Thursday, July 21

Weggesteekte Juwele

Ons land Suid-Afrika is mooi.  Dis nie net 'n Suid-Afrikanerhart wat so se nie, maar besoekers aan ons mooi land, stem 120% saam.  Dit was nog altyd 'n droom om deur die land te reis en nuwe plekke te sien, maar op my ouderdom raak dit alhoemeer onwaarskynlik.  Dus, om "nuwe" plekke reg rondom en naby my te sien is 'n blessing, wat ek baie geniet.  'n Uitnodiging om Malgas toe te gaan (waar ek al 'n paar keer was), raak so 'n geleentheid.  Ek weet nie of dit ouer oe is wat anders kyk nie, maar die werkende verkeerslig naby die afdraai Malgas toe, vang my oog.



Dis eers toe ek die groenlig sien, wat ek besef dit wys die oulike winkel is oop.  Moenie daar stop net voor ete nie, want die reuk van vars gebakte brood is 'n groot versoeking.


Alhoewel dit 'n grondpad is, maak die mooi op vir die geskud.  Die vriende saam met wie ek ry, hou verby die afdraai Malgas toe en nou is ek op 'n nuwe pad vir my.  Nuwe plek om te sien!  Ons ry tot by Infanta 'n pragtige kusdorpie naby Swellendam. Oppad is ek nuuskierig en google die dorp.  Dis gelee langs die Breede rivier by St Sebastian baai.  Die baai is ook bekend as "creche" van die walvisse.  En daar is dit ... 'n paar walvisse in die water!!  Ek kan heeldag sit en foto's neem en wag vir daai oomblik wanneer die walvis sy kop of stert by die water uitsteek, maar daar is plekke om te sien.


Aan die anderkant van die rivier is Witsand en ek kan verstaan hoekom die mense die plekke 'n "geheim" wil hou.  Saam is die inwoners van die 2 dorpies baie minder as 'n 1000 en dis 'n ideale plek om te kayak. Dit is ook gewild vir  "kitesurfing" en "windsurfing".  O ja, en visvang. 
.
Oppad terug draai ons wel op die Malgas pad vir 'n heerlike middagete by die Malagas hotel.  Hierdie hotel op die wal van die Breede rivier is defnitief 'n plek waar mens kan bly.  Daar is selfs rivierbote sou jy liewer op die water wil slaap. 


Ek wil defnitief weer die plekke besoek, dis mooi, dis rustig en 'n blessing.

"En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien
volgens Sy onderbaarlike rykdom in Christus Jesus"
Filippense 4:19

Mooi dag, ek praat weer
Sandra


Tuesday, July 19

Baie Mooi en Geskiedenis

'n Lekker winterson uitstappie en ek ry op 'n splinternuwe pad vir my, maar in werklikheid is die pad horingoud.  Ons ry oor 'n ou brug en die Sonderend Rivier.  Vroeg in die geskiedenis 1669 het 'n VOC soldaat reeds van die rivier gepraat, en is dit die "Rivier Zonder Endt" (the endless river) genoem.  Later in 1707 het hulle dit die Kanna-kan-kann genoem wat die Hessequa Khoi se naam vir "water, endless water" beteken.

Dis net daar langs die rivier wat die "Ou Kaapse Hoofweg" loop.  Tussen 1670-1850 is die pad gebruik om by oa 'n veepos te stop vir kos en water oppad Stormsvlei en Swellendam toe - Riviersonderend het nog nie bestaan nie - al die pad vanaf die Kaap. Dis moeilik om 'n prentjie te sien van ossewaens, perdekarre, perderuiters.  Ek kan net dink aan al die lekker gesels, besprekings rondom die geelhout en stinkhout bome, die roete met sy uitdagings en plekke waarnatoe hulle oppad is.  Een ding is verseker, hulle sou nie petrolpryse tydens die rit bespreek het nie.  (Miskien moet ons teruggaan na perdry en waens)


By die gedenkteken, is die begrafplaas van heelwat mense wat 'n groot rol in Riviers se geskiedenis en ontstaan gespeel het, daarvan vertel ek later.


Die pad loop nie net verby geskiedenis verby nie, maar ook baie mooi  sover as die oog kan sien. 

Tegnologie mag dalk verander het, maar dit wat God geskep het, staan nog net so mooi daar vir ons om te sien en te weet dat Sy liefde vir my en jou ook dieselfde bly.

"Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie,
my vredesverbond met jou sal nooit wankel nie, se die Here wat jou liefhet"
Jesaja 54:10


Mooi dag, praat weer

Sandra



Monday, July 18

Van die See na die Berge

Dis baie lank terug wat ek laas geblog het.  Die stories het opgedroog nadat ek uit die woestyn weg is, maar dis tyd vir nuwe stories.  Die grootste een is dat ek intussen van die see na die berg getrek het en ek nou in 'n pragtige klein dorpie op die N2, wat mens amper kan mis ry  ... Riviersonderend woon.

                                              Foto geneem deur Lee Young

Met die dorpie wat volgende jaar'n 100 jaar word en liefde vir geskiedenis, het ek begin oplees van die dorp se ontstaan.  So kan my kleinkinders wat in die buiteland is, ook meer sien en leer van waar ek bly en van ons pragtige land.

As mens die inwoners vra, "wat is in die dorp om te sien" is die standaard antwoord (meestal) "niks" en dis nie waar nie.  Daar is die pragtige berge, rivier, plase, canolas en soveel meer.  Kom kuier saam my, waar ek die mooi deel van ons land deel. 

Praat weer

Sandra 



Wednesday, February 19

Kosbare groep vroue


Een van die voordele van Facebook is die oproep van herinnerings, en hierdie foto’s het vandag weer ‘n groot glimlag op my gesig gesit.  Ek wou dit onmiddelik plaas en bietjie vertel van wie ons was/is, maar dis moeilik om ons in ‘n paragraaf op te som.  Het onmiddelik besluit  om ‘n bietjie van my “onthou tyd” in Abu Dhabi te begin  blog.  Hierdie vroue het baie in  vroeer jare op die blok verskyn.

Lank terug toe daar nog net 3 kerk geboue  in Abu Dhabi was – die Anglikaanse kerk, die ECC on Island (nog die ou klein gebou) en die Katolieke kerk het ‘n klompie Suid-Afrikaners bymekaar gekom  vir Bybelstudie in Afrikaans.  Ons het opgedeel in 4 groepe wat elkeen hulle eie studie gedoen het.  Die een waarvan ek die leier was het na ‘n klompie maande ons studie klaargemaak en die opdrag was, breek op as groep en gaan elkeen uit en begin ‘n nuwe groep dat ons meer mense kan intrek. 


Ek het gevoel die Here plaas dit op my hart om ‘n vroue groep te begin.  Waar begin mens in ‘n vreemde land om vroue bymekaar te kry.  Adverteer is uit … dit is 'n Moslem land en facebook was nog nie daar nie… sms het net begin 😊.  Ek het net ‘n kindergroep vir Suid-Afrikaners begin en gedink miskien sal een of twee van die mamma’s belangstel.  Een Maandagoggend het ek met 4 name wakker geword en ek onthou nog goed hoe ek dit op ‘n stukkie papier geskryf het en die mamma’s gevra het of hulle belangstel om in te skakel by ‘n vroue studiegroep.  Die volgende Sondagaand het ons begin, 5 van ons! 

Ons eerste studie was Ester van Beth Moore en watter pad het ons nie vandaar saam met mekaar gestap nie.  Daar het bygekom en ander het  weer teruggegaan Suid-Afrika toe en nou baie baie jare later is die oorspronklike 5 almal terug in Suid-Afrika, oud en afgetree 😊.

Daar is soveel studies saam gedoen, baie gelag en baie gehuil.  Drie van ons se kinders is nog steeds in die UAE en Sondagaande het ons saam vir ons kinders gebid, skool, aanpassing in ‘n ander land, later matriekeksamens, Universiteit of nie, kerels, ens. ens.  Ek dink ons was selfs baanbrekers deur ‘n bybelstudie op die internet saam met ander Suid-Afrikaners in ander lande te doen.  Ons het so baie saam gedoen, gaan uiteet,  die Ester konferensie, ons eie kinderspartytjie, handwerk, en en en en.

Die groep het deur die jare gebly en die laaste oorspronklike lid het ampertjies twee jaar gelede ook by ons ander aangesluit in Suid-Afrika.  ‘n Kosbare groep vroue wat uitgesoek was om in moeilike omstandighede  deel van mekaar se lewe te wees.  Soveel lekker herinneringe julle …  Die tegnologie is nou daar, hoe lyk dit, gaan ons weer saam ‘n Bybelstudie doen? 

Saturday, December 21

Ek/almal is SOOOOOOO besig!



Aan die einde van die jaar, kyk ek terug en wonder hoekom ons kinders so besig geraak het.  Baie keer "te besig" om deel te wees van aktiwiteite wat vir hulle goed is. 


Maak nie fout nie, "besig wees" is die in woord van ons tyd.  Ons raak so besig met ons goed, dat ons nie meer tyd het om te luister na ander wat ook besig is nie.  Want nee, my besig is defnitief baie besiger as jou besig.  En dis in om te spog oor hoe besig jou kinders is.

Hoekom het ek en baie ander skoliere tydens en na my tyd, sport (en dan nogal meer as 2 sportsoorte), musiek, kunsfeeste, klubs, organisasies, ballet, skoolwerk, huistake, speel (en nie voor 'n skerm nie), kerk en nog vele meer kon doen sonder om besig te wees.  Ek dink ons was, maar dis 'n woord wat nie gebruik is nie.  Deesdae is selfs 'n Gr 1 kind besig met vol programme.  Hoe oulik is hulle om dit sommer self te gekies het.  

Alhoewel mens seker vir 'n maand of meer elke dag kan blog oor verskillende soorte besig wees, wil ek aan die einde van die jaar twee bekommernisse deel.  Dit gaan oor ons kinders, want as volwassene kan jy besluit hoe en hoeveel besig jy wil wees.

Ons kinders word groot en dan gaan hulle miskien universiteit toe, maar op 'n stadium gaan almal werk.  Hoeveel het hulle geleer uit hierdie "besig wees"?  Kan hulle lewe balanseer en druk hanteer en plek en tyd maak vir alles wat belangrik is.  Miskien glo ons as ouer nie in die kind(ers) se vermoe om baie dinge te hanteer nie, en skep ons nie vir hulle geleentheid om te leer en te groei as mens en selfs leier nie

En die belangrikste van alles.  As ons besluit het, dis my kind en ek sal my nie laat voorse nie ... net een vragie.  Hoe leer ons ons kinders dat God wil he dat ons selfs in ons besige programme en lewe, jonk en/of oud, moet Stil raak voor Hom.  

Ek dink om Stilte te vind en te weet hoe sonder dat iemand jou lei en vertel is moeilik.  Ek kan die beste sportman, akteur, ballerina of wat ookal wees en nog steeds soek na Stilte.  Daai sielstilte wat nie in 'n sport of aktiwiteit te kry is nie.  

Is ons 'n goeie voorbeeld in hoe om besig te wees, of is ons 'n goeie voorbeeld hoe ons God toelaat om beheer te neem van ons besig wees. Kom ons gee vir ons kinders 'n groot geskenk die fees seisoen ...die antwoord op 'n besige jaar en besiger jaar wat voorle - leer en wys hulle hoe om stil te raak voor God en te luister wat Hy vir hulle 2020 beplan!

"Wees Stil en weet Ek is God! Psalm 46:11