Met al die onsekerheid van wat voorle het ons die woestyn so 'n week terug gegroet om Nelmari ingesettle by die universiteit te kry. En ja .... ons het mooi gepak en geen oorgewig bagasie hoef te betaal het nie :-).
Alhoewel sy baie braaf voorgekom het, dink ek tog daar was 'n bietjie onsekerheid oor wat voorle en het ons alles gepak wat nodig is. Uit 'n koue Abu Dhabi na 'n warm Stellenbosch en ek het gesien hoe mis ek uit op 'n bietjie winter.
Ek het 'n goeie gevoel oor die blyplek gekry terwyl ons wag om die sleutel te kry, want elke student wat ingekom het, is deur die admin personeel op die naam gegroet - nie sleg vir 'n "koshuis" wat uit 'n duisend studente bestaan nie.
Dit was omtrent 'n geskarrel op die gronde soos 500 eerste jaars by die "koshuis" intrek. (hulle het die grootste groep eerstejaars in een koshuis ooit). En ek kon net nie genoeg kry van die berge nie .... weet Nelmari hoe gelukkig sy is om elke oggend met hierdie uitsig op te staan?
Gou-gou is die woonstelletjie ingerig. By van die plekke het meubelwaens groot nuwe meubels en flat screen tv's kom aflaai, maar Nelmari het meer probeer om met dit wat daar is, haar stempel in haar plekkie af te druk. En selfs vir ons aandete gemaak :-).
Die klere word aangepas en julle wat vir Nelmari ken sal weet dat 'n oorpak nou nie eintlik haar "styl" is nie, maar sy was heel vol glimlaggies om met die oorpak met bakgat op die boud rond te loop. En vir my was dit dan ook die laaste kuier in die blyplek want die eerstejaars se program was propvol.
Die verwelkoming by die universiteit was ook iets spesiaal. Alhoewel die amptelik program vol toesprake was - en dit was nie lank en slegtes nie - was meeste van die ouers reeds daar terwyl die nuwelinge bietije gees gebou het
.
Vir my was dit een van die groot dinge wat sy op uitgemis het in skool. Kyk sy het na baie lande gereis om in toernooie deel te neem en hulle ou spannetjie het mekaar geondersteun, maar sy het nooit die geleentheid gehad soos met my sportdae baie baie jare terug nie. En nou op haar tweede dag kon sy dit ook ervaar.
En dit was lekker .... as mens die hees keel aan die einde van die dag kan gebruik as maatstaf. Omdat hulle die grootste groep is, het hulle ook die meeste lawaai gemaak en mens weet mos dit is lekker.
Klasse het nog nie begin nie, maar die "ontgroening" was vir my 'n baie sinvolle vanjaar. Hulle mag nie die koshuisgronde alleen in die eerste twee weke verlaat nie, maar hulle is al die hele dorp rondgewys, en wanneer die klasse begin, weet hulle waar en hoe. Natuurlik was daar fun ook (ek hoop om foto's te kry), maar sy lyk happy en vat alles in stride.
Nie maklik om te groet nie, maar ek weet Nelmari is reg vir hierdie nuwe uitdaging!