Saturday, February 4

Geskenke en verjaarsdae

Verjaarsdae .....is maar net nog 'n dag.   As kind weet ek die opwinding is groot en daar word uitgesien na partytjie en al die wonderlike geskenke, maar op my ouderdom het dit 'n klein bietjie afgeskaal na tee en koek sal lekker wees :-).  Dit was lekker om van almal te hoor en ek is lekker bederf met hope boodskappe.  Die een waarna ek die meeste uitgesien het was om met klein Lara te praat na skool.  Dis ook tydens die "gesprek/kuiertjie" wat ek my boodskap/les kry.

Baie opgewonde en Happy Birthday ouma en met baie energie, seker van die melkskommel wat sy en haar mamma gehad het, is sy soos 'n jack in the box en vertel vir my gou sy is baie bly dis my verjaarsdag maar sy het nie vir my 'n geskenk nie.


Ons blaas 'n verjaarsdag kersie dood oor Skype en sy bevestig net weer dat sy nie vir my 'n geskenk het nie.   Ek se dis heeltemal reg, sy moet net vir my 'n prentjie teken, maar sy is vasbeslote om vir my te wys dit is NIE haar skuld dat daar nie 'n geskenk is nie.  Die foon (waarmee ons besig is om te Skype) word in die lug gehou en sy draai dit orals deur die sitkamer en eetkamer en dan kom haar rede:  "See..... do you see a Christmas tree".  Asof daar net geskenke is wanneer daar 'n Kersboom is.

Is ons nie ook baie keer so nie?  Hoeveel keer vergeet ons dat die grootste geskenk ooit Jesus is.  'n Geskenk wat ons baie keer as vanselfsprekend vat en een wat ons nie verdien nie.  Ons hoef nie te wag vir 'n kersboom nie, en dankie tog daarvoor want as ons by kersvader moes geskenke kry net wanneer ons soet was, sou daar nooit ooit enige geskenke gewees het nie.  God is nie kersvader nie, en Sy liefde vir ons is onvoorwaardelik, al verdien ons dit nie en hoef ons nie te wag vir verjaarsdae of Kersfees nie

"For God so loved the world that he gave his one and only Son, that whoever believes in him shall not perish but have eternal life (NIV)" - John 3:16

No comments: