Ek kan nie regtig se dat die "prom" soos dit hier genoem word, vinnig op my afgekom het nie. Nelmari is nogal nie iemand wat iets op die tippertjie doen nie, sy rek die proses uit ....... en begin al vroeg-vroeg mens heeltemal lam maak :-). Ons enigste probleem was die feit dat dit op 'n Vrydag gehou sou word, en hier is dit mos eintlik Sondag so haarsalonne en goed is toe.
Twee dae voor die tyd spoor ons 'n plek op wat die naels en hare sommer by een plek kan doen en dis nie te ver van ons af nie. So gister na kerk is ons salon toe in die hittige weer om net so onder vier uur daar te spandeer --- en toe is dit slegs 30 min om grimering te doen en aan te trek. Daar is blitsig gewerk. Gelukkig het Elriza ook so bietjie kom hand bysit met die afronding
Die prom is in die Shangri-la hotel gehou. Die foto'tjes het ons sommer voor die tyd geneem, maar gelukkig was daar ook 'n professionele fotograaf wat heelaand foto's geneem het.
Met hierdie groot geleentheid agter die rug, le daar nou 'n besige week voor met graduations ens. Ek dink eers dan kan sy/ons se, sy is regtig klaar met skool.
Geniet julle naweek
Liefde





