Saturday, December 21

Ek/almal is SOOOOOOO besig!



Aan die einde van die jaar, kyk ek terug en wonder hoekom ons kinders so besig geraak het.  Baie keer "te besig" om deel te wees van aktiwiteite wat vir hulle goed is. 


Maak nie fout nie, "besig wees" is die in woord van ons tyd.  Ons raak so besig met ons goed, dat ons nie meer tyd het om te luister na ander wat ook besig is nie.  Want nee, my besig is defnitief baie besiger as jou besig.  En dis in om te spog oor hoe besig jou kinders is.

Hoekom het ek en baie ander skoliere tydens en na my tyd, sport (en dan nogal meer as 2 sportsoorte), musiek, kunsfeeste, klubs, organisasies, ballet, skoolwerk, huistake, speel (en nie voor 'n skerm nie), kerk en nog vele meer kon doen sonder om besig te wees.  Ek dink ons was, maar dis 'n woord wat nie gebruik is nie.  Deesdae is selfs 'n Gr 1 kind besig met vol programme.  Hoe oulik is hulle om dit sommer self te gekies het.  

Alhoewel mens seker vir 'n maand of meer elke dag kan blog oor verskillende soorte besig wees, wil ek aan die einde van die jaar twee bekommernisse deel.  Dit gaan oor ons kinders, want as volwassene kan jy besluit hoe en hoeveel besig jy wil wees.

Ons kinders word groot en dan gaan hulle miskien universiteit toe, maar op 'n stadium gaan almal werk.  Hoeveel het hulle geleer uit hierdie "besig wees"?  Kan hulle lewe balanseer en druk hanteer en plek en tyd maak vir alles wat belangrik is.  Miskien glo ons as ouer nie in die kind(ers) se vermoe om baie dinge te hanteer nie, en skep ons nie vir hulle geleentheid om te leer en te groei as mens en selfs leier nie

En die belangrikste van alles.  As ons besluit het, dis my kind en ek sal my nie laat voorse nie ... net een vragie.  Hoe leer ons ons kinders dat God wil he dat ons selfs in ons besige programme en lewe, jonk en/of oud, moet Stil raak voor Hom.  

Ek dink om Stilte te vind en te weet hoe sonder dat iemand jou lei en vertel is moeilik.  Ek kan die beste sportman, akteur, ballerina of wat ookal wees en nog steeds soek na Stilte.  Daai sielstilte wat nie in 'n sport of aktiwiteit te kry is nie.  

Is ons 'n goeie voorbeeld in hoe om besig te wees, of is ons 'n goeie voorbeeld hoe ons God toelaat om beheer te neem van ons besig wees. Kom ons gee vir ons kinders 'n groot geskenk die fees seisoen ...die antwoord op 'n besige jaar en besiger jaar wat voorle - leer en wys hulle hoe om stil te raak voor God en te luister wat Hy vir hulle 2020 beplan!

"Wees Stil en weet Ek is God! Psalm 46:11

Saturday, December 14

Speel ons Volstruis, volstruis?





Lank gelede het ek in Milnerton gewerk.  Ou Jan was die burgermeester se motorbestuurder en hy het geglo as hy onder die trap sit met 'n koerant oor sy kop dan kan niemand hom sien nie, en niemand sal hom vra om iets te doen nie.  Eintlik het hy geglo dat as hy hom ontrek van 'n ding, dan is dit nie meer sy probleem nie.


Dis nie 'n nuwe ding nie, want dit gaan al terug na Adam en Eva wat weggesteek het en geglo het God sal hulle nie raaksien nie.  Hoe baie doen ons dit in ons lewe?  Die out of sight is out of mind mentaliteit.  Ons oortuig onsself ook dat God nie sal weet nie en nie sal omgee nie.  Die ding is dat God ons beter as onsself ken.  Ek is nogal iemand wat sal onttrek as ek iets negatiefs voel, of liewers stilbly om die vrede te bewaar.  DIT meer as die baklei ... vreet aan 'n mens, en alhoewel die ander persone "vergeet" of maak of hulle vergeet, vergeet ek/ons nie.  

Ons kan ons onttrek van mense en/of situasies soveel ons wil, ons kan wegsteek van alles en almal, ons kan mense en/of situasies ignoreer,  maar geen koerant oor die kop gaan ons kan wegsteek van God nie.  Hy weet! 

Ek kan my kop soos 'n volstruis in die grond steek, maar

 "Voor God kan absoluut niks weggesteek word nie.  Ons staan kaalgestroop en weerloos voor die Een aan Wie ons verantwoording moet doen" - Heb 4v13


Tuesday, December 10

Sonder Eskom krag






Dit voel vir my alles is "on hold".  Ek het die afgelope week kans gehad om foto's by 'n "Care Home" te neem.  Die ou mensies was nie te opgewonde om voor die kamera te verskyn nie, en om 'n Kershoedjie op hul kop te kry was 'n uitdaging - toegegee ek was 'n vreemdeling vir hulle.  Maar hoe later hoe kwater - toe hulle eers in die storie kom, het die glimlaggies op die gesigte gekom en het hulle al hoe meer voor die kamera begin staan.  Op die ou einde was dit soveel pret.

Wat my egter opgeval het by die meete van hulle, is almal sit in 'n sitkamer en daar word nie gepraat nie, net iewers na buite gestaar.  Watter manier om mens se dag om te kry!  Waaroor sal hulle dink?  Dink hulle?  Wag hulle vir iets/iemand?  was van die vrae wat ek myself gevra het.  Gaan ek ook so wees as ek ouer is.

Later die dag het my toets gekom en vir geen ander rede (so het ek gedink) die krag wat afgaan, en alles wat ek wou nie, nie kon gebeur nie.  Ek het vir my 'n gemaklike plek gekry om te sit en staar ... maar gou-gou het my kop besig geraak met baie goed wat ek nog moet doen, hoe ongerieflik dit is, ens. ens.  Het gevoel soos 'n resiesperd in die wegspringblokke, ek wou net he die krag moet aangaan dat ek aan my koplysie kan begin werk.  Maar hoe langer ek stil gesit en uitkyk na al die mooi buite, hoe rustiger het my gedagtes geraak en hoe meer het ek begin fokus op wat ek sien, hoe mooi dit is, en oor die EEN wat dit gemaak het en wat Hy vir my wil se.

Ek kon die voeltjies, blomme, berge, sonskyn en selfs 'n verkleurmannetjie geniet en dit alles net omdat ek stil was.  Met besige hande, voete en kop sou dit nie gebeur het nie. 

Ek is nog steeds nie mal oor al die kragonderbrekings nie, maar as dit is wat God wil gebruik om my te wys/leer dat ek moet stil raak, dan sal ek daarmee deel en die beste van die saak maak.  Hy wil dat ek moet stil raak en weet dat Hy God is en dat ek Hom moet sien in alles en almal rondom my.  God is in beheer van my lewe en ek moet alles wat gebeur gebruik om Hom te verheerlik.