Saturday, March 31

Emily word EEN JAAR oud

Almal wat gereeld my blog lees (label: Emily) weet dat klein Emily 'n baie spesiale plekkie in my hart het. Sy het vir 'n hele tydjie in die dag by my gebly. Oor twee weke word sy een jaar oud en omdat sy vir die eerste keer by haar oupa en ouma in Mexico gaan kuier is die partytjie vroeg by ons gehou.
Die klein pop was nie haar gewone self nie, sy het waterpokkies en sukkel met 'n allergie maar het die partytjie met 'n glimlag begin. Hier kyk sy en 'n maatjie na die seepballe.

Die twee oefen om saam te loop. Haar energie het nie so lank gehou nie en gou-gou het die verjaarsdagmeisie "uitgepass" met 'n koors.
Emily se pappa is 'n chef by een van die hotelle en daar was hope kos vir almal om te eet. Toe sy wakker word is dit tyd vir die verjaarsdagkoek en geskenke

Haar eerste proe van suiker. Eers 'n baie vreemde smaak, dan bekyk sy dit en dan ...

...help sy haarself aan koek. Met die geskenke oopmaak was daar gewillige maatjies om te help

Al die nuwe speelgoed maak lekker lawaai. Kyk net hoe opgemaak oor die geskenke.

Nelmari en William speel wegkruipertjie met haar. Sy geniet hulle en hulle vir haar!

Haar nuwe fietsie en sy ry hom so met die een been aangesien sy nog te kort is. Toe almal weg is het sy en Nelmari op die mat gelê en speel.

Ek het verseker vergeet dat eenjariges mens nogal kan uitput en die dag was 'n besige, suksesvolle dag. Dankie Marina en Salvador dat ons deel kon wees van die partytjie.







Thursday, March 29

Nuwe uitdaging - nuwe hoogtes

Die eerste dag van die ADSAC Track & Field is verby en het sy kwota verrassings ingehou. Die kinders het redelik aan alles deelgeneem. Aangesien dit ook William se laaste atletiekbyeenkoms sal wees, wou hy probeer inskryf vir die hoogspring toe hy sien een van sy pelle is daar. Geen idee hoe mens dit doen nie, kry hy gou 'n "crash course" terwyl hy vir sy springbeurt wag. Veertien manne begin en na 'n rukkie sien ek die ou is sowaar nog deel van die springers en kon toe darem 'n foto of twee gaan neem. Groot was ons en William se verrassing toe hy oor die dwarslat gaan vir die tweede plek!! Ek moet bysê dat die ou wat gewen het die afrigting, styl en tegniek gehad het, en hy het lank daarna nog gespring om sy rekord te verbeter. Met sy springery was hy laat vir die gewigstoot, maar kon voor hulle wegpak 'n gooi inkry om daar ook 'n tweede plek te kry. Hy het dus 'n goeie veld-middag gehad. Tweede in die diskus (waar die wenner oorgetrap het, maar daaroor sê ons liewers niks), tweede in die gewigstoot en tweede in die hoogspring. Die man was heel "chuff" met homself, aangesien een van die ander skole, ACS, se kinders intensiewe afrigting reg deur die jaar kry en hy maar sommer op die veld leer.
Miskien as die voete nie so groot was nie, het hy nie die dwarslat afgespring nie?
Nelmari het net aan die gewigstoot vandag deelgeneem en ook 'n tweede plek gekry!!!

Wednesday, March 28

Dis warm

Dit begin nou lekker warm raak in hierdie dorpie en dis behoorlik lente. Kan nogal nie dink aan lente sonder om dink aan die LENTE wat julle kom kuier het nie Marie en Scalk. Ek onthou Schalk het gedurig "Dis heerlike lente" gesing om homself te oortuig dis nog nie somer nie. Maak die sin sin? Miskien nie ne, maar julle twee weet ten minste wat ek bedoel.

Die kinders het gister hulle pluimbalwedstryde gehad en gemengde welslae met die uitslae gehad. Altwee het hulle dubbelswedstryde gewen maar die gemengde dubbels verloor. Ook maar goed hulle speel nie in een span nie, hulle sal mekaar uitroei op die baan. As ek hulle reg verstaan het, is vandag weer track & field dag ..... so hou ons nie op nie.

Hierdie foto het nou net mooi niks met lente en/of pluimbal te doen nie, maar dit was net vir my so 'n goeie foto oor hierdie land .... die tradisionele en die nuwe strukture.




Tuesday, March 27

'n Goeie Atletiek dag

Ons beweeg nou weg van die basketbal seisoen na 'n kort track & field een saam met pluimbal. Soos gewoonlik wil die kinders nie uitsit nie en neem orals deel. Gister het hulle aan 'n atletiek byeenkoms in Dubai deelgeneem en tussen die twee 7 eerste plekke gekry! Ongelukkig het ons nie 'n fotograaf daar gehad nie en alhoewel Nelmari die kamera geneem het, was hulle altwee te besig om mekaar af te neem. Aan die einde van die dag kon hulle spog met ....

Willam
1 ste plek in die 400 meter
1 ste plek in gewigstoot
1 ste plek in diskus
1 ste plek in verspring (lyk my hy begin al meer sand raakspring)

Nelmari
1 ste plek in 100 meter
1 ste plek in gewigstoot
1 ste plek in 4 x 100 meter

'n Goeie sportdag vir AISA!





Vanmiddag is dit 'n pluimbalwedstryd teen ACS (American Community School).

Monday, March 26

Kindergroep


'n Hiper-rustige dag vandag, dis warm en alles is doodstil. Luie blaf nie wat beteken daar is geen katte of kinders in die straat nie, Begeera miaau nie, sy slaap net, Nelmari en William is in Dubai vir 'n pluimbaltoernooi en Eddie sit in Egipte. Maar net-nou net-nou is dit tyd vir die kindergroep dan is dit 'n gesing en lawaai van 'n ander wêreld.
Hier sing hulle "even in you a creepy, God loves you!". Kyk hoe "creepy" is hulle
Hierdie drie is my sangleidsters en julle moet hulle sien beweeg!Ek geniet dit so om die groot/ouer kinders ook te sien saam sing en dans.
Storietyd en die twee sussies lê plat op die grond terwyl ek vertel.
Klein Mia eet M & M's. Julle moet die kleinding sien dans en sy is nog nie 2 jaartjies oud nie.
Ons klein Springbok dink ernstig aan sy volgende bewegings wat ek afgeneem het. Crispin is ook nog nie twee jaar oud nie.

Hy nader Mia en maak asof hy verby haar gaan loop.
En dan gryp hy Mia vir die drukkie en soen. Alles met PG so moenie kommer nie.

Sunday, March 25

Hoe besig is ons?

William het Vrydagaand moes pyn-polisie speel toe die eerste rugby span Abu Dhabi teen die Hurricanes van Bahrain speel. Abu Dhabi het gewen. Maar om pyn-polisie te speel is om te wag vir iets "slegs" om te gebeur om te help.



Dit het my laat dink aan 'n stukkie wat Bill Allison geskryf het oor "Don't confuse being busy with being important". Hy sê "being busy may mean you're chicken to say no". Ek dink dit is waar maar dis ook so dat ons partykeer dink hoe besiger ons is, hoe belangriker klink of is ons. Hy vat sy stukkie saam deur te sê "don't confuse being busy with being important, competent, successful or spiritual, they may not be related at all."

Wat het dit te doen met William wat pyn-polisie was? Eintlik niks, dit het my net laat dink aan die storie van Bill Allison. Hy moes regtig wag dat iets gebeur ... en gelukkig in hierdie omstandighede het niks gebeur nie. Hoe besig is ons, en waarmee?

Saturday, March 24

Skool vang "gees"

Die afgelope week was "gees-week", waar die kinders elke dag van die week volgens 'n ander tema moes aantrek ... oa. kultuur, crazy/cool, soos 'n onnie en twins. Ek sukkel nog steeds oor wat eintlik tradisionele klere is vir ons SAfrikaners. Trek die kinders lang rokke en kappies aan of kraletjies wat net-net toemaak? In elk geval eindig almal gewoonlik op in hulle land se kleure en/of sportklere. Dit maak die dag kleurvol want ons skool het 44 nasionaliteite.

William se "cool" look.Nelmari en Minri het soos rugby 7's tweeling aangetrek alhoewel ek nie die manne met geel strikkies sien speel nie. Hulle het ook die prys vir die oulikste tweeling gewen! Die onderwysers was 'n heeltemal ander saak. Die kinders het "gebie" en dan 'n bedrag betaal om 'n onderwyser uit te rus vir die dag. 'n Paar onderwysers het 1000dh gehaal en die skoolhoof was 2500dhs werd. Die geld het gegaan vir die studente wat Bangladesh toe gaan vir 'n "Goodwill projek". Op die foto is oa. die skooldirekteur in 'n pienk toppie (ek weet nie presies aangetrek as wat nie) en die volleyballspan afrigter (wat julle al in ander klere gesien het) aangetrek as 'n pom-pom meisie.

Hier is nog drie van die onderwyseresse.



Toe is daar afskeid geneem van die Graad 12's met die gebruiklike "pie-gooi". Aan die meisiekant sien ons Selina (William se meisie) kry 'n voltreffer. Koes help nie.

Olivereen kry kans om haar sussie Al-marie te "pie". Ek wonder of sy teruggekry is by die huis?
Aan die seunskant wag William met 'n glimlag op die gesig vir sy "pie".

Voltreffer!!!


Hoe dit kan help met die "gees" in die skool is ek nie so seker van nie, maar dat die kinders dit geniet is waar. So wat ookal die "ouer" gardes dink, partykeer moet ons gaan met wat vir die kinders belangrikrik.

Friday, March 23

13 going on 16 ....







Geluk met jou verjaarsdag Viljoen!! Ons hoop jy het 'n wonderlike nuwe lewensjaar. Jy's nou groot en jou ma kan jou stuur om te kom kuier.

Liefde Al die Holloways



Thursday, March 22

Suid-Afrikaans ... potjie, potbrood en alles

Gedurende die week het die kerk 'n uitreik internasionale ete-aand gereel. Wat beteken, jy stel jou huis oop en hulle stuur mense van ander nasionaliteite na jou toe vir 'n tradisionele ete. Ek moet byvoeg dat ons deel is van 'n internasionale kerk van oor die 40 verskillende nasionaliteite hier in die Moslem-land. Niemand bly hier vir altyd nie, want hier kry mens nie burgerskap nie, dis alles net tydelik en vir werkomstandighede. (Jy kan ook nie hier bly as jy nie werk het nie). Dis 'n lekker gedagte want eendag gaan ons huistoe....
Met die beplanning van "wat gaan ons eet" en "wat is nou eintlik eie aan ons" was dit nogal 'n storie. Die Amerikaners en Britte BBQ (Braai) ook en vir die Arabiere is dit ook tradisioneel. Dan dink mens "bobotie en rys". Eintlik is op "potjie" besluit wat die Engelsmanne sal laat sê "stew" .... maar hulle maak dit nie ín 'n swartpot nie, so hierdie een gaan ons wen.

Ons gaste vir die aand was toe 3 Britte, 1 SAfrikaner wat al jare met 'n Brit getroud is en Ethiopier.
Daar is lekker rondom die potte, Ceres, Appletiser, Grapetiser en selfs SA wyne gekuier.
William het selfs sy Springbok hemp vir die geleentheid aangetrek.
Soos dit is met ons ou landjie, het almal gepraat oor misdaad, skole en veiligheid. Ons het ook oor tradisionele kosse en klere gepraat. Wat is nou eintlik ons tradisionele drag?

Die ete word afgesluit met Melktert, wat kan nou meer tradisioneel wees?
Dit was 'n suksesvolle uitreik en heerlike aand.

Wednesday, March 21

LENTEDAG IN ABU DHABI


Vandag is amptelik Lente- en Moedersdag in die UAE. Geniet die foto's geneem oppad skool en mall toe.