Dis altyd lekker om die rede in iets slegs te sien ... So 'n week voor die ongeluk stamp iemand my klein motortjie terwyl dit doodstil, minding its own business voor die huis staan. Dis lelik genoeg dat dit vir 'n week moet ingaan vir regmaak en ek's maar moeilik oor die ongerief. Dit vat langer as vir ewig en ek moet Eddie se motor gebruik om vir Tania en Werner by die lughawe te gaan haal baie baie vroeg in die oggend. 'n Groot blessing sou ek later sien. Ek sien op na die langpad alleen en die aand voor die tyd se Charmaine sy sal saamgaan en ek's baie dankbaar. Dis so mistig dat mens skaars voor jou kan sien en baie van die motors ry met hulle hazzards wat dit moeilik maak om te sien of hulle stilstaan of ry. Net uit Abu Dhabi, vertel ek nog dat mens liewers nie in die stadige baan moet ry waar die trokke is nie toe Charmaine my waarsku daars iets in die pad (die tweede baan). Ek rem en die remme skop wonderlik in. Ek moet besluit reguit of uitswaai en met voertuie langs my is reguit die enigste uitweg. Die pad is nat en die feit dat die groot trok doodstil staan maak dat ek redelik stadig teen hom vasgly. So stadig dat die lugsakke nie eers oopgaan nie, maar die skade is groot. Ons eerste "engel" is die taxi bestuurder wat die motor aan my linkerkant was en hy's onmiddelik by om te sien of ons lewe en ons uit die motor te kry. Dankie Pappa dat ons met die groot motor gery het want met die kleintjie was ons onder die trok in.
So tussen almal wat arabies praat dat mens geen idee het wat gese word, stop 'n ou op 'n motorfiets wat later vertaal tussen die polisie en ons en ook die taxibestuurder wat sy deel bydra om te probeer vertel dis nie ons skuld nie. Terloops ek word as die skuldige party aangewys omdat ek van agter gekom het en daar is geen manier wat ek 'n kans kan kry om te bewys dit was nie. Vir amper twee uur staan ons langs die pad, wit geskrik en dankbaar om te lewe terwyl ons wag vir polisies, voertuig om die motor weg te neem ens. Die taxibestuurder belowe hy sal vir ons wag en ons dan vat waarnatoe ons wil gaan.
Die storie is nog lank want daarna is ons lughawe toe, en die vliegtuig kan eers land 5 uur later weens die mis. Gaan nie die hele storie verder vertel nie, behalwe dat ons groot dankie se vir Vader dat Hy die taxibestuurder sonder naam en Denis & Lene gestuur het om ons by te staan. Selfs die insleepdienste en motorhandelaars was wonderlik en alles het seepglad verloop. Hoeveel die skade aan die voertuig is, sal ons volgende week weet. Ek en Charmaine het erge verkoue van buite in die mis staan, ons is vol blou kolle en skete, ligamente wat seergekry het, voete wat geswel is, ens. maar ons lewe en daaroor is ons diep dankbaar!
Update: Die motor is afgeskryf so nou begin aksie motor soek.