Ek is tans handeviervoet binne in die geskiedenis boeke besig om stories en feite rondom die dorpie Riviersonderend op te lees. Dit hou my lekker positief besig want ek kry die geleentheid om met "ouer" inwoners te sit en gesels oor dit wat hulle onthou en ek sal jok as ek se ek geniet dit nie.
As jy nou in die rigting van die dorp ry, is die pragtige lappieskombers landskap die eerste indruk van die dorp en sy omgewing. Wat ek van lappieskombers weet is gevaarlik min - natuurlik het ek al foto's van 'n lappieskombers gesien en stories oor die maak van 'n kwilt in Amish boeke gelees, en dis sover my kennis strek. Mmmm miskien nie heeltemal nie, ek weet dis harde werk om een te maak, en ek weet dat die eindproduk ongelooflik mooi is - net soos die huidige landskap op die oomblik.Dis net hier waar ek besef kwilting is nie geskiedenis nie, dis baie aktief en lewendig hier in Riviersonderend en baie gewild onder vroue ouer en jonk. Laat ek net 'n bietjie geskiedenis ook ingooi - kwilting het sy ontstaan in Swede rondom 1500 gehad en die oudste kwilt wat ontdek is, was in 'n Egiptiese graf van die 1700. En hoor dit ... die duurste kwilt, die "reconcillation quilt" is in 1991 vir $264 000 aan 'n museum verkoop. Kan jy dit glo, meer as 4 miljoen rand vir 'n kwilt.
Hier op die dorp is 'n besonderse klein winkel met die naam Quilt Den. Dis in die hoofstraat, maar jy gaan dit nie sommer net raak ry nie - jy moet by die restaurant Vn'Desden stop en deur die restaurant loop om daarby uit te kom. Daar is 'n 99% kans dat jy vir Petro, die eienaar van Quilt Den daar gaan kry besig om aan 'n kwilt te werk.