Showing posts with label Zambia2013. Show all posts
Showing posts with label Zambia2013. Show all posts

Sunday, September 8

Ons kyk terug en is dankbaar


Die uitreik by die meer was 'n ongelooflike ervaring soos ek met julle gedeel het en ek besef net weer dat daar so baie dinge is wat ons as vanselfsprekend vat en dink dis net deel van ons elke dag bestaan.  Vir ons debriefing en deurtrap van die uitreik, bly ons twee dae oor in Lusaka. 

Page1

In ons soeke na billike plekke om te bly bespreek ons by 'n kampplek en watter blessing is dit nie.  Daar is heelwat diere wat op die kampplekgronde rondloop en dit voel ampertjies soos die wildtuin.  Salig :-)  Ons loop nie baie rond in Lusaka nie en vat rustig terwyl ons herkou aan alles wat gebeur het.  

Page2


Een plekkie wat ons wel besoek is die olifant weeshuis. Lilani olifant "weeshuis" versorg baba olifantjie wat wees of beseer is en plaas hulle na 'n tydperk ('n paar jaar in olifant lewe) weer uit in die wild.  Elke olifantjie het 'n storie hoe sy/hy daar gekom het en dis hartseer om te lees hoe sommige mense die olifante seer- en doodmaak.   
DSC_0251
Die olifantjies word daagliks in die veld en natuur gehou en elkeen van hulle het 'n mense-persoon wat pa/ma staan vir hulle vir wanneer hulle aandag en bietjie liefde nodig het.  Wanneer dit kostyd is, kom hulle na hierdie kamp toe, waar besoekers dan ook kan dophou en foto's neem. 

Page7

 Eerste is dit botteltyd en die ouer olifantjie kan nie nog wag vir die helpers nie, hy het eenvoudig sy bottel gevat en self begin drink. Op die linkerkant onder sal julle vir Sunny sien.  Sy is aangeval deur mense en in haar rug gesteek.  Dit het groot skade aan haar ruggraat gedoen en haar semi-verlam.  Sy is deur hulle versorg en alhoewel sy al heelwat herstel het, dra sy nog 'n skoen wat help met die poot wat nie wou loop nie.  

Page6

So tussen die waterdrink en speel met die sand, kom hulle gereeld hallo se vir hulle mens ma/pa.  Die kleintjie was so oulik. Julle weet as baba's hulle handjies ontdek ... wel hierdie enetjie het nie presies geweet wat om met sy slurp te maak nie en probeer maak wat die ouer olifante doen en dit nie heeltemal reggekry nie.  Ek lees dat hulle so drie weke terug, nog 'n kleiner olifante gered het wat nou by die weeshuis is.  Ons het nogal lank daar spandeer om net stil te staan en kyk en luister. 
Page8

'n Lekker koel oggend met groenigheid is nie iets wat ons hier in die woestyn as vanselfsprekend kan neem nie, en die kinders het die groot teetuin verskriklik geniet ... die ouer tannies ook :-).
Page10

Hulle wou by elke paadjie afstap en dit alle net geniet.  Party van ons het die winkels gemis lyk dit my en selfs 'n sementskoen word aangepas :-).  
Page11

Die aand is gebraai en na ons vleislose tyd is ons dankbaar vir die vleis, wors, slaai en braaibroodjies.  Die plek se honde het gou baie tuis gevoel tussen ons en een het selfs by Nelmari geslaap die aand.  

WP_20130807_001

Die laaste dag saam het ons gaan Wimpy ontbyt en fliek.  Ja daar is 'n Wimpy en elke ander liewe winkel wat in Suid-Afrika is - dit is net baie duurder.  

Page9

Dan is dit regtig groet tyd.  Ek kyk deur die foto's en sien hoe die 3 jongmense mekaar ook gedurende die trip ondersteun het.  Een van hulle, Daleen het na die eerste week waterpokkies gekry en ons het dit eers agtergekom toe sy uitslaan, maar altyd was daar een om 'n drukkie en/of ondersteuning te gee.  Ek het ander jongmense op die uitreik ook gesien, maar om te se dat ek trots is op ons jongmense, is liggestel.  Hulle het deur alles, goed, sleg, ongemaklik, pret, moeilik, ongerief, lekker so positief gegaan en soos ons neem hulle ook baie saam/uit die ondervinding.

Mag al die antwoorde en ervaringe vir julle en my tydens die uitreik en konferensie net gebruik word tot Sy Koninkryk!

Wednesday, September 4

Vriende en konferensie

Terug by die basis na 'n ongelooflike tyd in die village is dit rustiger en na 'n dag van vas en bietjie rus, moet daar gehelp word met die voorbereiding vir die konferensie.

Page2

Ons meisies help om die Lake se kaart en basis logo te teken en verf vir die uitstalling.

Page3
Tussen-in is ons eie klein span ook besig met fun aktiwiteite ... Daleen en Nelmari het besluit om vir Elriza 'n liedjie te skryf en verdwyn gereeld af na die meer toe om te oefen.  Die liedjie word die laaste aand onder groot gelag met bewegings vir haar gesing :-).  
Page4
Na vele vleislose dae vind ons naarstigtelik uit van eetplekke en hulle vertel van 'n plekkie wat heel billik is. Ons groep besluit om die hele span by die meer uit te neem vir "hoender en chips".  Ek's  nie 'n vreeslike hoender fan nie, maar ek kan vir julle se dat dit van die lekkerste hoender was wat ek al geeet het :-). 

Page5

Terug by die basis het ons 'n kragonderbreking, en word daar by lantern afgesluit met worship en totsiens gese aan die mense van die meer.  Ons span oorhandig ook die geld wat ons voor die tyd dmv fondsinsamelings ingevorder het sodat hulle een boot vir die floating church kan koop en vir die begin van hulle kinderbediening. 

DSC_0050

Ons het baie nuwe vriende hier gemaak en ons gaan hulle en die mooi sonsondergange by die meer mis.  
DSC_0078

Die volgende oggend is daar groot opgewondenheid met ons vertrek na Kabwe vir die Love Africa konferensie.  'n Sestien uur busrit le weer voor, maar hierdie keer ken ons baie mense op die bus .... dit gaan net lekker wees. 

Page6
Die rit is amper langer as die kom, want iewers langs die pad gooi een van die ander passasiers 'n sakkie vuilgoed (dink dit was orige vis) by die venster uit, binne een van die aankomende motors wie se ruitskerm breek/kraak.  Dit beteken dat die bus elke nou en dan gestop word, dan klim iemand in, loop op en af in die gangetjie en soek die sondebokke.  Daar word gedreig dat as die skuldige nie te voorskyn kom nie, die hele bus na die polisiestasie geneem sal word.  'n Paar uur later by een van die groter dorpie, vertel sy darem dis sy.   En terwyl ons wag, klim 'n vrou op die bus en lewer 'n preek wat ons niks van verstaan nie - en sy neem kollekte op na die tyd :-).   Moet se dat die bus eintlik 'n wonder bus is, want by elke stop as 2 mense afklim, klim 5 op en so saam met die visse in die bagasie en kinders in die paadjie kom ons eintlik die volgende oggend so 2 uur in Kabwe aan.

Page7

Ons gastehuis/lodge waar hulle ons ingeboek het, is netjies en skoon en nadat ons vir amper 'n uur ons "woonstelmaat" wat reeds ingeboek was probeer wakker maak, kon ons bietjie rus voordat die bussie ons kom haal vir die konferensie. Die eerste dinge wat ons daar sien is die vers teen die muur uit Psalm 2 en daarna die saal vol vlae van die lande waar Christene onderdruk word.  Nelmari was heel opgewonde om die UAE vlag ook daar te sien.

Page8

Die atmosfeer by die konferensie was heeltemal iets anders as wat ek al by konferensies ondervind het.  Van oral oor in Afrika, Asia, Europa, Amerika en ander het sendelinge saamgekom.  Dit was niks snaaks om mense te sien groepies vorm en spontaan begin worship nie.  

Page9

Ons het van die begin af deel gevoel van almal. Nie net omdat die mense van die meer ons deel van hulle span laat voel het nie, maar ook omdat ons in so 'n kort tydjie by die meer soveel mense van oral ontmoet het.

DSC_0214

Die worship gedurende die vyf dae van die konferensie was ongelooflik, en ons moes in Afrika tale sing wat ons nie eers geweet het bestaan nie :-), maar dit was great!  Die saal kon nie al 800 mense akkommodeer nie, maar die res was in die overflow wat net so deel was van alles.  Vir vier dae het ons ten minste 6/7 boodskappe/preke geluister ... almal van hulle het ons geboei en met ons gepraat.  Tussen-in het ons werkswinkels bygewoon, gesing en gekuier.  Van 6:20 in die oggend tot 9 uur in die aand ... en dan was ons lekker poegaai kan julle vertel.

Page10

Al die verskillende sendingstasies het ook terugvoer gegee oor hulle werk die afgelope jaar en ons was baie trots op die meer se span, asof dit ons span is met hulle verslag :-).  Elriza het ook die geleentheid gehad om twee keer die worship saam met die meerspan te lei.  En toe was dit tyd om te groet en die tydjie by die meer en sy mense het tekort gevoel.

Watter ongelooflike ondervinding het ons nie gehad, beleef en ervaar die 14 dae by die Meer en Konferensie nie .... daar gaan nog baie hieroor gepraat en gedink word.  



Wie weet, eendag gaan een of meer van ons weer in daardie rigting.

Sunday, September 1

Groot dinge gebeur in die village

Die ondervindinge in die village kan ons nie regtig in woorde sit nie.  

Page13

'n Groot deel van ons tyd gaan om hande vas te hou en drukkies uit te deel en hulle en ons geniet dit baie. Tot so onlangs as 'n jaar terug was geen "paartjie" op die eiland getroud nie en kry die kinders nie die regte aandag en liefde van hulle ouers nie.  Paartjies kuier oor en weer en die mans wat baie weg is weens die visvang het vroue in ander villeges ook.  Vanaf 2009 is die eerste sendeling paartjie (van Zambia) na die village om daar te gaan bly en werk.  Hulle doel "lifestyle preaching" soos hulle dit noem.  Dat die mense van die village deur hulle God se liefde kan sien.    

Page15

En dit het vrugte afgewerp want in 2011 het die village hulle eerste Christen troue gehad.  En almal was teenwoordig.  'n Besoeker het vir haar 'n trourok geskenk en iemand het selfs 'n troukoek gebak en die hele villege het daarin gedeel.  In die hoofman se toespraak, en hy is nie deel van die kerk in die village nie, se hy die volgende:  "...that Moses and his wife have taken a step that brings the village out of shame and he admonished the parents of the village to adopt practice of the wedding ceremony and lifelong commitment in marriage as they help their sons and daughters become husbands and wives."  
Page16
Die eerste sendeling daar, Lewis, wat onder sy eie mense werk en die kerk daar begin het, het ook met die jongmanne begin werk en hulle werk weer met die huidige kinders van die village.  Die "honest boys" soos hulle genoem word, dien as voorbeeld vir die kinders en is veral betrokke by sport ministry.  Ons kon deel daarin tydens ons besoek en weereens gesien hoe hulle met niks, iets maak.  Is dit nie die oulikste doelpale nie :-).  Daar was selfs kinders wat met "sokkerballe" gespeel het wat hulle uit plastieksakke gemaak het.  

Page21

Siende dat die sendingstasie oorspronklik 'n mediese stasie was, was daar baie gefokus op dit.  Maar so 'n paar weke voordat ons gekom het, het die twee verpleegsters daar, Lenie en Nicki gevoel dat hulle vir die siekes moet begin bid ipv medisyne gee. Dis onmoontlik om dit wat ons gesien en ervaar het, op skrif te sit maar watter ongelooflike ondervinding om te sien hoe Pa die mense daar reg voor ons oe gesond maak en genees en verlos van bindings wat die toordokters op hulle gesit het.  Soveel van die siekes het tydens die naweek wat ons daar was, hulle hart en lewe vir God gegee.  Hierdie twee brawe verpleegsters doen 'n ongelooflike groot werk daar op die eiland en julle moet saam met ons bid vir hulle beskerming en die werk wat hulle doen.  As julle meer wil weet wat daar gebeur het, en nog steeds gebeur, epos my bietjie dan stuur ek hulle inligting en nuusbriewe aan.  

Page17

En so tussen al die amazing goed wat gebeur word daar vriendskappe gesmee met ander en bybelstudie gedoen.  Die kleintjies het nie ophou hang en soek vir aandag nie, en die oomblik wat Nelmari of Daleen gaan sit het, was daar heelwat handjies wat met die hare begin speel en vleg.  
Page19

Dit was 'n ondervinding wat ons altyd sal by bly.   

Page20
En toe is dit die langpad terug oor die meer na die basis toe. Almal hierdie keer in dieselfe boot.
4.62

Die mense het vriendelik gegroet en totsiens gese.  Ons hoop dat ons iets blywends vir hulle kon los en deur vir hulle liefde te gee ook so Vader se liefde kon wys.  Hulle het verseker iets blywends vir ons gegee.

Saturday, August 31

Die begin van ‘n ongelooflike ervaring

Hoe deel mens 'n ongelooflike ervaring in een kort blog, tesame met honderde foto's natuurlik?  Ek kon dit nie doen nie , dus sal julle maar in twee dele moet lees van wat ons alles beleef en ervaar het op ons besoek aan een van die villages rondom die meer.

Page2

Die kamptoerusting, kos en "ouer" mense het die tog met die Pelican aangepak en die jong meisies saam met van die plaaslike sendelinge op die "publieke boot.  Hulle is seker goed twee uur voor ons al hawe toe en ons kon hulle nog steeds rondom halfpad village toe verbygaan.  Mense hierdie meer is groot en die Gautengers sal dit heelwaarskynlik 'n see noem :-).  Die tweede grootste en tweede dieptste varswater meer in die wereld!  En die langste in die wereld ..... 'n hele 676 km in  lengte en 50 km in breede.  Vier lande Burundi, Kongo, Tanzania en Zambia grens aan die meer en vir 'n groot deel van ons rit kon ons geen land aan enige kant sien nie ... so yslik groot is dit. 

Page3

Ons bootman het later spesiaal vir ons nader aan die kus gaan vaar en kon ons van die verskillende villages sien wat reg langs die meer gebou is.  Orals was daar opgewondenheid met die sien van die boot, want die mense is heeltemal bewus van die uitreike en wat daar vir hulle villages gedoen word tydens die besoeke.  Hierdie keer was ons deel van 'n besoek aan een van die verste villages.
4.9

Van die manne wat vrooer deur is met die boot het ons kamp gaan opslaan en dit was maklik om te sien dis waar ons gaan wees met die tente wat ons ingewag het.

Page4

'n Hele tydjie na ons het die meisies aangekom en soos ons is hulle deur die inwoners van die village en veral die kinders welkom geheet.  Hulle wou almal net groet en help aandra.  Klaar afgepak het ons die hoofman van die village gaan groet en toestemming gevra om die naweek daar te wees en te werk.
Page5

Die mense het ons nie verwag nie, en nogtans sonder 'n probleem hulle hutte beskikbaar gemaak sodat ons daar kon kosmaak. Heeltemal in lyn met ons spyskaart ... ons eerste maaltyd in die village .... peanutbutter broodjies :-).
Page6

En toe het die kuiers begin.  Ons was ampertjies nooit sonder 'n kindjie aan die hand en hulle het orals rondom ons en die meisies gekloek.  Net om vir hierdie kinders 'n bietjie aandag te gee en hulle handjies vas te hou, was vir party baie meer as wat hulle by hul huis kry.

Page7
Ons het saam met hulle "kerkie" kon worship en daarna in groepies opgedeel en  'n prayerwalk in die village gedoen en vir die naweek gebid.   Ek kan nie van die begin van ons naweek vertel sonder om die longdrop te noem nie  Op die middelste foto bo, staan Elriza voor hom en dit is glad nie so iets waaraan ons op kampe gewoond was nie.  Hierdie was regtig net 'n klein gaatjie in die grond en dit het al ons skill gevat om te bemeester :-).  Behalwe vir die konsentreer op die gaatjie en die flitslig en toiletpapier in die hande, moes mens keer om nie op te val nie, want al kan jy jouself met jou hande teen die muur stut, wou jy nie ... want die kakkerlakke was meer as gereed om oor jou hande te hardloop.  Gelukkig was ons altyd twee-twee, een moes "wag" hou en was dit 'n groot besprekingspunt deur die hele naweek.

Page8

Die dogtertjies op die eiland het nie regtig onderklere nie en dit stel hulle bloot aan verskeie situasies.  Op versoek van die stasie was dit een van die goed wat ons saamgebring het, en julle kan nie dink hoeveel vreugde so iets kleins vir hierdie kinders was nie.  
Page9

Badtyd het vir sy eie ervaring en vermaak gesorg, toe daar met klere en al in die meer gebad moes word. Seep so bo die klere met kindertjies wat selfs in die water rondom jou swem en selfs onder die water gaan terwyl die meisies sukkel om die rompe af te hou :-).   En dan terug tent toe met die natklere ... en probeer aantrek met ander mense wat dieselfde wil doen in 'n piepklein tent - terwyl die kinders voor die tentdeure saamdrom en wag vir die besoekers om uit te kom.

Page12

Ek het reeds vertel hoe groot die meer is, en dat ons dit gebruik het vir was- en badtyd ... maar dis nie al nie.  Die wasgoed word in die meer gewas, daar word in geswem en gespeel ... ons drinkwater is uit die meer geskep en ons het selfs gesien hoe baba boudjies in die meer afgespoel word.
Page11
Dit tesame met die skottelgoed wat in die meer gewas is en ons self wat soggens daar tandegeborsel en hare gewas het.  En mens wil half nou gril ne?  Maar wat is so ongelooflik en weereens net 'n bewys dat ons Pa selfs in die kleinste detail na mense omsien - die water bly silwerskoon.  Met al die klein klippies op die meer se bodem (volgens die slim mense was daar 'n volkaan uitbarsting) en teen die walle word die meer water self gesuiwer.  Ons het egter vir onsself ook filter waterbottels gebruik.  

En saans wanneer dit donker word en die son sak, is die meer die "kantoor" van die villagemans wat uitgaan om vis te vang.  En waar onlangs ook 'n nuwe bediening, die floating church ontstaan het.  Dit was ook een van die projekte waarvoor ons geld ingesamel het sodat ons vir hulle 'n vissersboot kon koop

4.47
.
Toordokters is nog baie sterk teenwoordig in die villages en word daar gereeld 'n offer gemaak, selfs vroue en kinders om te help met die visvangs.  Hulle glo dat die vroue en kinders dan onder in die meer die visse sal boontoe jaag.  Twee van die vissermanne het tot bekering gekom en het hulle ipv offers begin bid vir hulle vangste.  Wanneer die bote saans wag vir die visse om in die net te swem, lees hulle die bybel (hulle maak gebruik van solarpanele om visuele bybel te hoor) en vertel hulle die ander vissermanne van Jesus ... vandaar die naam floating church. In die begin was dit swaar want hulle het gesukkel met die vangste en die ander wat geoffer het, het hulle gespot, maar drie dae later het hulle, net soos in die bybelse tyd, so 'n groot vangs gehad dat hulle kon teruggaan land toe en begin die mense se gespottery ook nou minder raak.  Omdat visvang die grootste beroep langs die meer is, kan mens net opgewonde raak oor die moontlikhede as hierdie kerk begin groter en groter uitbrei.  Hulle het nog soveel bote nodig om die groot werk te kan doen, bid saam met ons dat hulle nog donasies hiervoor kry.

Monday, August 26

Nuwe dieet en evangelieboodskap

Meeste van die bedieningspunte word besoek, een daarvan die tronkbediening waar Elriza ook kans kry om met die gevangenis te praat en 'n kort boodskappie te lewer.
Page8
Een van die hoogtepunte was toe ons kans kry om by die skooltjie 'n les aan te bied.  Hierdie skooltjie het net 80 weeskinders (20 in elke graad vanaf KG).  Wat so besonders is van die skool is dat nuwe inname is net in KG (Graad 0) en die ander is dus al almal 'n jaar of drie deel van die skool en mens kan dit sien.  Hierdie kinders is ongelooflik gehoorsaam, hulle Engels is goed en hulle het so goed saamgewerk. Maar eers is daar baie voorberei om die Evangelie boodskap so eenvoudig moontlik vir hulle aan te bied.  


Page9

Charmaine bied die les aan terwyl die res van ons almal help om die kleurkrale uit te deel en later in 'n armband te ryg.  Die kindes geniet hierdie aktiwiteit verskriklik baie en hoe baie sal ons later sien. 
Page10
Na die les en lekker sing is dit pouse by die skool en oppad na ons kamer sien ons hoe die kinders wat die lessie bygewoon het, by maatjies sit en die boodskap met hulle deel terwyl hulle die kleure op hul armband verduidelik.  
Page3

En die kinders laat nie maklik 'n geleentheid om vasgehou te word verbygaan nie.  Nelmari en Daleen was net te gewillig om hierdie een vas te hou terwyl sy aan haar Wilson toffie wat hulle vir haar gegee het suig. Ek hoef nie te se dat sy en hulle lekker taai was nie :-).   
2.56

Ons het ook die skool se kwartaal afsluiting kon bywoon en ek wens ek kon dit op foto's vasle hoe hulle bybelversies kan voordra, opse en uitbeeld in Engels, ons was verstom.  Die kinders kry twee maaltye by die skool per dag en word dan meestal versorg deur 'n ouma of iemand in die families omdat daar nie ouers is nie.  By die funksie was daar ook van hierdie "ouers" wat deur middel van die kinders van God se liefde hoor. 
Page1
Een van ons grootste "aanpassings" was verseker die kos.  Waar ons Saffers maar lekker gewoond is aan een of ander vorm van vleis ten minste een keer 'n dag, het ons die eerste 7 dae (kan meer wees) heeltemal vleisloos gegaan.  Ek wat nogals vol nonsens kan wees oor wat ek eet, het redelik ingegee en bone (nie groenbone nie), raap en kool geeet en dit was nie moeilik nie, hulle het dit baie smaakvol gemaak.

Page2

Het egter teegeskop met die pap (ek weet die vaalpense sou nie daarmee 'n probleem he nie) amper elke dag en die klein vissies wat hulle chipengas, of Zambia sardiens noem.  Dis 'n klein vissie wat gedroog word en ons was maar skepties toe hulle dit begin voorberei het.  Die ete word met die hand geeet - eers word die pap in 'n bolletjie gerol en dan tel mens die vis daarmee op ... jinne ek kry sommer weer koue rillings :-).

'n Tipiese spyskaart wat ons gehad het, het so gelyk:

Ontbyt: Peanutbutter broodjie (DIK snye) of Peanutbutter broodjie met gekookte eier en ons het een keer oats gekry en een keer 'n patat vir ontbyt.
Middagete:  Peanutbutter broodjie, tunaslaai of 'n rysslaai (rys en enige kos wat oorgebly het)
Aandete:  Een of ander vissie met pap en kool of Bone en pap en sous of rys, raap en bakkie peanuts

Nie een van ons het ooit honger gaan slaap nie.  Die sakkie biltong het ons gehou so lank ons kan en toe ons dit die dag uithaal was dit 'n fees.  Ons is regtig bederf met die borde kos wat ons elke dag eet, dis meer as wat ons nodig het om versadig te wees en vir hierdie mense is dit wat vir ons normaal is soos bv kaas, aartappels, vleis en baie ander net 'n luuksheid.  Ek moet noem dat die patatontbyt wat ons een oggend gehad het, blykbaar 'n groot bederf vir ons was, omdat net die "rykes" dit kan bekostig.
blog 2.24
En elke aand is die sonsondergang net mooier en is ons meer dankbaar oor dit wat ons het!