Die uitreik by die meer was 'n ongelooflike ervaring soos ek met julle gedeel het en ek besef net weer dat daar so baie dinge is wat ons as vanselfsprekend vat en dink dis net deel van ons elke dag bestaan. Vir ons debriefing en deurtrap van die uitreik, bly ons twee dae oor in Lusaka.
In ons soeke na billike plekke om te bly bespreek ons by 'n kampplek en watter blessing is dit nie. Daar is heelwat diere wat op die kampplekgronde rondloop en dit voel ampertjies soos die wildtuin. Salig :-) Ons loop nie baie rond in Lusaka nie en vat rustig terwyl ons herkou aan alles wat gebeur het.
Een plekkie wat ons wel besoek is die olifant weeshuis. Lilani olifant "weeshuis" versorg baba olifantjie wat wees of beseer is en plaas hulle na 'n tydperk ('n paar jaar in olifant lewe) weer uit in die wild. Elke olifantjie het 'n storie hoe sy/hy daar gekom het en dis hartseer om te lees hoe sommige mense die olifante seer- en doodmaak.
Die olifantjies word daagliks in die veld en natuur gehou en elkeen van hulle het 'n mense-persoon wat pa/ma staan vir hulle vir wanneer hulle aandag en bietjie liefde nodig het. Wanneer dit kostyd is, kom hulle na hierdie kamp toe, waar besoekers dan ook kan dophou en foto's neem.
Eerste is dit botteltyd en die ouer olifantjie kan nie nog wag vir die helpers nie, hy het eenvoudig sy bottel gevat en self begin drink. Op die linkerkant onder sal julle vir Sunny sien. Sy is aangeval deur mense en in haar rug gesteek. Dit het groot skade aan haar ruggraat gedoen en haar semi-verlam. Sy is deur hulle versorg en alhoewel sy al heelwat herstel het, dra sy nog 'n skoen wat help met die poot wat nie wou loop nie.
So tussen die waterdrink en speel met die sand, kom hulle gereeld hallo se vir hulle mens ma/pa. Die kleintjie was so oulik. Julle weet as baba's hulle handjies ontdek ... wel hierdie enetjie het nie presies geweet wat om met sy slurp te maak nie en probeer maak wat die ouer olifante doen en dit nie heeltemal reggekry nie. Ek lees dat hulle so drie weke terug, nog 'n kleiner olifante gered het wat nou by die weeshuis is. Ons het nogal lank daar spandeer om net stil te staan en kyk en luister.
'n Lekker koel oggend met groenigheid is nie iets wat ons hier in die woestyn as vanselfsprekend kan neem nie, en die kinders het die groot teetuin verskriklik geniet ... die ouer tannies ook :-).
Hulle wou by elke paadjie afstap en dit alle net geniet. Party van ons het die winkels gemis lyk dit my en selfs 'n sementskoen word aangepas :-).
Die aand is gebraai en na ons vleislose tyd is ons dankbaar vir die vleis, wors, slaai en braaibroodjies. Die plek se honde het gou baie tuis gevoel tussen ons en een het selfs by Nelmari geslaap die aand.
Die laaste dag saam het ons gaan Wimpy ontbyt en fliek. Ja daar is 'n Wimpy en elke ander liewe winkel wat in Suid-Afrika is - dit is net baie duurder.
Dan is dit regtig groet tyd. Ek kyk deur die foto's en sien hoe die 3 jongmense mekaar ook gedurende die trip ondersteun het. Een van hulle, Daleen het na die eerste week waterpokkies gekry en ons het dit eers agtergekom toe sy uitslaan, maar altyd was daar een om 'n drukkie en/of ondersteuning te gee. Ek het ander jongmense op die uitreik ook gesien, maar om te se dat ek trots is op ons jongmense, is liggestel. Hulle het deur alles, goed, sleg, ongemaklik, pret, moeilik, ongerief, lekker so positief gegaan en soos ons neem hulle ook baie saam/uit die ondervinding.
Mag al die antwoorde en ervaringe vir julle en my tydens die uitreik en konferensie net gebruik word tot Sy Koninkryk!
4 comments:
Amazing ervaring en baie dapper pragtige kinders. Die skoen het toe nie gepas nie. :-)
Hoe lus voel èk nou vir braaibroodjies!
Glo Charmaine het eers gekyk of daar goggos in is!
Mens sal maar 'n ander mall met skoenwinkels moet besoek maat :-)
Nee Retha sy het net gecheck of daar nie peanutbutter op is nie :-).
Ek lief braaibroodjies
Post a Comment