Monday, July 28

Berge, sirkels en mooi herinneringe


Ons planne vir die dag word omvergegooi deur 'n missiel van 'n ander land naby se kant en daar is 'n waarskuwing dat mense nie dorpies nader as 40 km van grense besoek nie.  Dis nogal sleg maar ons besluit om solank 'n ander dag se trip te doen en hoop dinge werk uit.  
DSC_0474

Beit She'arim is eerste op die lys en die gids is reg om ons rond te wys.  
Page1

Dis nogal interessant om ook 'n ander sy van die land en sy mense te sien.  Die "grotte" grafte wat oopgegrawe is en Charmaine staan by 'n amfi-teater.  Hulle het darem nie 'n plek gebou sonder een waar hulle kan vergader en kuier nie :-).   
Page2
Die bome en gras saam met die besienswaardighede (dis ook 'n natuurreservaat) maak dit 'n heerlike rustige plek om deur te stap.  Nogal snaaks was een van die geskrifte wat bo op 'n graf geskryf was "Good luck in your resurrection" :-).   
Page3

Volgende stop Mount Carmel waar die gebeure van 1 Konings 18:1-45 plaasvind.  By die monestery op die berg kan mens ver kyk, en al die plekke sien.  Die Kishon Rivier, Vallei van Megigo, ook bekend as die Vallei van Armageddon. 
Page5
Daar is mooi aanwysings en die gids wys ons ook waar is die Jazreel vallei waar die bybel van praat as die plek waar die "armies" gaan bymekaar kom, Mount Tabor, Mount Gilboa waar Koning Saul selfmoord gepleeg het, en die Harod Vallei terwyl sy die stories rondom dit vertel.  
DSC_0513
Ons het al lankal agtergekom dat die mense wil soveel moontlik geld uit die toeriste maak en 'n omie wat ons help met die pad, nooi ons om na hulle olyfbome en weet nie wat alles te kom kyk nie.  Ons stel dit duidelik dat ons nie daar wil eet nie, sy vrou het 'n tuisrestaurant, maar skaars het ons gesit of die voorgeregte word neergesit.  Elriza se nog, ons betaal nie meer as 50 shekel nie, toe se die omie 100 per persoon.  Aan die einde wou hy ook 28% belasting bysit en ekstra omdat hy met ons gepraat het :-).  Een van ons duurste etes op die toer en 'n duur les in om nie almal te vertrou nie. 

Hulle is deel van die Drews geloof en ons leer iets nuuts. MAAR glo my, om van hulle woonbuurt, op die berg af te kom, was erg en ons ry vir omtrent 'n uur in sirkels.  Eintlik dink ek ons het gesorg vir die dorp se vermaak, want ons het hoeveel mense in die nou straatjies 'n paar keer verbygegaan.  As ons stop vir aanwysings, verstaan hulle nie engels nie, maar se met 'n groot glimlag, nex left, then straight, then ask again. En so het ons heen en weer deur die dorp gekry.  Dink daaraan, as elkeen se aanwysings "left" is, dan ry mens in 'n sirkel... oor en oor en oor!

Orals oppad terug is die jongmense van die land besig om aan te meld vir weermag diens, en busse laai honderde jong manne en vroue wat langs die pad in hulle uniforms staan op.  Die land is besig om gereed te maak vir 'n grondaanval.  By die blyplek is hulle ook besig om die bomskuiling reg te maak en toe te rus en ons stem al drie saam, dat ons dalkies ons planne bietjie moet wysig en probeer om nou binne die volgende dag of twee oor die grens te gaan. (Ek verduidelik in die volgende blog hoekom). Met die besluit geneem, begin ons blyplekke kanselleer en nuwes soek, en weet net dit was die regte besluit en iemand groter is in beheer, toe die kansellasies presies op die laaste dag val wat ons dit verniet kan doen sonder om enige geld te verloor - en dit het ons nie voor die tyd geweet nie.  
Page6
Rustiger nadat al ons nuwe planne in plek is, pak ons die laaste dag langs die See van Galilee aan deur die Mount of Beatitudes te besoek.  
Page7
Die plek waar Jesus vir 3 dae gepreek het (Matthews 5-7).  Orals is versies uit Matthews langs die paadjies, dit is so rustig en die uitsig is ongelooflik.  
Page8

By 'n fonteintjie die woorde "Let anyone who thirst come to me and drink...."  Johnannes 7:38 "Anyone who is thirsty may come to me!  Anyone who believes in me may come and drink!  For the Scripture declare;  'Rivers of living water will flow from his heart'"
Page9
Dit was die uitsig van die duisende mense wat na Jesus se bergrede geluister het!  Dis ook die plek waar hy die duisende met 5 broodjies en 2 vissies kos gegee het.  

Die 5 dae wat ons langs die see en omgewing spandeer het, was 'n ongelooflike ervaring en blessings - 'n plek waarnatoe ek beslis weer sal wil terugkom.  



Friday, July 25

Bomskuiling, ongeluk en toe die see ...

Dis heeltemal nie ek om vir die grootste deel van die dag, op vakansie, geen foto's te neem nie, maar dinge was nie heeltemal maklik toe ons in Jerusalem wegry met ons gehuurde motortjie oppad Tiberius toe nie. Tel Aviv, 'n stad wat ons wou mis ry weens die misiel-aanvalle daar, is die plek wat ons moet stop vir 'n padkaart.  Padaanwysings is swak, malls is kantore en mense praat nie engels nie, ons sukkel.  'n Klein reisagentskap kom tot ons redding met 'n kaart en die sirenes begin afgaan.  Almal spring op ... come come se hulle en daar gaan ons straat af na 'n skuiling, saam met klomp ander kantoorwerkers, tot dit veilig is.  Die mense vat dit heel casual, want hulle doen dit 'n paar keer op 'n dag.  Met die kaart in die hand en glad nie veilige gevoel nie, besluit ons om so gou moontlik uit die stad te kom.  Maar selfs voor ons daar is, is daar nog 'n aanval en hierdie keer skuil ons saam met ander onder 'n brug.  Toe 'n vrou se stem hard oor luidsprekers oor die stad begin praat, besluit ons dit beteken seker alles is veilig en kan nie gou genoeg in die motor kom en die pad uit Tiberius toe soek nie.  

Dis een ding wat my opgeval het, dat in hierdie toestand van oorlog, daar nie regtig aan toeriste gedink word nie, tensy mens die taal verstaan ... toegegee daar is hier en daar 'n plakkaat in engels wat se waar 'n bomskuilding is, maar as jy nie die stad ken nie, help dit niks.  Nie 'n stad waar ek sal wil bly nie en sonder om iewers kant te kies teen die oorlog wat nou aangaan ... as die land nie 'n goed toegeruste weermag gehad het wat die klompe misiele daagliks afkeer nie, was dorpe soos Tel Aviv seker al plat.  

Nog is dit einde niet, want daar is nie 'n pad uit nie :-)!  Ons stop en vra en eintlik kry ons dit, net om die volgende oomblik 'n bus te he wat uitdraai reg binne ons vas.  Terugkyk nou, kon ons seer gekry het want dis nogals 'n lelike duik, maar ons is beskerm.  Die busbestuurder blameer ons, sy engels sleg, maar gelukkig het 'n passasier gesien wat gebeur het en ons kan 'n naam en nr kry.  Ek vra nog ewe of ons die polisie moet bel, soos wat dit in SA en UAE gebeur, maar die jongman se, "die polisie het veel ernstige dinge soos 'n oorlog om te baklei, ongelukke is niks".  :-)

Ons bestuurderes, Charmaine kry ons veilig uit die dorp!  Soos ons ry, sien mens name van plekke wat jy nog net gelees het van, en agter in die motor sit 'n ensiklopedia met die naam van Elriza, wat ons vertel van berge, dorpe en wat daar gebeur het in die Bybelse tyd.  

As kinders het ons altyd gekyk wie sien die see eerste, en met dieselfde opgewondenheid na 'n paar uur se ry sien ons die See van Galilea!  
Page1
Ons kon nie gou genoeg afpak en ry om te gaan kyk nie.  Galilea, die plek waar Jesus meeste van Sy tyd op aarde gespandeer het en waar Sy bediening was.  Ongelooflik om daar te kan staan!
Page2
Ons kry die aand die oulikste eetplekke buite op die see om te eet en natuurlik is daar van ons wat onmiddelik die tradisionele varswater vis van die See van Galilea, die St.Peter's vis, moet eet.
Page3

Die volgende dag besoek ons Capernaum, daar waar Jesus vir Peter gese het "volg My" en ons kyk weer uit oor die see waar Hy die storm stilgemaak het en ook op die water geloop het.  Anders as in van die ou stede waar ander plekke bo-op die ander gebou is, is die see nog die see waar alles gebeur het.  Ons raak stil.  
Page4

Hierdie kerk is herbou op oorblyfsels van 'n vorige kerk.  'n Kerk op 'n rots.  Elriza staan hier by van die trappe van die vorige kerk.

Page5

Ons besoek vinnig die plek waar Jesus die bergrede (Matt 5-7) gepreek het, maar dis gesluit .... sal weer kom.
Page6

'n Draaitjie by die Ancient Galilee Boat museum.  Op die foto bo links 'n boot wat hulle uit die water gehaal het en wat dateer uit die tyd 40vC.

Page7

Hier is nog van die mosiak kunswerke aan die buitekant van die museum.  Kan julle sien watter storie dit uitbeeld?
Page8

Ons geniet die omgewing van die See van Galilee verskriklik baie en die volgende dag is dit tyd vir ons rit op 'n dhow op die see.

DSC_0442ii

Vandag maak mense gebruik van ander manier om op water te loop.

Page9
Ons boot se naam is Faith en dis die enigste boot wat deur Christene gestuur word op die meer.  Ons vaar 'n ent in die see in en luister na 'n kort boodskap uit Mattheus.  Daarna wys Daniel vir ons hoe hulle destyds visse gevang het, en sowaar ons vang ook een vissie :-).  Na dit lei hy worship van 3 liedjies, ek sal more probeer om een op te sit dat julle kan luister.  
Page10
Van die kunswerke rondom die museum en by die see.  Hierdie was so 'n spesiale paar dae sover ... ons geniet die omgewing, Tiberius en die See verskriklik baie.

Thursday, July 24

Ons loop waar Jesus geloop het


Ons is nog besig om die vorige dag se sien, ervaar en beleef te verwerk, toe is dit alweer tyd.  Met die mortiere wat die vorige nag hewig lawaai gemaak het, wonder ons of almal land uit is en iemand vergeet het om ons daarvan te se, maar ons sien vinnig dat die ou stad nog propvol toeriste is.  
Page1

Ons begin by die Mount of Olives waar Jesus opgevaar het (Hand 1:8-12) en waarna Hy sal terugkeer (Zach 14:4).  Ons kyk uit op die ou stad en waar ons die vorige dag geloop het. Ons toerleidster beduie ywerig van die olyfbome.  Oppad af sien ons ook die joodse begrafplaas wat al 3000 jaar gebruik word en waar daar plek was vir 150000 grafte.   Baie grafte deur die jare is beskadig en ook met die bou van die hotel en paaie meer onlangs.  Dis 'n belangrike plek vir die jode want hulle glo dat wanneer die opstanding kom, die wat hier begrawe is, eerste sal opstaan.  
Page2

Daar is heelwat kerke oppad af.  Omdat die berg 'n assosiasie met Jesus en Maria het, is dit 'n groot besienswaardigheid vir Ortodokse, Katolieke en Protestante.  
Page3

Die tuin van Getsema is ons volgende stop. 'n Plek wat Jesus en sy disippels besoek het en ook waar Judas Hom die aand van sy arrestasie gekry het.  'n Studie het bevind dat 'n paar van die olyfbome in die tuin van die oudstes ter wereld is - hulle praat van duisend jaar en meer.  DNA toetse het ook gewys dat al die bome van huidiglik in die tuin is almal van die selfde saad afkom.  Dit was vir my nogals amazing om hier die tuin te besoek en bietjie stil te wees daar.  
Page4

'n Katolieke kerk wat gebou is naby waar Jesus gebid het, die Church of All Nations kerk is ook 'n besonderse kerk om te gaan kyk.  

Page5

Vandaar is ons verder af met die koppie, terug by die ou Stad waar ons op die Via Dolorasa roete geloop het.  Alhoewel ons weet dis nie die regte pad wat Jesus geloop het terwyl Hy Sy kruis gedra het na die plek waar Hy gekruisig is nie, was dit 'n besonderse pad om te stap.  Die roete het al 'n paar keer verander deur die jare en vandag is daar 9 stasies van die kruis, met 5 wat in die Church of the Holy Sepulchre is. 
Page6

Dis nou gangetjies en kerke orals en 'n mens kan bietjie afdwaal.  Watter pad om te vat want elkeen wys 'n ander rigting ....
Page7

Die bad van Bethesda is nog 'n stopplek.  In Johannes word daar oor die "bad" geskryf en behalwe vir daar was daar geen bewyse dat so 'n plek bestaan het nie en het mense getwyfel of die boek wel deur Johannes geskryf is en nie deur iemand anders later nie. 

Page8

In die 19de eeu is oorblyfsels van die bad wat Johannes se beskrywing pas wel opgegrawe.  Daar is ook 'n klein kerkie naby gebou.  Die tuin was een van die rustige plekkies waar mens net wou sit en rus in die hitte. 
DSC_0267

Hoe moet ons nou weet waarnatoe volgende as die gids nie weet nie?   
Page9
Ai en daar het sy die plek wat sy soek en hier gaan ons weer, hierdie keer oppad na die church of the Holy Sepulchre.  
Page10
Hier was ek en seker die ander twee heeltemal verstom oor hoe besoekers inkom en voor van hierdie plekke buig, bid, glo 'n klip gaan hulle genees as hulle daaraan vat en dan aan die "siekplek", ens. ens. Alhoewel dit plekke en goed is wat dui op Jesus se kruisiging, die graf, die steen voor die graf, ens. word dit ook genoem dat dit nie die regte plekke is nie ... maar steeds "aanbid" mense dit.  Ek het hartseer daar uitgestap en dit het gevoel asof dit vir party soos afgodery is.  Ons hoef mos nie vir 'n klip te bid nie... ons het mos 'n Pa wat luister. 
Page11

Maar dit vat nie die feit weg dat hierdie kerke ongelooflike rykdom aan oa oorspronklike skilderye het nie. Party is so oud dat mens dit nie kon afneem nie, so donker was die skildery.  
DSC_0332
Na 'n lang dag, groet ons die ou Stad om aan die einde van die toer weer te besoek (wat nie gebeur het nie weens die oorlog).  Ons gids is nog fiks en sy ken die straatjies en die ou tannie kom agterna.  Ten minste kan ek foto's neem :-).  

Ons is ook dankbaar om more in die rigting van Tiberius te gaan waar dit rustiger tov die konflikte in die land is.  






Wednesday, July 23

Ons besoek die Ou Stad

Vandag besoek ons die ou Stad en dis een van die plekke wat ek nog altyd wou sien.  Ons is super opgewonde.  
DSC_0064 (1)

Die Jaffa hek is sommer naby ons blyplek. In ons studie vir die dag word ons herinner dat ons vandag "bo-op" baie geskiedenis gaan loop.  Van Abraham tot David tot Jesus tot vandag....   
Page1
Nie op die beplanning nie, maar ons eerste stop is die David-toring museum en ons is glad nie jammer nie. Die naam is deur die Byzantine Christene gegee omdat hulle geglo het dit is die paleis van koning David. As hierdie mure kon praat, sou hulle vertel het van David, Solomon en koning Hezekiah.  Baie jare later word 'n muur en groot toring by gebou.  Herodus bou nog drie torings by 37-34 vC nie net om die stad te verdedig nie, maar ook om sy paleis op Mount Zion te beskerm.  Die hoogste toring is na sy broer Phasael vernoem, die tweede een na sy tweede vrou Miriam en die derde na 'n vriend Hippicus.  Slegs die Phasael staan nog vandag.  
Page4

As die mure hulle storie kon vertel ....Na die vernietiging van Jerusalem deur die Romeine was die plek gebruik om die Romeinse soldate te huisves en later het monnike hier gebly.  Vir 'n klompie jare ook arabiere.  Die Crusaders bou nog 'n toring as uitkyk om die pad van Jaffa te beskerm. Dit word 'n paar keer afgebreek en opgebou en vir 400 jaar gebruik Turkse troepe dit.  Die Ottomans bou 'n moskee en minerat wat vandag nog staan.  Meer jare later toe die Britte die stad inneem word dit amptelik vanaf die ingang van die toring afgekondig.  'n Klomp geskiedenis feite ek weet, maar terwyl ons daar was en oor die stad kon uitkyk van die mure kon mens die oud en geskiedenis voel.  
Page2

Ons "toerleier" pak hierdie strate aan asof sy hier gebore is :-), en ons volg. 
Page5

Ons loop op die stadsmure en het 'n uitsig oor die meer moderne stad buite die mure en oa Mount of Olives.

Page6
Die Davidson museum wat inligting en feite oor die Westelike en Suidelike Muur asook die Temple Mount het, is volgende.  Dit sluit ook die argeologiese park in.  Hier kan mens trappe klim wat 2000 jaar oud is en daar is baie opgrawings waar heelwat ontdekkings tov die geskiedenis van die stad gevind is.
Page7
Dis nogals 'n ondervinding om deur plekke te stap vanaf die Canaanite (brons tydperk) regdeur tot die tyd van is Eerste tempel periode, die tweede tempel van koning Herodus.  Hier kan 'n mens duidelik sien dat die paaie waarop ons loop in die huidige ou stad nie heeltemal die oorspronklike is nie, want die opgrawings gaan 'n paar verdiepings af.

DSC_0162

Dit raak baie warm :-).  Nie dat ons nie hitte in die woestyn gewoond is nie, maar hierdie is anders.

DSC_0168

Ons spandeer ook tyd by die Westelike muur en ek moet erken dat ek my by tye verkyk het aan die mense wat al die pad kom, om by 'n muur te kom bid en dan is daar al die rituele wat hulle glo help hulle meer om hulle gebede verhoor te kry.  Ek's bly ek het nie nodig om dit te doen nie.   
DSC_0179
Na 'n vol dag van sien, voel, ervaar, inneem is dit tyd om bietjie te gaan rus en by die Jaffa hek, sit iemand en harp speel.

Nie dat ons nog nie die alarms en ontploffings gehoor het nie, maar vanaand is dit erger en die sirenes is meer deur die nag.  Mens skrik wakker daarvan en wonder wat en hoe as daar nou iets naby moet gebeur. Gelukkig is die blyplek halfpad onder die grond.  Die eienaares se sy kyk nie eers meer nuus nie, want wat moet hulle doen, dis hulle huise en plek, hulle kan nie elke keer hardloop nie.  

Tuesday, July 22

Grensposte en die pad van die Goeie Samaritaan

Ons is opgewonde oor die dag, maar 'n bietjie gestress oor wat voorle.  Ons loer na die nuus met een oog en sien dat die oorlog in die land waarna ons oppad is, besig is om spoed op te tel.  Maar ons troos onsself dat hulle mos nie mense deur die grens sal laat gaan as dit gevaarlik is nie.  
DSC_0448
Dus 'n goeie ontbyt wat ons deur die hele dag moet dra, wie weet hoe lank dit by die grenspos gaan wees.
Page1

Ons het 'n goeie gids/bestuurder wat ons die laaste entjie in Jordan rondry en ons by die grenspos gaan besorg.  Hy gee vir ons 'n papier wat die prosedures mooi verduidelik oor wat ons kan en nie moet doen nie. Tussen-in verkyk ons ons aan die heeltemal ander landskap as wat ons die vorige dag oppad Petra toe gesien het.  
Page2

Laaste foto'geleentheid voordat ons die kamera moet bere vereers.  Aan Jordan se kant is die gids die heeltyd by ons en help en verduidelik wat en hoe.  By elke venstertjie moet mens geld uithaal en betaal vir ek weet nie wat nie, maar ons doen dit met 'n glimlag en se vir almal om asb nie die paspoort te stempel nie. Elke keer as ons 'n stempel hoor, kyk ons benoud vir mekaar, maar gelukkig is dit nie in ons paspoorte nie. Dan op die bus en weer moet ons betaal om ons bagasie ook saam te neem, gordyntjies styf toe dat ons nie kan sien nie en oor die grens.  

Aan die ander kant is daar lang deurmekaar toue en ons kry warm ... betaal weer om die bagasie afgelaai te kry.  Drie verskillende lang toue later, met 'n genadiglike skoon paspoort sonder stempels is ons deur met geen bestuurder insig nie.  Hierdie mense is so ernstig en moet nie probeer om iewers 'n telefoon in die hande te kry nie ... hulle vra eers waarom en dan vertel hulle jou mooi in swak engels, sit en wag.  Vir die wat nie weet nie, ons moes ons simkaarte verwyder want ons mag nie daar wees nie, anders kan ons nie teruggaan nie.  Die bestuurder is 20 min laat, maar hy se "only 20 min" so dis nie te sleg nie.  
DSC_0049
Met waarskuwings om te minste uit die Wesbank weg te bly, weet ons dat ons 'n paar plekke nie sal kan besoek nie.  Ons vra versigtig of ons dalkies in Jerigo sal kan ingaan.  Ons bestuurder ken omtrent elke persoon in die dorp en ons kry die geleentheid waaroor ek baie bly is, want later weens die oorlog is die dorp toe en niemand kan ingaan nie.  Die strate is maar stil en mens kry alreeds die gevoel dat die oorlog 'n groot rol speel in die dorpies se inkomste van toeriste wat baie afgeneem het.
DSC_0009

Ons eerste "amptelike" stop in die Beloofde land is veronderstel om Herod se winterpaleis te wees, maar ek dink nie dit was heeltemal dit nie.  Nogtans iets besonders om te sien.
Page4
Dis baie warm, maar ons stap deur al die opgrawings deur.

Page5
Daar het nie baie oorgebly nie, maar hulle is besig om te restoreer te midde van al die oorlog wat hier aangaan.  Gedurende 1600 BC is die dorp ook heeltemal vernietig.
DSC_0040
Een van die oudste stede in die wereld, alhoewel hulle glo hulle is die oudste stad in die wereld. In die Bybel lees ons van Jerigo en Herod se winterpaleis en ons lees ook dat Jesus 'n blinde man hier genees het.

DSC_0041
Hulle se ook dat dit die laagste plek onder seevlak in die wereld is en aan die hitte gemeet, kan dit nogal waar wees.
DSC_0051
Na 'n bietjie inkopies, so bly ons kon van dit in hierdie dorpie doen, verlaat ons die Stad van die Maan in die rigting van Jerusalem.  Dit lyk nou baie anders, maar ons studie herinner ons ook dat die storie van die Goeie Samaritaan tussen die twee dorpe plaasgevind het en die berg agter Jerigo is waar Jesus versoek is (Lukas 4).
Page3
'n Vol dag van grensposte en plekke sien, en ons kom eintlik by ons blyplekkie aan.  Dis so half onder diegrond wat later 'n groot hulp blyk te wees en net 5 min se stap van die ou stad.  Ons sien uit na more!