Wednesday, February 19

Kosbare groep vroue


Een van die voordele van Facebook is die oproep van herinnerings, en hierdie foto’s het vandag weer ‘n groot glimlag op my gesig gesit.  Ek wou dit onmiddelik plaas en bietjie vertel van wie ons was/is, maar dis moeilik om ons in ‘n paragraaf op te som.  Het onmiddelik besluit  om ‘n bietjie van my “onthou tyd” in Abu Dhabi te begin  blog.  Hierdie vroue het baie in  vroeer jare op die blok verskyn.

Lank terug toe daar nog net 3 kerk geboue  in Abu Dhabi was – die Anglikaanse kerk, die ECC on Island (nog die ou klein gebou) en die Katolieke kerk het ‘n klompie Suid-Afrikaners bymekaar gekom  vir Bybelstudie in Afrikaans.  Ons het opgedeel in 4 groepe wat elkeen hulle eie studie gedoen het.  Die een waarvan ek die leier was het na ‘n klompie maande ons studie klaargemaak en die opdrag was, breek op as groep en gaan elkeen uit en begin ‘n nuwe groep dat ons meer mense kan intrek. 


Ek het gevoel die Here plaas dit op my hart om ‘n vroue groep te begin.  Waar begin mens in ‘n vreemde land om vroue bymekaar te kry.  Adverteer is uit … dit is 'n Moslem land en facebook was nog nie daar nie… sms het net begin 😊.  Ek het net ‘n kindergroep vir Suid-Afrikaners begin en gedink miskien sal een of twee van die mamma’s belangstel.  Een Maandagoggend het ek met 4 name wakker geword en ek onthou nog goed hoe ek dit op ‘n stukkie papier geskryf het en die mamma’s gevra het of hulle belangstel om in te skakel by ‘n vroue studiegroep.  Die volgende Sondagaand het ons begin, 5 van ons! 

Ons eerste studie was Ester van Beth Moore en watter pad het ons nie vandaar saam met mekaar gestap nie.  Daar het bygekom en ander het  weer teruggegaan Suid-Afrika toe en nou baie baie jare later is die oorspronklike 5 almal terug in Suid-Afrika, oud en afgetree 😊.

Daar is soveel studies saam gedoen, baie gelag en baie gehuil.  Drie van ons se kinders is nog steeds in die UAE en Sondagaande het ons saam vir ons kinders gebid, skool, aanpassing in ‘n ander land, later matriekeksamens, Universiteit of nie, kerels, ens. ens.  Ek dink ons was selfs baanbrekers deur ‘n bybelstudie op die internet saam met ander Suid-Afrikaners in ander lande te doen.  Ons het so baie saam gedoen, gaan uiteet,  die Ester konferensie, ons eie kinderspartytjie, handwerk, en en en en.

Die groep het deur die jare gebly en die laaste oorspronklike lid het ampertjies twee jaar gelede ook by ons ander aangesluit in Suid-Afrika.  ‘n Kosbare groep vroue wat uitgesoek was om in moeilike omstandighede  deel van mekaar se lewe te wees.  Soveel lekker herinneringe julle …  Die tegnologie is nou daar, hoe lyk dit, gaan ons weer saam ‘n Bybelstudie doen? 

No comments: