Wednesday, July 23

Ons besoek die Ou Stad

Vandag besoek ons die ou Stad en dis een van die plekke wat ek nog altyd wou sien.  Ons is super opgewonde.  
DSC_0064 (1)

Die Jaffa hek is sommer naby ons blyplek. In ons studie vir die dag word ons herinner dat ons vandag "bo-op" baie geskiedenis gaan loop.  Van Abraham tot David tot Jesus tot vandag....   
Page1
Nie op die beplanning nie, maar ons eerste stop is die David-toring museum en ons is glad nie jammer nie. Die naam is deur die Byzantine Christene gegee omdat hulle geglo het dit is die paleis van koning David. As hierdie mure kon praat, sou hulle vertel het van David, Solomon en koning Hezekiah.  Baie jare later word 'n muur en groot toring by gebou.  Herodus bou nog drie torings by 37-34 vC nie net om die stad te verdedig nie, maar ook om sy paleis op Mount Zion te beskerm.  Die hoogste toring is na sy broer Phasael vernoem, die tweede een na sy tweede vrou Miriam en die derde na 'n vriend Hippicus.  Slegs die Phasael staan nog vandag.  
Page4

As die mure hulle storie kon vertel ....Na die vernietiging van Jerusalem deur die Romeine was die plek gebruik om die Romeinse soldate te huisves en later het monnike hier gebly.  Vir 'n klompie jare ook arabiere.  Die Crusaders bou nog 'n toring as uitkyk om die pad van Jaffa te beskerm. Dit word 'n paar keer afgebreek en opgebou en vir 400 jaar gebruik Turkse troepe dit.  Die Ottomans bou 'n moskee en minerat wat vandag nog staan.  Meer jare later toe die Britte die stad inneem word dit amptelik vanaf die ingang van die toring afgekondig.  'n Klomp geskiedenis feite ek weet, maar terwyl ons daar was en oor die stad kon uitkyk van die mure kon mens die oud en geskiedenis voel.  
Page2

Ons "toerleier" pak hierdie strate aan asof sy hier gebore is :-), en ons volg. 
Page5

Ons loop op die stadsmure en het 'n uitsig oor die meer moderne stad buite die mure en oa Mount of Olives.

Page6
Die Davidson museum wat inligting en feite oor die Westelike en Suidelike Muur asook die Temple Mount het, is volgende.  Dit sluit ook die argeologiese park in.  Hier kan mens trappe klim wat 2000 jaar oud is en daar is baie opgrawings waar heelwat ontdekkings tov die geskiedenis van die stad gevind is.
Page7
Dis nogals 'n ondervinding om deur plekke te stap vanaf die Canaanite (brons tydperk) regdeur tot die tyd van is Eerste tempel periode, die tweede tempel van koning Herodus.  Hier kan 'n mens duidelik sien dat die paaie waarop ons loop in die huidige ou stad nie heeltemal die oorspronklike is nie, want die opgrawings gaan 'n paar verdiepings af.

DSC_0162

Dit raak baie warm :-).  Nie dat ons nie hitte in die woestyn gewoond is nie, maar hierdie is anders.

DSC_0168

Ons spandeer ook tyd by die Westelike muur en ek moet erken dat ek my by tye verkyk het aan die mense wat al die pad kom, om by 'n muur te kom bid en dan is daar al die rituele wat hulle glo help hulle meer om hulle gebede verhoor te kry.  Ek's bly ek het nie nodig om dit te doen nie.   
DSC_0179
Na 'n vol dag van sien, voel, ervaar, inneem is dit tyd om bietjie te gaan rus en by die Jaffa hek, sit iemand en harp speel.

Nie dat ons nog nie die alarms en ontploffings gehoor het nie, maar vanaand is dit erger en die sirenes is meer deur die nag.  Mens skrik wakker daarvan en wonder wat en hoe as daar nou iets naby moet gebeur. Gelukkig is die blyplek halfpad onder die grond.  Die eienaares se sy kyk nie eers meer nuus nie, want wat moet hulle doen, dis hulle huise en plek, hulle kan nie elke keer hardloop nie.  

6 comments:

Cjdusse said...

Dankie vir die vertel en foto's. Daar is seker nog baie meer om te vertel. Ai die stad raak my hart. Eendag... eendag gaan Hy Sy voet neersit in die stad en ons sal daar wees.

Karen Nieuwoudt said...

Ek het soveel gelukkige naweke in Jerusalem spandeer. Israel en sy mense sal altyd na aan my hart lê

Sandra said...

Mens kan nie eers begin om alles te vertel nie Carin.

Sandra said...

Karen dis die gevoel wat ons ook daar gekry het. Die mense en plek is anders.

Karen Nieuwoudt said...

Mens wil nie op n Vrydag middag 1pm deur die nou strate van Die ou stad loop as almal skielik sluit en soos n stampede daar afkom om te gaan bid nie! Ek en my sister moes een keer op n winkel trappie spring en onsself teen die deur vasdruk om te keer dat ons nie vertrap word nie. Was een van my bangste oomblike ooit

Sandra said...

Was amper soos vroeer jare toe Sondag nog in SA so stil was en die winkels toe Karen :-)