Wednesday, February 2

Bietjie terug in die verlede

Dis altyd so lekker om weer terug te gaan nou plekke wat mens lanklaas gesien het. Met niks tyd om rond te loop in Pretoria nie, land ons weens spitsverkeer vroeer in Pretoria vir die werkswinkel as wat ons beplan en 'n briljante plan om middagete by die Voortrekkermonument te gaan eet. (dankie maat)

DSC_0003

Die Blikkantien is oop en ons raak opgewonde oor die special van die dag :-). Ons wil net iets ligs eet maar keuses, keuses, keuses.

DSC_0002a

Eenparig word daar op roosterkoek en oa biltong besluit vir voorgereg en die dame wat bedien het seker gesien ons het lanklaas "huiskos" geeet en ons kry 'n goeie porsie.

DSC_0005

Dis so lekker om bietjie buite te sit en "koud" te kry teenoor die hitte van die woestyn.

DSC_0007

Ons is soos mense wat nog nooit plante en groenigheid gesien het nie. Wonder of 'n verlore kampbeker een van daai is wat deel uit maak van die dekor.

DSC_0045

Dan moet ons net weer die monument self gaan besoek. Gebou tussen 1937 en 1945 om oa die Groot Trek te herdenk, en ontwerp deur Gerhard Moerdyk is dit nog steeds 'n indrukwekkende gebou.

DSC_0016

Die Voortrekkervrou beklee 'n ereplek by die monument omdat sonder die vrou se bydrae en deursettingsvermoe sou die Groot Trek heelwaarskynlik nie eers kon plaasvind nie. Soos die beelde by die Vrouemonument in Bloemfontein en die Kruger standbeeld op Kerkplein was die beeldhouer ook Anton van Wouw. Jinne dis name wat van skooltyd nou baie bekend voorkom.

DSC_0025

Dis ook lekker om weer binne rond te loop en sommer al die funksies en besoeke van lanktyd terug te onthou. En as mens so vanuit die Heldesaal afkyk sien mens die fokuspunt van die moment, die sinotaaf.

DSC_0023

Hierdie sinotaaf kan ook van regbo af gesien word en op 16 Desember elke jaar om 12 uur val die sonlig presies in die middel van die sinotaaf en skyn op die woorde "Ons vir jou Suid-Afrika". Die ligstraal simboliseer God se seeninge oor die Voortrekkers tydens die slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838. Hierdie dag was dan ook vroeer gevier as Geloftedag. Ek wonder hoeveel van hierdie geskiedenis word nou aan kinders en kleinkinders deur ons oorgedra?

DSC_0033

Hier kyk Elriza na die storie van Bloedrivier wat met beeldhou werk uitgebeeld word.

DSC_0027

Van bo af sal die Pretorianers dink dis slegte weer, maar vir ons van die woestyn is dit mooi dag.

DSC_0028

En ek kan nie genoeg foto's van die groen neem nie ... daar is so 'n klein spatseltjie geel ook :-)

DSC_0042

Onder is daar ook 'n bronswa wat 'n replika is van die 64 waens wat gemaak is vir die Bloedrivierslagveld monument in Natal.

DSC_0046

Die klipstapel is gepak deur die feesgangers wat die hoeksteenlegging van die monument bygewoon het. Die klipstapel moes dien as simbool van die Afrikaner se verlange na volkseenheid - jinne iets waarmee ons volkie nog steeds sukkel. Rondom die klipstapel is vyf soorte bome geplant om die 4 destydse provinsies en SWA te simboliseer. Die bome, Natal (Koraalboom), Vrystaat (Olienhoutboom), Transvaal (Witstinkhoutboom), Kaap (Geelhoutboom) en Suidwes (Anaboom) het die volk se groeikrag gesimboliseer en is in die vorm van die Kasteel in Kaapstad geplant.

Jinne dit het nou uitgedraai as 'n "onthou geskiedenis les" vir my en die helfde is nie eers vertel nie. Soos my oudste James eendag gese het "Transvaal het darem baie ornamente" (monument was 'n te moeilike woord), is ek bly dat van hulle nog staan dat mens kan gaan kyk en bly oor al die geskiedenis waarvan ek op skool nie die rede voor verstaan het nie, want dit maak dat ek nooit sal vergeet nie.

Groete van 'n erge sandstorm woestyn

4 comments:

Thea said...

Ek onthou die skooluitstappies na al die museums en monumente in en om Pretoria toe ek nog op laerskool was. Ek wonder of dit nog vandag se tyd gebeur?!

Na die baie reën wat ons gehad het, is dit darem maar regtig baie mooi groen en ek kan goed glo dat julle julle wou verkyk! :-) Ons het nog nooit daar geëet nie maar jy maak nou baie lus om dit self bietjie eendag te doen!

Sonja said...

Al bly ek hier was dit nou lekker om dit deur jou oe van verlange te bekyk en dit opnuut te waardeer!
Ons het onlangs vir die kinders die dvd- Die slag van bloedrivier gewys, dit was baie interessant. Ons maak seker hulle weet en vergeet nie, veral nie die geloftes aan ons God gedoen nie!

Sandra said...

Dit sal interessant wees om te weet of skole nog die monument besoek op 'n uitstappie Thea. Die restaurant se Sondag buffet was altyd baie lekker, miskien moet jy vir ons gaan toets of dit nog so is :-)

Sandra said...

Sonja ek wonder hoe die huidige skool program Bloedrivier en/of die Groot Trek inwerk indie skoolprogram. Jou kinders is gelukkig dat jy dit met hulle doen. Ek het na die dvd's wat hulle daar verkoop gekyk, maar dis duur en dit beteken dis nie so bereikbaar vir almal nie - dis 'n jammerte.