Die kinders en dorpie was nog klein toe ons Abu Dhabi toe getrek het. Winkelsentrums was nie-bestaande, dus was daar een keer 'n maand 'n uittog na Dubai, waar daar darem so 2/3 sentrums was. Vir een of ander rede was daar die spesifieke mall wat 'n reaksie van die agterste motorsitplek gelok het ... Lamcy Plaza. Die dorp en geboue het destyds by die Hard Rock cafe begin en dan vinnig daarna ry mens verby Lamcy en dan kom die Holloway-koor "It's a wooooolf, it's a wooooolf". Moenie vra hoekom nie, ek weet nie. Miskien het dit iets met 'n wolf en skaap (lam) te doen.
So met ons vorige besoek het ons gou-gou ook by Lamcy gaan inloer om te kyk hoe dit 10 jaar later lyk en die antwoord was .... dis nog presies dieselfde en vir 'n mall in Dubai is dit nogal 'n prestasie wat almal brei uit. Miskien is hierdie lammetjie se wol nou op en kan nie uitge"brei" word nie.
Dis 'n anderste mall met vyf oop vloere en die winkeltjies vloei so een binne die ander in en dis vreeslik deurmekaar. Baie bekende name soos Levi's en Mr Price is ook daar. Jinne kan mens dit in een asem noem? 
Maar niks kan hierdie twee shoppers onderkry nie en hulle het alklaar nuwe sakkies. Hier het Nelmari nog klere gesoek vir die dans tydens die Volleybal toer.
Maar bidtyd is bidtyd en dan sit hulle sommer net 'n bordjie op die toonbank en niks kom agter slot en grendel nie.
Ek onthou destyds hoe die kinders hulle kon verkyk aan 'n mannetjie wat op en af met 'n tou klim ... en ja.... na tien jaar klim die mannetjie nog, ek kon dit amper nie glo nie.
Met moee voete en droe kele kon ons uiteindelik by Starbucks 'n sap kry om te drink. Shopping is nie vir sussies nie .... veral nie as mens saam met die pro's stap nie.