Die afgelope paar weke is die weer iets afgrysliks hier. Ek hoor dat Tom in sy nuuste rolprent 'n sandstorm "beleef" en volgens mense wat dit gesien het, is dit 'n vulletjie teen wat ons die laaste tyd mee moes deel.
Die laaste paar dae/weke is dit wat ons meestal ervaar op die pad.
En mens moet mooi kophou want die sig het niks aan die mense se kan-nie-bestuur-vernuf gedoen nie.
Die ergste wat ek in al die jare hier nog beleef het, was verlede naweek toe ons Ruwais toe gery het. Ons het eenmaal 'n maand 'n uitreik-diens daar in die woestyn.
Die wind was iets ysliks en met niks geboue langs die pad nie, net woestyn was dit by tye skrikwekkend.
So 'n paar kilometer voordat ons moet afdraai was dit ons uitsig en ons was effens bekommerd ons gaan die brug mis en in Saudi opeindig :-).
Hoeveel mense gaan in die weer vir die "diens" opdaag - ons het geweet die wat met die boot kom sal beslis nie opdaag nie. Maar soos altyd is God baie getrou en het ons in hierdie winderige, sanderige Shamel storm, 100% meer mense as verlede maand gehad. Die storms kan maar kom en ons probeer weghou, maar hier in die woestyn is groot goed aan die kom ook :-)
En dan natuurlik op bietjie stiller wind-dae (jy kan nog die sand in die lug sien) is dit ook 'n werkskeppingsgeleentheid - hoe anders kom die paaie weer skoon. Gelukkig is ons sandhoop in die portaal bietjie kleiner en mens stofsuig dit sommer.