Thursday, March 16

Klein goedjies wat groot word


Hoeveel keer het ek al gehoor dis die klein goedjies wat groot goed word?  Is dit nie so dat ons graag met mense deel wanneer daar 'n GROOT wonderwerk gebeur, maar oor die klein goedjies wat gebeur bly ons doodstil.  Wat as mense wat die wonderwerke in die Bybel ervaar het stilgebly het daaroor omdat hulle gedink het, dis nie so groot nie?  Daagliks in ons lewe gebeur daar wonderwerke en ons deel dit nie.  

My klein Windows rekenaar wat maklik in 'n rugsak vervoer, was meestal gebruik vir kerkgoed en met my laaste besoek aan die woestyn het ek nog die finansiele state daarop gesit en doen.  Terug in SA wou ek die state in dropbox bere, maar die rekenaar wou nie aanskakel nie.  Die herlaai kabel se liggie wou nie eers brand nie.  In groot nood is twee kabels (net sodat dit nie weer kan gebeur nie) vanaf die woestyn aangestuur, maar die rekenaar was steeds so dood soos 'n mossie.  Die rekenaar boffins in die dorp het net gestaar, gegoogle en gese jammer ons kan nie help nie.  En indien ek die data wil herwin, sal hulle aanbeveel ek stuur die rekenaar terug na die vervaardigers toe.  Na 'n groot gesulk is die rekenaar in 'n sakkie gebere vir wanneer ek eendag dalkies die vervaardigers sien.  

Maar hierdie maand moes ek die state wat op datum gehou is, kontroleer met die wat ek op rekord het, maar dis op die rekenaar wat nie wil werk nie.  Maklike manier is om te vra dat hulle vir my 'n foto van daai state wat uitgedruk is stuur, maar in my oggend studie lees ek in Filippense 4:6  "Do not be anxious about anything, but in every situation, by prayer and petition, with thanksgiving, present your requests to God."  Dit se nie, vra en bid vir groot goed nie maar wel "in every situation present your request to God".

En dis presies wat ek toe doen.  Haal die rekenaar uit sy sakkie en bid vir hom.  Natuurlik is daar altyd twyfel en ek is half versigtig om dit aan te skakel en gaan maak eers koffie. Terug in die studeerkamer, prop ek die kabel in en ..... daar brand die liggie!!  Vinnig is alles oorgedra na die ekstra geheue en die rekenaar terug in sy sakkie.  

Hoekom twyfel ons somtyds in God?  Hoekom dink ons, net groot goed moet na Hom toe gebring word.  Weereens wys God vir my dat klein goedjies net so belangrik is want dit kan groot goed veroorsaak.  My frustrasies met die rekenaar het defnitief meer skade gebring aan my getuienis as Sy kind as wat iets groots miskien sou bring.  En weereens wys Hy my dat ek regtig met alles na Hom toe kan kom en dat ek Hom alles en enige iets kan vra. 

Iemand vra my gister, werk die rekenaar nog?  Ek moet erken ek het dit nie weer aangeskakel nie, want ek het mos net gevra om die data af te laai, maar as ek hier klaar is, gaan ek dit weer aanskakel, want as dit Sy wil is, kan dit weer gebruik word. 

No comments: