Thursday, January 12

Nog steeds Kersfees

Dis 10 Januarie en ons Kersboom staan nog.  Die laaste paar jaar is dit tradisie dat Nelmari die boom opslaan "lei".  Die wat haar ken, weet sy kan nogal vol nonsens wees as alles nie daar is vir die opslaan nie, so  dis noodsaaklik dat sy ook leiding neem met die afslaan, sodat  alles op sy plek is vir volgende Kersfees. En met haar wat nou begin werk het, was sy lanklaas by ons.  'n Goeie verskoning vir die boom wat nog staan dink ek.  En die regte "beplanning" vir volgende jaar se opslaan.


Dis ook die tyd wat alles wat beweeg by die boom afgeneem word.  Ek sou so graag al die familie en kinders wou saamhe, maar met heelwat gebrom kon ek darem die wat by die boom opslaan is afneem. Weet nie van julle nie, maar die Kersseisoen gaan gewoonlik met heelwat beplanning gepaard.  Waar en wie gaan saamwees op Kersdag, wat gaan ons eet, en natuurlik die geskenkies wat gekoop word. Weereens vanjaar was ek kwaad vir myself omdat ek alles tot op die laaste minuut los. 

Ek dink dat vir baie van ons beteken Kersfees familie, geskenke en kos, baie daarvan.  Is dit nie maar dieselfde  soos wat ons "ander" blameer dat hul op die kommersiele uitbuit nie?  Ons kan dink ... nie ek nie, ek weet dat Kersfees oor Jesus gaan.  

Maar my vraag.  As daar nie 'n boom met versierings was nie, niks geskenkies nie, geen familie nie, sou dit nog steeds soos Kersfees gevoel het?

As Jesus se geboorte al was om te vier, sou dit nog soos Kersfees gevoel het?  Ek wil ampertjies dink nee, wat  beteken dat ek ander dinge en mense voor Christus plaas.  

Die boom kan maar nog daar staan of nie, die rede vir ons viering is Jesus se geboorte, ons Grootste geskenk. Nie net vir Kersdag nie, maar vir elke dag.
 

No comments: