tradisie". Vandat James in die Varsity span gespeel het 8 jaar terug was daar elke jaar drie families in die span, die tradisie is voortgedra toe William gespeel het en nou ook Nelmari. Twee van die families is vanjaar klaar met skool en net Nelmari bly oor. Ek weet julle kan nie Afrikaans lees nie, maar aan die Baltaji en Shafei mammas wat 8 jaar saam met my op die paviljoen gesit het, dit was lekker en ek gaan julle volgende jaar baie mis.
Geniet julle naweek
Liefde
