Saturday, December 14

Speel ons Volstruis, volstruis?





Lank gelede het ek in Milnerton gewerk.  Ou Jan was die burgermeester se motorbestuurder en hy het geglo as hy onder die trap sit met 'n koerant oor sy kop dan kan niemand hom sien nie, en niemand sal hom vra om iets te doen nie.  Eintlik het hy geglo dat as hy hom ontrek van 'n ding, dan is dit nie meer sy probleem nie.


Dis nie 'n nuwe ding nie, want dit gaan al terug na Adam en Eva wat weggesteek het en geglo het God sal hulle nie raaksien nie.  Hoe baie doen ons dit in ons lewe?  Die out of sight is out of mind mentaliteit.  Ons oortuig onsself ook dat God nie sal weet nie en nie sal omgee nie.  Die ding is dat God ons beter as onsself ken.  Ek is nogal iemand wat sal onttrek as ek iets negatiefs voel, of liewers stilbly om die vrede te bewaar.  DIT meer as die baklei ... vreet aan 'n mens, en alhoewel die ander persone "vergeet" of maak of hulle vergeet, vergeet ek/ons nie.  

Ons kan ons onttrek van mense en/of situasies soveel ons wil, ons kan wegsteek van alles en almal, ons kan mense en/of situasies ignoreer,  maar geen koerant oor die kop gaan ons kan wegsteek van God nie.  Hy weet! 

Ek kan my kop soos 'n volstruis in die grond steek, maar

 "Voor God kan absoluut niks weggesteek word nie.  Ons staan kaalgestroop en weerloos voor die Een aan Wie ons verantwoording moet doen" - Heb 4v13


Tuesday, December 10

Sonder Eskom krag






Dit voel vir my alles is "on hold".  Ek het die afgelope week kans gehad om foto's by 'n "Care Home" te neem.  Die ou mensies was nie te opgewonde om voor die kamera te verskyn nie, en om 'n Kershoedjie op hul kop te kry was 'n uitdaging - toegegee ek was 'n vreemdeling vir hulle.  Maar hoe later hoe kwater - toe hulle eers in die storie kom, het die glimlaggies op die gesigte gekom en het hulle al hoe meer voor die kamera begin staan.  Op die ou einde was dit soveel pret.

Wat my egter opgeval het by die meete van hulle, is almal sit in 'n sitkamer en daar word nie gepraat nie, net iewers na buite gestaar.  Watter manier om mens se dag om te kry!  Waaroor sal hulle dink?  Dink hulle?  Wag hulle vir iets/iemand?  was van die vrae wat ek myself gevra het.  Gaan ek ook so wees as ek ouer is.

Later die dag het my toets gekom en vir geen ander rede (so het ek gedink) die krag wat afgaan, en alles wat ek wou nie, nie kon gebeur nie.  Ek het vir my 'n gemaklike plek gekry om te sit en staar ... maar gou-gou het my kop besig geraak met baie goed wat ek nog moet doen, hoe ongerieflik dit is, ens. ens.  Het gevoel soos 'n resiesperd in die wegspringblokke, ek wou net he die krag moet aangaan dat ek aan my koplysie kan begin werk.  Maar hoe langer ek stil gesit en uitkyk na al die mooi buite, hoe rustiger het my gedagtes geraak en hoe meer het ek begin fokus op wat ek sien, hoe mooi dit is, en oor die EEN wat dit gemaak het en wat Hy vir my wil se.

Ek kon die voeltjies, blomme, berge, sonskyn en selfs 'n verkleurmannetjie geniet en dit alles net omdat ek stil was.  Met besige hande, voete en kop sou dit nie gebeur het nie. 

Ek is nog steeds nie mal oor al die kragonderbrekings nie, maar as dit is wat God wil gebruik om my te wys/leer dat ek moet stil raak, dan sal ek daarmee deel en die beste van die saak maak.  Hy wil dat ek moet stil raak en weet dat Hy God is en dat ek Hom moet sien in alles en almal rondom my.  God is in beheer van my lewe en ek moet alles wat gebeur gebruik om Hom te verheerlik. 

Tuesday, March 28

Wat se my gesig?


Die afgelope week het ek heelwat tyd in dokters spreekkamers deurgebring terwyl ek my ma vir verskillende toetse  geneem het.  Die spreekkamers was anders as waaraan ek gewoon is, want dis meestal ouer mense (ja nog ouer as ek).  Party saam met familie en ander stoksiel alleen.  Die feit dat baie kinders en kleinkinders gerieflikheidshalwe van hul ouers en groot ouers vergeet en iets wat ek baie hier sien, is 'n skrywe vir 'n ander dag.   

Terwyl my ma met die toetse besig was, kon ek hulle rustig dophou.  Op meeste van hulle kon mens pyn, angs en selfs twyfel sien en ek het gewonder is dit is omdat hulle die uitslae vrees of omdat hulle alleen was. Is hulle gered?  Weet hulle waarnatoe hulle gaan na hul dood? Het hulle 'n verhouding met God?  MAAR ... Behalwe vir daardie gesigte, was daar ook die waarop daar groot vrede en vreugde te midde van die siek wees gewys het.

Dit het my laat wonder oor myself en nog ouer word en wie weet dalkies ook die hulp en nabyheid van my kinders gaan nodig he.  Sal my getuienis so wees dat die vrede van ons Pa op my gesig wys?  Sal my kinders vrede he in die wete dat ek soos in 2 Tim 4:7  kan se: Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.   

Ek weet nie van jou nie, maar dis 'n vrede wat ek graag sal wil uitstraal en wil kan se "ek het die geloof behou". 

Thursday, March 16

Klein goedjies wat groot word


Hoeveel keer het ek al gehoor dis die klein goedjies wat groot goed word?  Is dit nie so dat ons graag met mense deel wanneer daar 'n GROOT wonderwerk gebeur, maar oor die klein goedjies wat gebeur bly ons doodstil.  Wat as mense wat die wonderwerke in die Bybel ervaar het stilgebly het daaroor omdat hulle gedink het, dis nie so groot nie?  Daagliks in ons lewe gebeur daar wonderwerke en ons deel dit nie.  

My klein Windows rekenaar wat maklik in 'n rugsak vervoer, was meestal gebruik vir kerkgoed en met my laaste besoek aan die woestyn het ek nog die finansiele state daarop gesit en doen.  Terug in SA wou ek die state in dropbox bere, maar die rekenaar wou nie aanskakel nie.  Die herlaai kabel se liggie wou nie eers brand nie.  In groot nood is twee kabels (net sodat dit nie weer kan gebeur nie) vanaf die woestyn aangestuur, maar die rekenaar was steeds so dood soos 'n mossie.  Die rekenaar boffins in die dorp het net gestaar, gegoogle en gese jammer ons kan nie help nie.  En indien ek die data wil herwin, sal hulle aanbeveel ek stuur die rekenaar terug na die vervaardigers toe.  Na 'n groot gesulk is die rekenaar in 'n sakkie gebere vir wanneer ek eendag dalkies die vervaardigers sien.  

Maar hierdie maand moes ek die state wat op datum gehou is, kontroleer met die wat ek op rekord het, maar dis op die rekenaar wat nie wil werk nie.  Maklike manier is om te vra dat hulle vir my 'n foto van daai state wat uitgedruk is stuur, maar in my oggend studie lees ek in Filippense 4:6  "Do not be anxious about anything, but in every situation, by prayer and petition, with thanksgiving, present your requests to God."  Dit se nie, vra en bid vir groot goed nie maar wel "in every situation present your request to God".

En dis presies wat ek toe doen.  Haal die rekenaar uit sy sakkie en bid vir hom.  Natuurlik is daar altyd twyfel en ek is half versigtig om dit aan te skakel en gaan maak eers koffie. Terug in die studeerkamer, prop ek die kabel in en ..... daar brand die liggie!!  Vinnig is alles oorgedra na die ekstra geheue en die rekenaar terug in sy sakkie.  

Hoekom twyfel ons somtyds in God?  Hoekom dink ons, net groot goed moet na Hom toe gebring word.  Weereens wys God vir my dat klein goedjies net so belangrik is want dit kan groot goed veroorsaak.  My frustrasies met die rekenaar het defnitief meer skade gebring aan my getuienis as Sy kind as wat iets groots miskien sou bring.  En weereens wys Hy my dat ek regtig met alles na Hom toe kan kom en dat ek Hom alles en enige iets kan vra. 

Iemand vra my gister, werk die rekenaar nog?  Ek moet erken ek het dit nie weer aangeskakel nie, want ek het mos net gevra om die data af te laai, maar as ek hier klaar is, gaan ek dit weer aanskakel, want as dit Sy wil is, kan dit weer gebruik word. 

Sunday, March 5

Hy praat met my in 'n pyl en boog ongeluk


Die afgelope week het sy kwota drama opgelewer, en een daarvan was, iemand wat met reg my tweede ma genoem kan word, wat met 'n frats ongeluk deur 'n pyl gewond is. Die pyl is die eenkant van haar sy in, en die ander kant uit, met die res wat natuurlik iewers in die middel vassit.  'n Noodoperasie later en gate in die derms wat deur die pyl veroorsaak is.  Sy is op die oomblik stabiel en beter en ons bid net dat daar geen infeksie is met al die slegte vloeistof wat uit die derms deur die 8 gate uitgeloop het nie. 
Ek kan nie vir julle se hoeveel keer terwyl ek die storie vertel of daaraan gedink het ek nie ook gedink het aan Jesus wat ook n steekwond in Sy sy gekry het nie.  Ons was so bekommerd oor haar minute nadat dit gebeur het en natuurlik nog steeds.  Ek kan my nie eers begin indink hoe God moes voel terwyl Hy moes toekyk hoe Sy Seun aan die kruis sterf nie.  Hoe Hy moes kyk hoe hulle Jesus in Sy sy steek.   Pyn, en dan praat ons nie eens van die spykers in Sy hande en voete nie. Pyn vir my.

For God so loved the world that He gave His one and only Son, that whoever believes in Him shall not perish but have eternal life. - John 3:16

En dit alles vir my en jou!  Dat Hy ons so lief het!  Dat Hy die wereld so lief het!  Sodat ek, 'n sondaar verewig by Hom in die hemel kan wees.  Onbeskryflik groot!