Wednesday, March 7

Woestyn plaaswereld

So eenkeer 'n maand vat ons die pad in die rigting van die woestyn om op 'n klein dorpie so 'n paar uur van Abu Dhabi 'n diens vir die mense daar te gaan hou. So 'n tydjie terug het ek julle vertel in watter storm ons verlede maand soontoe moes ry. Dis alweer 'n maand later en ons ry eerskomende naweek weer soontoe, en net vir die "rekord" die wind waai nog steeds, nie meer 'n hond uit 'n bos nie, maar sommer 'n hele kennels uit die woestyn.

DSC_0071

Ek neem wel foto's van die dorpie, of dit wat ek al gesien het, maar moes 'n bietjie gaan uitvind waarvoor Ghayathi, behalwe sand natuurlik, bekend is. Dis 'n dorpie wat grootliks uit die bedouine gemeenskap bestaan en is bekend as die "plaasarea". Nuus vir my want ek het nog nie plaas gesien nie

DSC_0065

Ek lees hulle het selfs 'n tydjie terug op hulle grens fossiele wat 8miljoen jaar terug dateer ontdek. Nou as mens die afdraai vat, is dit die arbeiderskampe wat die eerste indruk van die dorpie gee ... maar dit kan misleidend wees, want die prentjie verander elke paar meter.

DSC_0088

Daar is heelwat welkom bordjies oppad in die dorp in.

DSC_0092

Dis 'n klein "boere/bedouine"gemeenskap en die dorpie het volgens inligting al die nodige geriewe soos 'n paar winkels, 'n petrolstasie, ATM, twee restaurante en twee supermarke. Daar is selfs 'n klein gemeenskappie van Saffer onderwysers wat daar skoolgee. Hulle vertel dat die kinders sommer in die winkel by die bv visafdeling mekaar met die visse sal slaan en dan net aanloop as hulle klaar gespeel het :-)

DSC_0094

En dan net as mens jouself wil vra hoekom mense so in die sand sal bly, verander die paaie en lyk dit so. Dan kan mens begin glo dat daar plase in die omgewing kan wees alhoewel baie van die vee boere sommer nog in tente bly. As die weer hou sal ek volgende keer die tente in die dorp afneem - dit lyk asof dit moeilik is vir die mense om van die tent na 'n huis skuif te maak :-).

DSC_0014

Die eerste sirkel is ook waar ons afdraai en ons sal beslis die dorp van nader moet gaan kyk op 'n stadium. En laat ons mekaar net weer herinner ... hierdie groenigheid, is in die middel van 'n wye groot woestyn.

DSC_0100

Oppad terug kry ek kans om weer een van hulle blomstanders af te neem. Jare terug was dit taamlik algemeen in Abu Dhabi. Vir die wat nie weet nie, daar word blomplantjies in daai gate gesit en dan het mens een groot blomboom wat baie vrolik lyk. Gewoonlik het hulle dan net die dooie blomplantjies met 'n nuwe een vervang en het dit lank mooi gebly. Ek weet nie of hierdie een nog gebruik word nie, sal maar dophou.
Groete van 'n winderige, sanderige, Abu Dhabi.

5 comments:

retha said...

Daardie blomboompie het vir my soos 'n reuse golfbal gelyk wat een of ander elektriese drade het wat uithang. Iets soos led liggies of telefone wat in call centres gebruik word.
Bly jy het die verduidelik, sou my brein baie besig gehou het om te weet waarom sulke ding uit 'n glofbal hang.

Desire Fourie said...

Hou, van jou kennels uit 'n woestyn uitdrukking ... het lekker gesmile toe ek dit lees. Dis altyd verbasend dat daar wel sulke mooi groen areas te midde van 'n dorre landskap kan wees. Pragtige fotojoernaal weereens.
Mooi bly
Desire

Sandra said...

Retha hierdie mense sal nie twee keer dink om so 'n golfbal te bou nie :-). Maar hierdie "blompotte" lyk baie mooi as die blomme almal blom

Sandra said...

Dis regtig sulke "oasesse' Desire. Net wanneer jy dink dis nou genoeg van sand dan is daar 'n mooi stukkie groen :-)

Anonymous said...

Dis darem wonderlik wat hulle kan regkry daar in die middel van die woestyn!