Ek het julle mos al vertel van ons gemmer straat kat/kangeroe en hoeveel ure se pret hierdie opregte gemmer ons gee. Sy het baie geite en goetertjies van mal wees oor water, al haar spesiale en kosbare goedjies bere in haar kosbakkie ens. ens. As sy slaap slaap sy die slaap van 'n dooie en mens kry haar nie wakker nie, maar dan as sy opstaan is dit speeltyd of jy wil of nie. Sy kies haar speelding en bring dit dat ons kan fetch speel.
Sy haat dit om te spring na goed toe en al die speelgoed word so gou was moontlik stukkend gebyt - sy byt die toutjie of rekkie of stokkie af. Maar wanneer sy spring is dit hoog en bly sy dan sommer in die "mens" posisie totdat sy klaar gespeek het. Maar haar gunsteling van alle gunstelinge is ounooi se studeerkamer met al die kinderbediening goeters in.
Sy speel met die handpoppe en soft toys en lief om die boeke van die rak te stamp, maar die een ding wat sy oor mal is, is die pypskoonmakers (die kinders gebruik dit vir armpies en beentjies as hulle mannetjies maak). Sy het vroeg vroeg reeds die sakkkie ontdek en is altyd vinnig by om een uit die sakkie te haal. Daarmee word fetch gespeel en ons moet honderd keer die ding gooi dat sy dit kan terugbring.
Mens raak maar lekker moeg daarvoor en ek bere die sakkie in een van my klein laaitjies. Dawn weet presies in watter een en dan sal sy met haar pote deur die gaatjies werk en selfs haar tandjies daar indruk om een uit die sakkie in die laai te trek sodat ons kan speel - en moenie dink jy kan wegkom nie. Die rooi pypskoonmaker is so pas sommer bo op die sleutelbord gesit .... dis tyd vir fetch ounooi.
Ek weet mens raak woedend vir hulle soos daai ounooi in Angola, of mens bederf hulle tot in die afgrond soos die ounooi in Manasir, maar die feit is, mens kan half nie sonder hierdie dierekinders wees nie. Seker daarom dat al wat straatkat is haar kleintjies by ons voordeur kom aflaai en selfs twee dae terug 'n arme onversorgde hond ook sy pad hierheen gekry het.
Geniet julle troeteldiere !