Die meeste van julle weet mos dat ons eintlik hier in die woestyn bly. Of op 'n eiland in 'n woestyn wat so ontwikkel is dat mens km ver moet ry om deesdae in die woestyn te wees. Die ontwikkeling die afgelope jare was iets ysliks en dinge het so verander, en nou praat ek nie net van die geboue nie.
Met ons koms na Abu Dhabi baie baie jare terug toe daar nog meer woestyn was, moes ons in 'n apartment bly en een van die dinge wat ons gemis het hier, was voeltjies. Hier was regtig min voels en al wat jy gesien het was die Indiese spreeus wat partykeer die katte op die 14de vloer kom terg het. Selfs 'n vlieg wat hoog moes vlieg of met die hysbak opgekom het, was 'n seldsame verskynsel in die woonstel. Ek onthou dat ons destyds, (so rondom 2000) tydens 'n vertaling van 'n bybelstudie vir die eerste keer in 'n lang tyd 'n voeltjie gehoor het en dit was so 'n groot blessing.
Vandag is ons baie gelukkig om in 'n villa met 'n klein tuintjie te bly. Nie dat ek in die tuintjie kuier nie, maar ek kan darem by die rekenaar sit en uitkyk op 'n grasperk. Daar is gedurig 'n klomp voels, meestal maar duiwe wat kom kuier op die grasperk van die kompleks en dit is lekker. Hierdie paartjie het ook hier ingetrek.
Die afgelope naweek het Nelmarki 'n nessie in een van die bome gesien en dadelik die kamera kom gryp om 'n foto te neem.
Vinnig is iets ook binne die nessie opgemerk.
En met al die lawaai is die "iets" wakker gemaak en ek weet nie of die 'n hulpkreet of koskreet is nie.
Al die aanplant van bome in die dorp is so stadigaan besig om net net die weer nie, maar ook die aanvullende inwoners te verander - en ons kla nie, want dis lekker om hulle buite te sien en te hoor. Nuwe lewe so saam met die hittige lente.
Vir al julle Mamma's, ek hoop dis 'n wonderlike dag en dat julle lekker bederf gaan word.
Liefde