Thursday, January 25

Skoolvakansies!!!!

Seker julle almal onthou die tyd van "skoolvakansies" en hoe om die kinders "besig" te hou. Wel dis nou 'n kort Winterbreuk in Abu Dhabi en die kinders het na 'n twee weke eksamen 'n twee weke breuk. In die UAE is die skoolvakansie eintlik gedurende Jun/Jul/Aug waar die somervakansie 'n hele drie maande duur, so ek moenie kla oor hierdie korte nie.

Nelmari het 'n ou "girly" boek van haar opgediep "Crafty girl - Beauty things to make and do" met allerhande resepte en het my heeldag gekarring om die bestanddele te gaan koop. Toe ek hoor van die piesang op die gesig en aarbeie op die voete en peppermint geur op die hande, het ek al duidelik gesien hoe ek vir myself weghardloop. Groot verligting - sy besluit dat dit 'n "girly" dag moet wees en dat ek en Charmaine moet maskers kry. Ten minste is ek nie alleen hierin nie. Die masker is ernstig aangemaak en toe die groot aansit.



Ek sal nie regtig hierdie resep van piesangs en heuning aanbeveel nie want die donker stukke het orals in die slote in ons gesig gegly en nie stilgelĂȘ nie, en natuurlik was Nelmari nie baie in haar skik met ons nie, want met die groot gelag het daar meer plooie gevorm waarin die masker verdwyn het. Was groot pret en al was ons so taai van die heuning dat ons kenne aan ons bors vasgesit het, het ons gesig tog sag gevoel na "die" behandeling. Dankie sussie!

1 comment:

Anonymous said...

Jip ek's nie bly my kinders is uit die skool nie, maar ek mis beslis nie die besig hou tydens vakansies nie. Dankie vir die deel
Janie