Na baie jare in die dorp is daar bitter selde 'n nuwe winkelsentrum wat opgaan sonder dat ons daarvan weet en dit gaan besoek, so toe ek daarvan lees en besef dis al drie maande oop sonder dat ek daarvan weet, was dit 'n MOET.
In die jare voor ek begin blog het en ek's eintlik spyt ek het nie van die beginjare hier ook geblog nie, was die souk waar mens allerhande twak en toonnaels kon koop 'n gewilde plek om besoekers heen te neem. Na sprake dat dit vervang gaan word, het dit skielik een aand heeltemal afgebrand. Vir die laaste paar jaar is die pad soontoe toegemaak en hoe versperrings is op sonder dat mens geweet het, iets is aan die bou daar. En net daar op die ou plek ry ons op ons soektog binne die nuwe "souk" vas. Lekker lekker, nie naastenby soos die vorige een nie, en met duur winkels, maar een van ons gunsteling koffiewinkels wat daar oopgemaak is, sal dit beslis baie gereeld besoek word.
Ons het met Shakespeare & Co kennis gemaak in Dubai en is so bly dat dit nou eintlik hier in Abu Dhabi is. Dis 'n regte "vroue" restaurant met allerhande fyn en tierlantyntjies goeters. Die eetgoed en sjokolades sal natuurlik ook die manne lok en mens kies baie moeilik wat jy saam met jou koffie of tee wil geniet. Daar is ook 'n spyskaart vir ontbyt, middag en aandete.
Nie een muur lyk dieselfde nie en alles is in detail gedoen. Hier kan mens lekker kuier en die bestuurder Hassan is baie betrokke by sy kliente - tot op die foto's.
Alles tot die dak is "versier" en daar is die mooiste houers wat jy sjokolade in kan sit en vir geskenke weggee. Dit gaan sommer gou-gou 'n gewilde kuierplek in die dorp wees en net so voordat mens bang raak dit gaan te vol wees het ons darem gehoor nog twee ander word oopgemaak. Die mall, waarvan nog net 'n paar winkels oop is, gaan ook 'n lekker plek wees om besoekers na toe te neem.
Geniet die laaste week voor Kersfees!