Wednesday, July 27

Die park van Edith

Wanneer jy Riviersonderend binne kom, en net nadat jy vir koffie gestop het, is die parkie aan die linkerkant.  Nie baie parkies op die N2 nie, dis verseker en seker een van die redes hoekom dit destyds 'n plek was waar die toeriste gestop het.  Nou is dit net 'n parkie waar almal verby ry of hulle honde vir 'n draaitjie neem.  

In 1923 koop die kerkraad 'n stuk grond van Mev Edith McIntyre.  Later word die stukkie grond voor die kerk, 'n aanstoot vir die mense.  Fondse is min, maar sonder enige munisipalefondse begin twee inwoners, Harry & Anna Knoblauch met die tuin projek.  In die jare wat kom raak inwoners ook betrokke en word daar baie fondsinsamelingsprojekte en donasies ingevorder om die park mooi te maak.  

Ek wens daar was 'n foto beskikbaar van die tuin in sy gloriedae.  Daar was grasperke en roosbome met 'n heining om, 'n visvywer met spuitfontein en gekleurde liggies, gipsbeelde van lewensgroot grysbokkies, kraanvoels, dassies op die pilare by die twee ingange - 'n ware toeriste attraksie. Die park word dan ook op 12 Augustus 1960 amptelik geopen en vernoem na die oorspronklike eienaar van die grond "Edith Park".  
In 1938 tydens die simboliese Ossewatrek los die Dirkie Uys ossewa sy wielspore in sement by die skool in Riviersonderend. Met aanbouings ens. was daar nie 'n plekkie vir die geskiedkundige spore nie.  Tydens die Afrikaanse Taalfeesviering in 1975 word die blok by die parkie gesit deur die Taalfeeskomitee.

Alhoewel die gras gereeld gesny word, word die park nie heeltemal in stand gehou nie.  Met meer bewusmaking, is daar tydens Mandela dag (2022) deur die plaaslike Agri heinings geverf en beddings skoongemaak waaroor ons baie dankbaar is.  

Waar al die beelde van die eens trotse Park nou is, weet ek nie.  Wat ek wel weet is dat dit 'n park vol geskiedenis is, 'n park wat deur die dorp se mense vir sy mense geskep is.  En net die dorp en sy mense kan dit weer 'n positiewe toeriste attraksie maak.

So as jy weer die lang pad na die Oos-Kus en Tuinroete aandurf, rek bietjie bene daar by die parkie, kyk na die ossewaspore en loer ook na die pragtige kerk wat vanjaar 100 jaar oud word.

Mooi dag, praat weer!

Sandra


No comments: