So 'n week terug was dit tyd vir ons maandelikse uitreik kerkdiens in Ruwais/Ghiyati en sommer ook 'n geleentheid om 'n terrein te soek vir die vroue retreat later in November. Dit het beteken ons moes ry in die rigting van Liwa en alhoewel ek jare terug ook daar was, was dit weereens 'n ongelooflike ervaring om so deur die woestyn te ry.
Die woestyn hier is verskriklik mooi want die duine is regtig allerhande kleure.
En natuurlik het ons so baie kamele gesien. Lanklaas soveel swart kamele bymekaar gesien. Het hier gedink aan 'n ou blogvriendin wat so dol oor kamele was.
Orals was sulke kampies waar kamele gestaan het, met tente waar die "eienaars" kuier. Ek weet dit was nie die arbeiders nie, want die 4x4's het langs die tente gestaan. Dis gedurende hierdie saamtrekke wat kamele oor en weer verkoop en gekoop word. Met die swart kamele baie meer waardevol as die waaraan ons gewoond is.
En mens hoef nie te wonder hoekom nie, want sommer naby is die kameelresiesbaan.
Daar was nie 'n wedren aan die gang nie, maar heelwat eienaars het hulle kamele geoefen.
Die eienaar se kamele oefen gewoonlik in 'n trop met 'n "handler" wat hulle deur hulle oefening stappe neem.
Belangrik en snaaks is die eienaar wat aan die binnekant van die baan saamry met sy motor en bevele uitskree ...
Vroeer jare het 'n jokkie die kamele laat oefen, maar deesdae gebruik hulle 'n radiobeheerde "swepie" op die kameel se rug wat hulle aanjaag. Julle kan gerus onder by die label gaan kyk na "kamele" waar ek voorheen hieroor geskryf het. Die foto is van 'n vorige inskrywing.
So tussendeur die kamele het ons ook 'n retreat-plek gekry en toe ons eintlik wegry van Liwa kon mens die kontras tussen die "woestyn" en die "oase" baie duidelik sien.
Kyk net hoe groen is dit in die dorp wat in die diep-woestyn le.
En dieselfde pad net 'n entjie verder... hier kom die woestyn weer.
2 comments:
Die woestyn het sy eie nostalgie. Great fotos soos altyd.
Mooi bly
DesÃre {Doing Life - my personal blog}
Ek stem saam dat jou foto's mooi is Sandra.
Post a Comment