Tuesday, November 10

Die pypskoonmakers dief ….

Ek het julle mos al vertel van ons gemmer straat kat/kangeroe en hoeveel ure se pret hierdie opregte gemmer ons gee. Sy het baie geite en goetertjies van mal wees oor water, al haar spesiale en kosbare goedjies bere in haar kosbakkie ens. ens. As sy slaap slaap sy die slaap van 'n dooie en mens kry haar nie wakker nie, maar dan as sy opstaan is dit speeltyd of jy wil of nie. Sy kies haar speelding en bring dit dat ons kan fetch speel.

Page1

Sy haat dit om te spring na goed toe en al die speelgoed word so gou was moontlik stukkend gebyt - sy byt die toutjie of rekkie of stokkie af. Maar wanneer sy spring is dit hoog en bly sy dan sommer in die "mens" posisie totdat sy klaar gespeek het. Maar haar gunsteling van alle gunstelinge is ounooi se studeerkamer met al die kinderbediening goeters in.


Page3

Sy speel met die handpoppe en soft toys en lief om die boeke van die rak te stamp, maar die een ding wat sy oor mal is, is die pypskoonmakers (die kinders gebruik dit vir armpies en beentjies as hulle mannetjies maak). Sy het vroeg vroeg reeds die sakkkie ontdek en is altyd vinnig by om een uit die sakkie te haal. Daarmee word fetch gespeel en ons moet honderd keer die ding gooi dat sy dit kan terugbring.

Page2

Mens raak maar lekker moeg daarvoor en ek bere die sakkie in een van my klein laaitjies. Dawn weet presies in watter een en dan sal sy met haar pote deur die gaatjies werk en selfs haar tandjies daar indruk om een uit die sakkie in die laai te trek sodat ons kan speel - en moenie dink jy kan wegkom nie. Die rooi pypskoonmaker is so pas sommer bo op die sleutelbord gesit .... dis tyd vir fetch ounooi.

Ek weet mens raak woedend vir hulle soos daai ounooi in Angola, of mens bederf hulle tot in die afgrond soos die ounooi in Manasir, maar die feit is, mens kan half nie sonder hierdie dierekinders wees nie. Seker daarom dat al wat straatkat is haar kleintjies by ons voordeur kom aflaai en selfs twee dae terug 'n arme onversorgde hond ook sy pad hierheen gekry het.

Geniet julle troeteldiere !

13 comments:

Anonymous said...

Hiehiehie...

Hierdie ounooi in Angola wou nou die dag 'n hartroerende possie skryf oor die liewe brakkie...en die volgende dag moes ek die klein pes weer soos 'n mal ding rondjaag terwyl hy rubbish gaan aas het. Toe los ek dit eerder!

Dis waar wat jy se, Sandra. Nes kinders wissel mens se gevoel tussen liefde en irritasie. As hulle eers daar is, kan mens jou nie 'n lewe sonder hulle indink nie.

Sandra said...

Ons sal nog steeds van Zumie wil hoor Vlam - dis juis sy kwaaijongstreke wat snaaks is :-) - vir ons natuurlik nie vir jou nie.

eilandkind/islandchild said...

jou storie hier het my laat dink aan die een van my man. Hy het 'n kat gehad toe hy geseil het van Amerika af na die Kanariese eilande toe. Die kat het altyd saam met hom gestap wanneer hy van die boot af gegaan het om te gaan kos koop en so aan. Toe se 'n Portugese ou, wat saam met my man geseil het vir hom: "Orca is like the dog."
Wel lyk my Dawn "is like the dog"....

Sandra said...

Eilandkind ek het altyd gedink dis net die "Siamese" wat so slim is, maar ek sien nou dis "kat" wat slim is. Of jy nou van die straat of pedigree is. Ons Dawn waai haar stert net soos 'n hond as jy met haar praat - sy het lank ons brak Luie dopgehou. Ja like Orca, Dawn's a dog too!

Charmaine said...

Ek geniet die kat van jou so baie maat. Sy is regtig 'n spesiale unieke dierbare ding.

Thea said...

Ek is mal oor intelligente diere, hetsy dit nou 'n kat of 'n hond of 'n voël is. Dis vet pret om hulle dop te hou. Hiehiehie.. en hierdie gemmerkat van jou lyk vir my na so 'n "entertaining" enetjie!

Ons vorige bulterrier, Lucy, was mal oor om met 'n bal te speel. Rex, wat nou 5 maande oud is en yslik groot is, is weer mal oor water en karwassery op ons erf ontaard menigmaal in hengse pret. Hy spring selfs in die fontein as die fontein opgevul word, net sodat hy na die water kan hap wat uit die tuinslang kom!

Sandra said...

Mooier en slimmer as jou gemmer ne maat? :-)

Wat sal ons sonder hulle doen Thea. Mens kan mos nie kwaad bly as hulle so vol pret is nie.

Desire Fourie said...

Ag hete, die kat is nou regtig ougat ... en ook baie slim op die koop toe. Maar daardie kolletjies op haar pels is darem so baie na aan luiperd se kind s'n. Geniet haar.
Mooi bly.

Muriel said...

Ek het uiteindelik hier opgedaag ek is bly dit gaan goed. Jou kat is te cute Sandra.

Ek sal so stadig weer by almal se blogs probeer opvang :)

Mooi bly
x x

Sandra said...

Sy het die oulikste kolletjies Desire en strepies. Toe sy klein was was dit net kolletjies en later het dit "gegroei" in strepies. EK reken al die oorblywende kolletjies is om haar nog 'n klein katjie te hou - soveel so dat sy nog af en toe haar ounooi se duim nodig het om te slaap :-).

Sy is oulik ne Muriel. Welkom terug en ek hoop dit gaan sommer gou-gou beter met jou. Ons bid vir vinnige herstel.

nikita said...

Sjoe, dit voel asof ek 'n eeu terug hier was! Dis 'n pragtige kat! Waarom begin jy nie 'n blog vir haar nie! :) Zandie sal lekker by haar kom kuier - as haar ounooi net nie so besig was met die merk van kinders se GCSE-werk nie. Ek het middag afgekry vir merk - maar geslaap ! -verlore slaap ingehaal sodat ek weer vanaand kan merk :(
Dis 'n pragtige kat! Ek is 'n gro--ot katliefhebber. Ek dink daar is 'n Afrikaanse kinderboek met die titel: "Straatkat, straatkat, jy laat vir Anja nies"...so iets LOL!

Sandra said...

Sy is die mooiste straatkat Nikita en ons het al 'n blog oopgemaak vir die diere - moet nog net daarop begin skryf :-), tyd jy weet mos.

Ek ken nie daai boek nie, maar jy's die boffin op die kinderboekie, jy sal hom moet kry en ons vertel daarvan :-). Terloops ek geniet Koningskind - wanneer kom hoofstuk 4 :-)

nikita said...

hi Sandra, ek het nog net hierdie naweek oor, dan's ek ontslae van daardie merkwerk - Maandag wat kom is ons "deadline" en kan ek dan weer 'n normale lewe he, dan sal ek weer met hfst 4 aangaan :)