Wednesday, July 27

Die park van Edith

Wanneer jy Riviersonderend binne kom, en net nadat jy vir koffie gestop het, is die parkie aan die linkerkant.  Nie baie parkies op die N2 nie, dis verseker en seker een van die redes hoekom dit destyds 'n plek was waar die toeriste gestop het.  Nou is dit net 'n parkie waar almal verby ry of hulle honde vir 'n draaitjie neem.  

In 1923 koop die kerkraad 'n stuk grond van Mev Edith McIntyre.  Later word die stukkie grond voor die kerk, 'n aanstoot vir die mense.  Fondse is min, maar sonder enige munisipalefondse begin twee inwoners, Harry & Anna Knoblauch met die tuin projek.  In die jare wat kom raak inwoners ook betrokke en word daar baie fondsinsamelingsprojekte en donasies ingevorder om die park mooi te maak.  

Ek wens daar was 'n foto beskikbaar van die tuin in sy gloriedae.  Daar was grasperke en roosbome met 'n heining om, 'n visvywer met spuitfontein en gekleurde liggies, gipsbeelde van lewensgroot grysbokkies, kraanvoels, dassies op die pilare by die twee ingange - 'n ware toeriste attraksie. Die park word dan ook op 12 Augustus 1960 amptelik geopen en vernoem na die oorspronklike eienaar van die grond "Edith Park".  
In 1938 tydens die simboliese Ossewatrek los die Dirkie Uys ossewa sy wielspore in sement by die skool in Riviersonderend. Met aanbouings ens. was daar nie 'n plekkie vir die geskiedkundige spore nie.  Tydens die Afrikaanse Taalfeesviering in 1975 word die blok by die parkie gesit deur die Taalfeeskomitee.

Alhoewel die gras gereeld gesny word, word die park nie heeltemal in stand gehou nie.  Met meer bewusmaking, is daar tydens Mandela dag (2022) deur die plaaslike Agri heinings geverf en beddings skoongemaak waaroor ons baie dankbaar is.  

Waar al die beelde van die eens trotse Park nou is, weet ek nie.  Wat ek wel weet is dat dit 'n park vol geskiedenis is, 'n park wat deur die dorp se mense vir sy mense geskep is.  En net die dorp en sy mense kan dit weer 'n positiewe toeriste attraksie maak.

So as jy weer die lang pad na die Oos-Kus en Tuinroete aandurf, rek bietjie bene daar by die parkie, kyk na die ossewaspore en loer ook na die pragtige kerk wat vanjaar 100 jaar oud word.

Mooi dag, praat weer!

Sandra


Thursday, July 21

Weggesteekte Juwele

Ons land Suid-Afrika is mooi.  Dis nie net 'n Suid-Afrikanerhart wat so se nie, maar besoekers aan ons mooi land, stem 120% saam.  Dit was nog altyd 'n droom om deur die land te reis en nuwe plekke te sien, maar op my ouderdom raak dit alhoemeer onwaarskynlik.  Dus, om "nuwe" plekke reg rondom en naby my te sien is 'n blessing, wat ek baie geniet.  'n Uitnodiging om Malgas toe te gaan (waar ek al 'n paar keer was), raak so 'n geleentheid.  Ek weet nie of dit ouer oe is wat anders kyk nie, maar die werkende verkeerslig naby die afdraai Malgas toe, vang my oog.



Dis eers toe ek die groenlig sien, wat ek besef dit wys die oulike winkel is oop.  Moenie daar stop net voor ete nie, want die reuk van vars gebakte brood is 'n groot versoeking.


Alhoewel dit 'n grondpad is, maak die mooi op vir die geskud.  Die vriende saam met wie ek ry, hou verby die afdraai Malgas toe en nou is ek op 'n nuwe pad vir my.  Nuwe plek om te sien!  Ons ry tot by Infanta 'n pragtige kusdorpie naby Swellendam. Oppad is ek nuuskierig en google die dorp.  Dis gelee langs die Breede rivier by St Sebastian baai.  Die baai is ook bekend as "creche" van die walvisse.  En daar is dit ... 'n paar walvisse in die water!!  Ek kan heeldag sit en foto's neem en wag vir daai oomblik wanneer die walvis sy kop of stert by die water uitsteek, maar daar is plekke om te sien.


Aan die anderkant van die rivier is Witsand en ek kan verstaan hoekom die mense die plekke 'n "geheim" wil hou.  Saam is die inwoners van die 2 dorpies baie minder as 'n 1000 en dis 'n ideale plek om te kayak. Dit is ook gewild vir  "kitesurfing" en "windsurfing".  O ja, en visvang. 
.
Oppad terug draai ons wel op die Malgas pad vir 'n heerlike middagete by die Malagas hotel.  Hierdie hotel op die wal van die Breede rivier is defnitief 'n plek waar mens kan bly.  Daar is selfs rivierbote sou jy liewer op die water wil slaap. 


Ek wil defnitief weer die plekke besoek, dis mooi, dis rustig en 'n blessing.

"En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien
volgens Sy onderbaarlike rykdom in Christus Jesus"
Filippense 4:19

Mooi dag, ek praat weer
Sandra


Tuesday, July 19

Baie Mooi en Geskiedenis

'n Lekker winterson uitstappie en ek ry op 'n splinternuwe pad vir my, maar in werklikheid is die pad horingoud.  Ons ry oor 'n ou brug en die Sonderend Rivier.  Vroeg in die geskiedenis 1669 het 'n VOC soldaat reeds van die rivier gepraat, en is dit die "Rivier Zonder Endt" (the endless river) genoem.  Later in 1707 het hulle dit die Kanna-kan-kann genoem wat die Hessequa Khoi se naam vir "water, endless water" beteken.

Dis net daar langs die rivier wat die "Ou Kaapse Hoofweg" loop.  Tussen 1670-1850 is die pad gebruik om by oa 'n veepos te stop vir kos en water oppad Stormsvlei en Swellendam toe - Riviersonderend het nog nie bestaan nie - al die pad vanaf die Kaap. Dis moeilik om 'n prentjie te sien van ossewaens, perdekarre, perderuiters.  Ek kan net dink aan al die lekker gesels, besprekings rondom die geelhout en stinkhout bome, die roete met sy uitdagings en plekke waarnatoe hulle oppad is.  Een ding is verseker, hulle sou nie petrolpryse tydens die rit bespreek het nie.  (Miskien moet ons teruggaan na perdry en waens)


By die gedenkteken, is die begrafplaas van heelwat mense wat 'n groot rol in Riviers se geskiedenis en ontstaan gespeel het, daarvan vertel ek later.


Die pad loop nie net verby geskiedenis verby nie, maar ook baie mooi  sover as die oog kan sien. 

Tegnologie mag dalk verander het, maar dit wat God geskep het, staan nog net so mooi daar vir ons om te sien en te weet dat Sy liefde vir my en jou ook dieselfde bly.

"Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie,
my vredesverbond met jou sal nooit wankel nie, se die Here wat jou liefhet"
Jesaja 54:10


Mooi dag, praat weer

Sandra



Monday, July 18

Van die See na die Berge

Dis baie lank terug wat ek laas geblog het.  Die stories het opgedroog nadat ek uit die woestyn weg is, maar dis tyd vir nuwe stories.  Die grootste een is dat ek intussen van die see na die berg getrek het en ek nou in 'n pragtige klein dorpie op die N2, wat mens amper kan mis ry  ... Riviersonderend woon.

                                              Foto geneem deur Lee Young

Met die dorpie wat volgende jaar'n 100 jaar word en liefde vir geskiedenis, het ek begin oplees van die dorp se ontstaan.  So kan my kleinkinders wat in die buiteland is, ook meer sien en leer van waar ek bly en van ons pragtige land.

As mens die inwoners vra, "wat is in die dorp om te sien" is die standaard antwoord (meestal) "niks" en dis nie waar nie.  Daar is die pragtige berge, rivier, plase, canolas en soveel meer.  Kom kuier saam my, waar ek die mooi deel van ons land deel. 

Praat weer

Sandra