As daar nou een plek is wat ek al soveel kere oor geblog het, is dit die Groot Moskee hier in Abu Dhabi. Die van julle wat dit al gesien het, sal weet dis net iets wat mens nooit genoeg kan wys of oor vertel nie. Dis ongelooflik mooi en baie oorweldigend. Ek het net mooi honderde foto's van die plek en elke keer as ek besoekers soontoe neem, neem ek net nog en nog ... die plek vra daarvoor. En dis altyd lekker om iemand vir die eerste keer te gaan wys. So skuus as julle die prentjies reeds gesien het, maar hierdie is spesiaal vir Rienie en Ina wat ek vandag bietjie rondgewys het. (Vir meer foto's kan julle op die label onder kliek).
Natuurlik is daar duidelike voorskrifte oor wat en hoe jy geklee mag wees. By die ingang kry al die vroue sulke batman-pakkies om aan te trek en word daar oor en weer foto's geneem. Gelukkig is dit herfs en die temperatuur lae 30tigs want swart trek mos die hitte aan.
Die moskee was die droomkind van die vorige present en Sheikh. Hy wou he die moskee moes ook oa 'n skakel tussen al die nasionaliteite wees en iets unieks aan Abu Dhabi. Daarom staan dit presies in die middel van die twee brue waar mens die eiland binnekom. Dit is dan ook die eerste "gebou" wat mens sien as jy die dorp inkom.
Daar word vertel dat hy baie gereeld die bou projek besoek het, om te kom kyk of dit is wat hy gevra het. Een van die redes hoekom dit so lank gevat het om te bou, is blykbaar weens die sheikh wat partykeer nie tevrede was nie en dan moes hulle alles oordoen.
Verskeie lande se materiale is gebruik om die indrukwekkende moskee te bou oa Turkey, Italie, Duitsland, Morokko, China, Griekeland, Iran en natuurlik die UAE. Vier van hierdie "minarets" staan op elke hoek van die moskee en is 107 meter hoog.
Rienie kyk na van die marmer patrone op een van die mure in die portaal.
Een van sewe indrukwekkende kandelare wat in die moskee hang. Hierdie is die kleinste van die klomp en vir my die mooiste. Die kandelare kom almal uit Duitsland uit.
Die hoogingang wat yslik groot is!
Die vroue se gebedsaal. As julle mooi kyk sal julle sien die patroon op die dag, is presies dieselfde as die patroon op die mat - wat terloops een soliede mat is.
Een van die vensters wat op die groot moskee plein uitkyk.
Die houtdeur met blomme uit mother of pearl.
Die binnekant van een van die kleiner koepels met 'n kandelaar. Daar is 80 koepels by die moskee wat alles aan die buitekant van marmer gemaak is.
In die binnekant van die hoofsaal van die moskee is daar 96 pilare en aan die buitekant 1096!! Hierdie pilare dien ook as aircons - julle kan dit tussen elke vier pilare sien. Elke pilaar is ook met versierings van mother of pearl gemaak.
En dan die grootste kandelaar ter wereld. Hierdie indrukwekkende kandelaar wat lyk asof daar jellie tots aan hom hang weeg tussen 8 - 9 ton en is 15 meter in hoogte en 10 meter in breedte. Swarovski kristal en goud is gebruik vir die kandelare wat in Duitsland gemaak is.
Die voorkant van die saal waar die imran die "preke" lewer. Teen die muur is hulle profeet se 99 verskillende name in goud geskryf.
'n Mens voel baie klein in die groot saal. Die mat wat die grootste mat ter wereld is, was handgeweef in Iran. Omdat dit so swaar is (ek dink hulle het gepraat van 40 ton), is dit in dele opgesny en UAE toe gevlieg (in 'n paar vliegtuie). Die vroue wat aan die mat gewerk het, het saamgekom om die mat weer aan mekaar te werk sodat niemand kan sien dit was opgesny nie.
Ina hang aan die toergids se lippe om te hoor wat hy vertel en om hom natuurlik met 'n klomp vrae te peper.
Na die deurstap is dit skoene soek tyd. Die moskee kan as hy vol is 40 000 mense vat. As julle die lyne op die marmer kan sien ... dit vorm die lyne waar die bidders skouer-aan-skouer staan. Die gids het vandag vertel die rede hoekom vrouens nie saam met die mans bid nie, is as 'n mooi vrou met haar skouer teen joune staan, kan dit jou aandag aflei van die erns van die gebed :-) en daarom bid hulle apart.
Ek moes hulle natuurlik ook gou die badkamers gaan wys wat die mooiste mosaik prente en marmer bankies en wasbakke het.
Die sheikh se graf waarvan mens nie mag foto's neem nie staan aan die noordekant van die moskee en daar is 24/7 'n gebed wat daar speel. Die tuine word ook nou uitgele en as een van julle kom kuier en ek moet julle die plek gaan wys kan ek sommer die nuwe tuine sien. Reg op die voorgrond is een van die "lakes" wat hulle bou. Altesaam sal die water features reg rondom die moskee 7874 vierkante meter wees en se hulle dis ook om die moskee te reflekteer in die water.
Na die moskee besoek is ons ernstig dors en gaan gou tee drink in die toring by Marina Mall. Hier gaan ons met die hysbak boontoe.
Ons uitsig terwyl ons teedrink. Dis 'n pragtige dag!
Abu Dhabi skyline met die grootste vlagpaal ter wereld op die voorgrond.
Van die nuwe villas wat by die mall teenaan die see gebou is. Kyk net hulle ou klein bootjies :-)
Was lekker om saam met julle te kuier. Geniet die res van julle daggies en die kleinkinders.
11 comments:
Ai, ai, ai. Ek is sprakeloos. Regtig. Die Arabs beindruk my al hoe meer en meer. Ek kan verstaan hoekom jy net wil foto's neem daar, Sandra. Sjoe. Dis ongelooflik.
Hi jy
Dink jy ons sal in daardie toring op kan gaan op die aand van die vuurvertoning? Dink net wat n mooi view mens oor die hele Abu Dhabi gaan he !!!!!
Ja ek stem die moskee is stunning en die tee drink lyk baie lekker maaaaar ek het die hoogtevrees probleem :-)
Heleen
Dit is ongelooflik mooi Vlam mens word half oorweldig.
Hoe laat word die vertoning gehou Heleen? Dalkies kan mens plek bespreek as mens 'n tyd het. Dit het nie so 'n groot effek of iemand met hoogtevrees nie, jy sal sien :-)
Dis ongelooflik mooi! Ek sal myself heeltemal verloor sover as foto's neem aangaan.
Dit is seker een van die mooiste(en witste) moskees in die wereld!
Renier, Monique en vriende was ook so 'n naweek of 2 terug daar en ook by die Marina Mall. Lyk my dit is 2 van die 'moet-sien' plekke in Abu Dhabi!
En Sandra, ons kan die sheikh se tuine by sy graf gaan kyk wanneer ek kom kuier ;-)
Jy neem pragtige foto's Kaalvoet, ek's seker jy al jouself heeltemal daar kan verloor!
Ja dis 'n baie gewilde om te sien Ronelle en ek's bly jou kinders geniet Abu Dhabi - dis baie mooier as Dubai :-)! En dis 'n deal van die tuine as jy kom kuier. Moet nou net nie so lank vat dat die tuine oorgroei nie.
Jy kan weer en weer oor die plek blog Sandra! Ek sal nooit moeg word om na die foto's te kyk nie. Ek kan jou goed glo as jy sĂȘ mens voel oorweldig. Wow en wat 'n stunning uitsig oor Abu Dhabi!
Dit is omtrent iets om te sien,so baie detail en werk en moeite het daar sekerlik ingegaan!
Dis lug en weer is mooi helder en oop deesdae in die dorp met "winter" wat aangebreek het Thea.
Verskriklike detail Sonja en baie geld.
baie mooi. Is jy seker Ina het nie so naby die gids gestaan omdat hy so lekker ruik nie? ;) Dit was baie opvallend toe ek in die UAE was dat die mans hou van parfuum.
Dis waar eilandkind, die manne hou van hulle parfuum en daar is altyd so 'n "walm" rondom hulle :-)
Post a Comment