Friday, July 31

Sy word so groot

Verlede week het ons weer 'n kansie gehad om saam met Jenny te kuier en hier's 'n paar foto'tjies.

Page4

Die meisiekind word groter en langer by die dag en sy kan van 'n ernstige dogtetjie vinnig omskakel na een wat lekker kan lag vir Nelmari se pers pikkewyn.

Page3

My horingoud poppie - seker een van die voorlopers vir Barbie het haar gefasineer en sy het hard probeer en vreeslik gekonsentrer terwyl sy die kleertjies af en aan probeer kry het.

Page2

Ek en Charmaine het vir haar lekkergoed van ons UK toer gebring en sy kry nou eers kans om die Skotsman aan te durf. Dit was lekker..... en alles was swart. Wil nie weet hoe sy gaan lyk as sy vir groen "Nessie" eet nie.

Page1

'n Vorige keer wat sy vir Dawn vasgehou het, was Dawn nog baie klein en nou moet sy ernstig hou aan die gemmer. Dawn het met sagte pootjies die optellery maar verduur en so vir die klein meisiekind groot vreugde verskaf. Was lekker om weer saam met een van die Abu Dhabi "kleinkinders" te kuier en ook vir haar die geleentheid te gee om bietjie met een van die troeteldiere in die huis te speel.

Tuesday, July 28

Kinders word weer klein

Daar is nog 32 skoolvakansiedae oor en nog steeds geen ysie in die huis nie. Moet se dis ietwat koeler in my studeerkamer. Met die waaier en "portable ac" aan, kry ek darem nou 'n kamertemperatuur van 30. Oor die humiditeit se ek niks. Mens kan dink jy kan alles doen en weet van alles maar 'n Arabier wat nie geld wil uitgee nie, sit jou ore aan. So wag, wag ons .... dis nou tensy enigiemand my wil nooi om te kom kuier!?

Die pad tussen Pretoria en Johannesburg was lank en ek onthou twee klein seuntjies agter in die bussie, elkeen met sy walkman en boekie besig om te luister na Storieman. Of in die bed reg vir die aand met die bandspeler aan besig om te luister na Storieman. Later het Nelmari ook bygekom en saam geluister. Ek weet nie hoeveel van julle se kinders het daarna geluister of wie self daarmee grootgeword het nie, maar Storieman was spesiaal en die bandjies wat nog nie deurgeluister was nie saam met die boekies is mooi weggebere vir die kleinkinders eendag.

Page1

Nooit gedink aan bandspelers wat dalkies nie meer gaan "in" wees nie - totdat ek raaklees dat daar ‘n beperkte Storieman reeks op CD beskikbaar is. Die kopiereg op die reeks het verval en daar sal nie weer ‘n reeks op enige manier gedruk word nie. Wat ‘n verlies, maar groot vreugde omdat ek darem nog ‘n CD-reeks in die hande kon kry! Daar is nie eers meer ‘n volle stel in Engels of Afrikaans van die boekies beskikbaar nie, maar gelukkig het ek nog die ou stel iewers in ‘n boks en sal so die hele reeks van 30 in Afrikaans en ‘n halwe reeks in Engels kan he. Maar ek het die volle reeks CD's.

Page2

Die reeks het ons kinders ‘n bietjie van alles geleer. Daar was die ou bekende verhale soos Van Hunks en Sy Pyp, heldeverhale, Tommie en sy Orkes waar die kinders van instrumente geleer het, leer van liedjies in ‘n ander taal en dan ook die groot treffer Gobbelina die Swart Kat. Onthou julle?

DSC_0019

Die kinders het baie van die stories onthou met die deurblaai en luister. Party van ons, sal nie name noem nie, het selfs opgevang om Storieman op die CD in die motor te luister.


DSC_0020

My stertjie waai omdat ek nou weer ‘n reeks het en sien uit daarna om die kleintjies wat kom kuier en miskien later die kleinkinders – voordat die tegnologie weer verander – te laat luister na die stories.

Sunday, July 26

Ek moes lag

As daar nou een ding is waarop ek baie trots is, is dit die feit dat ons drie kinders na 11 jaar in die buiteland steeds ons taal Afrikaans vlot kan praat en al bly ons nie in SA nie, en sal hulle miskien nie as volwassenes daar bly nie, is dit hulle "huis" en hulle "plek". Ek kon dalkies nie die kinders beinvloed om groot te word en vir die Stormers te skree nie, maar verseker is die Cheethas darem nie 'n te slegte tweede keuse nie :-).

Tydens hulle skoolloopbaan hier in die UAE was Engels hul eerste taal en vir 'n groot deel daarvan Arabies hul tweede taal. Later het dit af geskuif met Frans / Spaans in die tweede plek. Maar by die huis was dit Afrikaans en net Afrikaans.

So baie mense luister na "goeie raad" om met hulle kinders 'n ander taal te praat om dit so maklik vir hulle in die skool te maak en dan binne 'n kort tydjie kan die kinders glad nie meer Afrikaans praat en of verstaan nie. Dis snert want Nelmari was nooit in haar lewe in 'n skool in SA nie en het hier in Kindergarten begin skoolgaan met Engels en Arabies vanaf dag 1. Dit kon nie maklik wees nie, want mens moet nog in 'n nuwe land ook aanpas, maar hulle het dit gedoen. Ek dink mense onderskat hulle kinders met die aanleer van 'n taal as hulle klein is. Ek kry wel van tyd tot tyd Engelse sms maar wanneer ons praat, praat ons ons taal en wanneer hulle met iemand in Engels moet praat skakel hulle maklik oor en klink dan net soos verbrande Amerikaners :-). Inteendeel die mense is gewoonlik verstom dat "die" Amerikaners binne 'n sekond kan oorskakel na 'n taal wat hulle geen hothaar kan uitmaak nie.

Met die jare het Nelmari haarself ook leer skryf en lees in Afrikaans, die seuns het darem 'n bietjie skoolagtergrond gehad. Daar word baie gevra "ma wat beteken daai woord" as dit 'n nuwe woord vir haar is, maar nooit is/was daar 'n behoefte om liewers met ons Engels te praat nie.

Lang storie as agtergrond - maar hierdie week het ons so gelag vir Nelmari met die taal dat ek dit net op rekord moet kry .......

Sy's oa 'n goeie kok en probeer graag iets nuuts. Natuurlik is die Afrikaanse resepteboeke nie altyd maklik nie en daarom het ek vir haar 'n Engelse Kook en Geniet gekoop. Maar die van julle wat een het, weet dat die resepte in vergelyking met Wenresepte km lank is. En sy doen alles tot op die letter van die resep. As dit se bv. heel hoender se moet ek nie durf waag hoenderborsies koop nie. So wil sy 'n hoenderpastei maak en so vol selfvertroue dat sy eers die gaste nooi vir ete. (Ek sou eers wou kyk sal dit reg uitkom). Ek help net 'n bietjie in die kombuis en dan is sy op haar eie. Met die lekker reuke van onder weet ek iets is reg en dan kom sy uitasem die trappe op en baie "ontsteld".

"Ma, die resep se prik die boom .... wat beteken dit want ek het nie 'n freaking boom in die bak nie" .... Moes eers versigtig loer om te sien of ek mag lag, maar sy het darem later die grap of situasie net so geniet.

Die hoenderpastei was heerlik sussie en ongelukkig het die foto's nie wonderlik gekom nie, jy sal maar net nog een moet maak dat ons foto's kan neem!


Friday, July 24

Sal sjokolade ooit weer dieselfde wees?

Almal weet dat die kameel die dier van die UAE en ander Arabiese lande is, so dis niks snaaks om kameelmelk tussen die ander melk op die winkelrakke te sien nie.

Kameelmelk 003

Toe kameelmelkskommel sy verskyning maak moes mens begin mooi kyk wat jy neem wanneer jy melkprodukte wil koop. Was ook groot pret om die kinders dit te laat proe hier en selfs vir kuiermense te voer hier. Nou het die mense dit nog 'n stappie verder gevoer. Einde verlede jaar was daar 'n opskrif "Camals, ships of the desert, are now sailing onto desserts as well". Sjokolademakers (wat's die regte naam) het twee jaar gewerk aan hierdie sjokolade wat op die internasionale mark kan meeding. Jip, kameelmelk sjokolade!

camel_01_4

Al die bestanddele kom van die Camelicious plaas - 'n plaas met 3000 kamele en die enigste plaas wat gewaarborgde kwaliteit kameelmelk verkoop word hier. Die sjokolades kom in verskillende geure met dadels (kan mens dit nou geraai het), neute, lemoen, donkersjokolade (sal dit nou die swart kamele wees :-)) en volroom kameelmelk. Daar is ook die praline reeks waar die sjokolade gevul is met nougat, koffieroom en pistachio. Hulle se dat kameelmelk baie gesonder is as koeimelk. Dit 'n 5x meer vitamiene C, minder vet en uitstekende produk vir diabete.

camel_04_4

Maar moenie dink dat die sjokolade beskikbaar gaan wees vir elke Jan Rap en maat nie - ooo nee in 'n maand van nou af word die eerste sjokolades in die mark geloots en sal dit te koop wees by die winkel by die plaas en van die luukse hotelle. Een van die malls in Dubai sal ook 'n winkel he en hulle beplan een winkel in elke emirate. Uitvoer na Japan, Europa, ander Arabiese lande en selfs Amerika is in die pyplyn. Omdat dit 'n eksklusiewe produk is, sal dit in geen supermarkte beskikbaar wees nie.

Of ek dit ooit sal proe? Ek weet nie, maar dat ek dit vir mense sal gee om te proe, dis waar!

Wednesday, July 22

Ander dinge ook by die fees

Soos ek reeds gese het is die doel van die dadelfees om oa die dadels van die land te bemark en die mense aan te moedig om dit wat eie is aan die land te bevorder en te bemark. Alhoewel die ouens op Farmtown die palmbome net as versierings gebruik :-), het hierdie ouens 'n gebruik vir die hele boom en nie net die dadels nie. In een van die tentsale was daar klomp stalletjies en alhoewel dit almal dieselfde gelyk het, het elkeen op sy manier gewys wat hulle met palmtakke, en blare ook kan maak. Van die interessante produkte was natuurlik mandjies, waaiers (vir watter hitte?), plekmatjies, stoele, staanders, sandale/pantoffels en huisies wat pophuise of voeltjie-huisies kan wees.

Page3_0


Natuurlik het ons "shopper" van die dorp seker gemaak sy koop 'n produk of drie. Maat beslis sal daai dadelbolletjies in klapper veilig wees by my. Daar was ook 'n kompetisie waar kinders/volwassenes skaalmodelle moes maak om tradisies van die land uit te beeld en hier het ons nogal 'n tydjie vertoef en gekyk.


Page2_0

Kyk tot die koffiekannetjies lyk soos regtes. Die foto onder regs beeld 'n skool uit waar die kinders die koran leer en kyk hoe mooi sit die poppe met die witrokke eenkant van die poppies met die swart. Nelmari het onmiddelik opgemerk dit lyk soos Aisa (hulle skool waar seuns en dogters nog steeds apart skoolgaan).


Page1_0

Hier beloer Charmaine en Nelmari van die uitstallings. Die uitstalling bo in die hoek was een wat die moderne en oudtydse deel met 'n brug in die middel uitbeeld. My storietjie is amper klaar maar ek moet gou vertel van die badkamer geriewe. In 'n tent in die woestyn kan dit nie te great wees nie. Na lang soektog kry ons een net om weggewys te word met die woorde "toilet finish". Met groot nood kan mens nie regtig dink nie, maar later het die lig aangegaan en ons het besef dat die watertenk leeg is en die toilette nie kan spoel nie.


Page4_0

Daar was ook 'n groot tent waar die kinders kon speel. Allesia het Nelmari lekker besig gehou op die springkasteel en daai klein Arabiertjie met sy tradisionele klere was te oulik. Die gewilde arabiese kinder tv karakters waarvan ek al vertel het, was ook daar om die stout arabiertjies te probeer besig hou.


Page1


Aangesteek deur my shoppersvriendin het ek vir my 'n regte weduwee-kruik gekoop wat water lekker kan koud hou. Kyk net die mooi skepbeker wat daarmee saamkom. Die dadels het ek vandag vir jou gekoop Ronelle, en ons sal dit vinnig by jou moet kry want Dawn hou ook daarvan :-).

Tuesday, July 21

Dadelfees in Liwa

Eers moet ek vir die ouens wat nie weet nie, se “ek eet nie dadels nie”. Die naaste wat ek aan ‘n dadel kom is wanneer ek ‘n snytjie dadelbrood met dik botter op sal eet. So skoon of selfs opgedollie met sjokolade en neute vat ek nie aan dadels nie. Dus was daar ‘n wenkbrou of twee gelig toe ek se ek wil gaan kyk wat by die dadelfees gebeur. Dit is die 5de dadelfees wat gehou is in Liwa deur die Abu Dhabi Culture & Heritage komitee met die doel om die “heritage” van Abu Dhabi te probeer behou.

Page1

Ek moet eers vir julle vertel dat Liwa Oasis so 150 km van Abu Dhabi is op die noordelike grens van dike Rub Al Khali woestyn. Daar is so rondom 50 klein nedersettings oor ‘n afstand van 100 km. Ry mens verby die Muzayri oasis is jy lekker reg binne in die woestyn. Dit word ook die “empty quarter” genoem en is reg langs die grens van Saudi. Terloops as jy sou wou kan mens daardie grens of duin oorsteek, aangesien daar geen grenspos is nie. Ek wat nog altyd gedink het die heerser-familie kom van Al Ain het nou geleer dat die Liwa Oasis die geboorteplek van die oorspronklike heerser-familie van Abu Dhabi en Dubai is en in 1793 het die Al Nahyans eers hulle huis van Liwa af geskuif Abu Dhabi toe.

Page2

Die terrein/tente is spesiaal vir die geleentheid opgeslaan en anders as by ons huis op die oomblik, het hulle lekker aircon. En orals is net dadels en dadels en nogmaals dadels. Ek kry ook kans om met een van die arabiere te gesels oor die verskillende soorte en hy vertel my van die Khalas, Saqi, Majdoul, Fardh, Barhi en Dabbas dadels en watter een nou die lekkerste smaak. En ek het gedog dis almal sleg. Een van die hoofdoele van die fees is om die kultur van die palmbome en dadels te laat “herleef” en dadelkwekers kan hulle dadels inskryf vir die kompetisie. Vir die eerste keer kon die mense die dadels wat ingeskryf is ook proe. Die Arabiere voel in die gesig gevat as mens nie ‘n “geskenk” – in hierdie geval dadels vat en dit eet nie en ek het al my wegsteek vernuf moes gebruik dat hulle nie sien ek vat en bere dit om later vir Nelmari, Eddie of Charmaine te gee nie. Die koekies het ek darem geeet so al rondom die binneste dadelstuk :-)

. Page3

Met ons besoek was daar reeds 57 dadelboere wat ingeskryf het vir die eerste kompetisie wat hulle “Bou Maan” noem. In elke kategorie sal daar 15 wenners aangewys word. Die eerste drie plekke in elke kategorie sal elkeen ‘n 4x4 landcruiser wen en die res van die deelnemers sal ‘n bedrag van dhs3.5 miljoen deel. Daar is vyf kategoriee en dus 15 Landcruisers wat wag om ‘n baas te kry. Hulle staan buite die tent met groot strikke om en wag – laaste foto.


Page4

As ek nou my eie storie in die rede kan val. Mens ry 3+ uur vanaf Abu Dhabi soontoe en nog langer vanaf Dubai. So kom Charmaine se broer en sy gesin ook deur om die festival by te woon en arriveer so 11 uur waar hulle voorgekeer word saam met ander deur sekuriteit – een of ander royal kom besoek en hulle moet maar 4 uur terug kom – kan jy dit glo!

Page5

Ons het gewonder hoekom die mense by die ingang voorgekeur word, maar op ‘n manier het ons verby geglip en ingekom. Miskien met al die kameras het hulle gedink ons is van die pers :-). Hierdie ouens voel net niks vir niemand nie en as die royals kom, moet almal spring. Ons het so saam-saam met die belangrike gas die uitstallings bekyk sonder om in sy pad te wees :-).

Dis nie al wat daar gebeur het nie, ek vertel later.

Lekker dag..

Monday, July 20

Kan julle dit lees?

Ek's nie verskriklik mal oor om getag te word nie, want my blogleserskring is maar klein en wie bly dan nog oor om getag te word. Maar ek's nuuskierig om te sien of iemand iets van my skrif kan ontsyfer, so hier kom my huiswerk boendoe. Ek skryf regtig netjieser wanneer ek iets "ampteliks" of 'n kaartjie moet doen, maar hierdie sal my kinders my skrabbel skrif noem. Gee ek hulle 'n inkopielys moet julle die kommentaar hoor, so ek het nie baie vertroue in my skrif nie.Die vyf mense wat ek tag en die redes daarvoor - net ingeval julle nie die skrif kan lees nie:
- Charmaine, hoe dan anders. Hierdie maat sal nie geskip kan word nie :-)
- Desia, ek's nuuskierig om te sien hoe 'n raakvatter skryf :-)
- Mariette, ek het 'n prentjie hoe ek dink jou skrif lyk, wys 'n bietjie
- Miekie, hoe skryf 'n organiseerder?
- Thea ek kan nie wag om te sien hoe jy 'n handskrif prentjie kan opkikker nie :-)
Ek sien mens kan hier meer lees oor jou tipe handskrif.
Mooi dag!

Saturday, July 18

Terwyl ons uitbraai

Ja terwyl ons uitbraai in die hittige Abu Dhabi, is James en Leane in 'n veel koeler Onrus ernstig besig om aan die beplanning vir die troue te werk.

Page1

Soos julle kan sien is dit harde werk en dit hou mens ure besig want plekke moet bespreek word, gastelys moet opgetrek word, ens. Dit kan ure van mens se tyd vat.

Page2

Ten minste het hulle darem nou die "wedding-planner" (ai dit was sommer onsself in die vroee jare) gesien en die "venue" bespreek (foto regs in die hoekie). Ek kan sien dis nie 'n maklike twee maande vakansie nie seun ...julle twee moet die laaste paar dae saam geniet in die mooie ou Kaap en koue Bloemfontein. (Jaaaa maat, ek weet).

Thursday, July 16

So vir oulaas

Vir die wat gereeld hier lees weet my blog is hoofsaaklik 'n "foto-dagboek" van wat ons hier in die vreemde doen. Julle sou ook gelees het van die plekkies wat ek en die kinders die laaste paar dae besoek het. Charmaine se Elriza is alreeds terug huis toe en William vlieg vanaand, dus moet ek so bietjie die laaste paar goed begin vasvat in die inskrywing. Ook sommer vir my rekord vir wanneer ek nie meer in hierdie hittige plek is nie en tans voel dit vir my sommer om die draai.

Page7_0

Na die heerlike besoek aan die akwarium en waterorrel was dit tyd vir koffie drink want almal was lekker warm en moeg. Kyk net daai oulike teepot waarin die tee bedien word.

Page6_1

Ons mag dalk moeg by die mall gewees het maar terug by die blyplek het hulle tweede asem gevang. Die "kinders" speel met hulle speelgoed wat hulle by die akwarium gekry het en later gee Elriza en Charmaine 'n diere-vertoning.

Page4_1

Die volgende dag is my gunsteling mall in Dubai, Ibn Battuta, aan die beurt. Ek het al honderd keer oor dit geblog so net 'n paar klein foto'tjies van ons ontbyt restaurant. Dink julle nie dis 'n mooi plek om ontbyt te geniet nie?

Page3_1

Die winkel is nog stil en die kinders maak seker dat daar by elke winkel met 'n rooi "sale" bordjie ingeloop word. Die slegte ding van hierdie mall is dat mens nooit voel jy shop nie, mens voel dit net aan jou voete en die sakke in jou hande.

Page1_2

Nie lank nie of die kinders loop in een van die gangetjies af agter die speelgoedwinkel aan. Hulle het van daai spieels waar mens anders lyk en hulle spandeer bietjie tyd daar. Elriza vryf die koei en Nelmari soek onmiddelik die Leeu vir die skool-Lions op.

Page2_1

William stel nie baie belang in die speelgoed nie en praat liewers met Tessa in SA. Die meisies kuier by die kameel en kameelperde.

img021

Net om bietjie gewoond te raak aan die koue met die teruggaan het William ook gaan snowboard. Jy moet die koue geniet seun en ek weet jy gaan gou-gou wens vir 'n bietjie van hierdie hitte.

Monday, July 13

Arabiese water-orrel

Ons akwarium uitstappie moes afgesluit word met die water-orrel vertoning. Alhoewel ons baie gehoor het die ouens begin nie stiptelik nie, en dis nog te lig besluit ons om nog steeds 'n kans te waag.


a

Dit is sesuur in die aand en kyk die humiditeit/hitte op die foto terwyl ons wag vir die vertoning.

Page1_0

Ons sit so in die amper skaduwee van die Burj Dubai, op hierdie stadium nog die hoogste gebou ter wereld terwyl ons wag en ek verkyk my na al die uitbreidings rondom die mall.


Page2_0

Eers is daar net stoom terwyl die "orrel" opstart en dan begin die vertoning op maat van Arabiese musiek. Laat my dink aan die tye dat ons na die waterorrel by Centurion gaan kyk het terwyl ons by McRib eet :-).

Page3_0

Dis nie donker dat mens dit met 'n indrukwekkende ligvertoning sien nie, maar dis steeds iets baie besonders en ons geniet terwyl daar honderde foto's geneem word




Luister bietjie na die musiek saam met die vertoning.....

Page4_0


Die vertoning laat ons klomp ietwat vergeet van die hitte sover dit menslik moontlik is.

Page5_0

Hoe langer die vertoning hoe hoer word die water die lug in gespuit en hoe harder die musiek.



Dit neem net 'n paar minute en dan is alles verby en ons vlug vinnig binne die mall in vir koelte.

'n Paar van die geboue rondom die mall met die bruggie. Ons het nie in die hitte kans gesien om daar te gaan stap nie

Friday, July 10

Wonder water wereld

'n Tydjie terug het ek vertel van een van die nuwe malls in Dubai hier en gedurende die week was dit ons beurt om die akwarium van naderby te gaan besigtig. Hier het ons so lank spandeer dat daar baie plekkies/winkels was, wat ons nie eers verby geloop het nie. Op wikipedia word dit nie verniet aangegee as die grootste mall ter wereld nie - wat nauurlik nie heeltemal korrek is nie want dis net die grootste buite Noord-Amerika.

Page1

Maar ons fokus was die seewereld hierdie keer .... Moet ons of moet ons nie ingaan nie? Die haai is so bly toe ons uiteindelik ingaan, dat hy vir ons die mooiste van glimlaggies gee.

Page2

Eers gaan ons deur die watertonnel om die visse van nader te bekyk en sommer by die ingang wag 'n hele skool haaie ons in. Ons verkyk ons na alles. Hierdie tenk is drie verdiepings hoog en het tot 10 miljoen liter water waar die visse van alle groottes in rondswem.

Page3

Maar onder waar die mense deurstap is dit meestal haaie wat kos soek en pylsterte wat ons kom beloer. Elriza wil hulle bietjie vryf maar hulle wil nie stil-swem nie.


Page4


Na 'n lang tyd in die tonnel gaan loer ons op die boonste vloer na die see-dieretuin en hier het die tyd ook stilgestaan.


Page5

Daar word by elke tenk tyd afgestaan en nog steeds probeer sy die vissies vryf ....


Page6

Nelmari wys ook opgewonde dat daar nog iets is wat ons moet kom kyk, terwyl Elriza in 'n waterborrel inklim om die tenk van binne te beloer (seker omdat sy die kleinste is). Is dit nie wonderlik hoe Vader elke dingetjie in detail en kleur gemaak het nie.


Page7

Hier staan die twee meisies by baba-krappe ... volgens die mense wat daar werk, kan hierdie krappe so groot soos 'n beetle-motor raak.


Page8

Dan die sterre van die "dieretuin" - vir ons in elk geval. Die seerotte wat so cute was, die seeleeus en die pikkewyne wat mal was oor die mense en hulle aanmekaar kom "pose" het vir 'n foto.


Ons het onsself maar moeilik van die see-dieretuin weggesleep en die uitstappie vreeslik geniet - en die mall met die 1000+ winkels was ver-ver uit ons gedagtes. Verskoning vir die foto's - die beligting was nie vir kameras nie en die dik glase by die tenks het ook nie gehelp nie.