Showing posts with label Abu Dhabi huise. Show all posts
Showing posts with label Abu Dhabi huise. Show all posts

Thursday, September 15

Waar bou die wyse man nou weer?

Kinders dink baie letterlik en die figuurlike boodskap van bv ‘n liedjie sink nie noodwendig in as hulle dit sing nie. Meeste van ons het op een of ander stadium daai liedjie van “die wyse man” wat sy huis op die rots bou gesing. Kan jy onthou watter prentjie jy in jou kop van die liedjie gehad het? My prentjie was van ‘n groot sterk rots op die strand waarteen die branders geslaan het, maar my huis was veilig. Ek dink hier in die woestyn kan daai woorde heeltemal ‘n ander prentjie word.


DSC_0020


Behalwe vir groot, hoe, blink, indrukwekkende woonstelgeboue, is hier ook pragtige villas. Party klein en ander heelwat groter met baie ruimte. Hierdie kan van die sandduin waar ons bly, skiet daar elke dag nuwe villas op. As die SAffers hier kom en blyplek soek, is een van hulle vereistes gewoonlik ‘n ou plekkie om te braai ook, so mens soek villas nie woonstel nie.


DSC_0015


So ‘n paar dae terug oppad na Charmaine toe, ry ek stadig verby een van die klomp villas wat hulle hier bou en kan ampertjies nie my oe glo nie.


DSC_0012


Kyk die bouwerk.


DSC_0013a


Die openinge word sommer met klippies opgevul. G’n wonder die huise kraak so nie. Hulle word net netjies toegepleister en dan kyk ons almal met verlangende oe na die mooi villas en lekker spasie vir 'n braaiplekkie.


P1040219


Maar mens kan nie altyd dingetjies toepleister en wegsteek nie, op ‘n stadium val alles inmekaar.


P1040220


Hierdie villa so ‘n blok van ons is hulle besig om “reg” te maak – sommer net die krake toe te pleister dat niemand sal weet dit het so gelyk nie.


P1040221


My nuwe prentjie van die liedjie is dus nou bietjie anders. Die verstandige man bou sy huis op 'n rots (fondament), maar die dwaas oorweeg nie eers die risiko's en uitdagings wat sy huis in die toekoms sal moet trotseer nie. Hy sien net die oomblik raak en wil so gou as moontlik intrek met geen sekerheid dat die huis die toets van die tyd sal deurstaan nie.


By ons breek die naweek vandag aan. Lekker week vir julle!