Friday, February 29

Ons kamp met ons Afrikaanse jeug - deel 2

Die tweede dag was daar geen wind en sand te sien nie en almal loop rond in "koeler" klere - die somer is hier.
Die meisies in die kosry besig om in te skep. Hulle moes ook kombuisdiens doen en agterna was die terugvoer dat hulle wonderlik posistief en hulpvaardig was.
Die aand se lofprysing was weer iets besonders en al die kinders neem deel aan die bewegings van die lied.Daar word ook "konsert" gehou en die groepe voer items op wat hulle gedurende die dag geoefen het. Dit moet uit van die lesse kom en iets oor die kamp se tema wees. Hier is Nelmari se groep. Sy staan agter met 'n boek en Minri is die "ou" tannie.

Na die vorige aand se laatslaap sou mens dink dat hulle vaak is, maar nee, daar word toe nog eers gekampvuur en daarna marshmellows gebraai. Ai tog soetgoed help nie slaap nie .... Die meisies wil wakker bly want Jessica verjaar die volgende dag en hulle wil graag 12 uur vir haar sing. Ons is bekommerd of ons min slaap, maar toe ons koppie kussing vat weet ons van niks, nie eers die gesingery vir Jessica maak ons wakker nie. Ek's bly die kinders het dit nie geweet nie.Ek moet oud word want vir die eerste keer bring 'n mede-leier ('n baie jonger een moet ek bysê) vir ons koffie in die bed. Ek lê nog op my rug toe Vicky met die 3 bekers ingestap kom. Dit was lekker om jou by ons te hê Vicky en 'n groot bederf!

Die weer lyk nie te goed nie en die tente staan al weer bol in die wind. Net weer 'n bewys van hoe goed Vader na ons gekyk het, om vir ons te midde van al die slegte weer wonderlike sonskynweer te gee sodat ons die kamp en al sy aktiwiteite kan geniet en toe dit oppak tyd is, is die "winter" terug.En hier is die hele groep. Sestig kinders en klomp volwassenes na 'n baie suksesvolle kamp!!!
Terug in Dubai en ons klein motortjies word vol gelaai vir die pad terug Abu Dhabi toe. Ek dink ons kan terugkyk op 'n suksesvolle geseende kamp en uitsien na volgende jaar s'n.

Wednesday, February 27

Ons kamp met ons Afrikaanse jeug - deel 1

Verlede Donderdag is daar met groot opgewondenheid uitgesien na die Kerkkamp en alhoewel mens sou dink dat weer nie sommer 'n rol in hierdie land sou speel nie, was dit 'n koue, sanderige, winderige dag en my moed het sommer in my skoene gesak. Voel so half op my ouderdom het ek defnitief my kwota van slegte weer kampe gehad. Maar niks kon die kinders se geesdrif blus nie. Met almal op die bus kom die oproep deur dat die tente plat gewaai het en ons heelwaarskynlik in die saal sal moet slaap. Ai tog!! In Dubai kry ons slegte verkeer en ek's weereens dankbaar dat ek in Abu Dhabi bly terwyl ek konsentreer om agter die bus te bly want ek ken daai mal paaie glad nie. Toe ons na 'n uur eintlik die pad Hatta toe vat, kan ek effens ontspan. Ons ry op 'n stadium met die woestyn aan weerskante en ek sien die kinders se vrolikheid in die bus en ek besef weer hoe besonders dit is. Hier in 'n vreemde woestyn moslem land en voor my ry 'n bus met 60 van ons Afrikaanse Christenkinders oppad na 'n kerkkamp ... wow dis special.Ons arriveer in die donkerte maar dankie tog die slaapplek het beddens met duvets, lakens en kussings!!!! Die kinders vat nie lank om in te rig. Op die bus is daar gou-gou maats gemaak en met hierdie foto moes ek al geweet het hier kom 'n ding!Ons eet lekker boerewors rolletjies voordat die aandprogram begin en hierdie 7 tieners lyk uitgerus en reg vir die kamp en sy dinge. (Kyk watter beker het Nelmari gebruik James).

Na aandetet is dit tyd vir kenmekaar, ysbreker en speletjies. DIe kinders geniet alles baie en gou-gou is daar niks vreemdheid tussen hulle nie. Die groepleier het omtrent probeer om hierdie 7 gesplit te kry, maar as hy weer sien is hulle saamingedeel

Ons tieners is voorsangers by die lofprysing en wanneer die kamplied geleer word, val hulle in die middel van die groep in en gou-gou word die ander deur hulle geesdrif aangesteek om saam te hop en spring en aksies uit te voer. Toe ons eindelik 01:00 bed toe, toe hop en spring hulle nog steeds en eers hier na 03:00 word hulle stil. Met 'n waarskuwing of twee van die "ou" tannies dat hulle beter môre die heeldag moet wakker bly.

Vrydag was volgeprop met lesings en aktiwiteite. Ons kamptema was Go Daniel en die kinders het ses onderwerpe gehad. Die sessies was maar 30 min lank waarna hulle 'n 15 min kleingroepie bespreking gehad het.

Selfs die wag in die kosry was pret as mens so na Nelmari se gesig kyk.

Almal verkeer nou vreetsaam met hulle kos en nagereg

Na die vorige paar dae se koue, wind en sand is die sonskyn lekker en die meisies vat 'n ruskansie, maar ek pla hulle met die kamera dat hulle nie kan slaap nie ..... wil my mos uit die slaap hou tot die oggendure!

Dan is dit tyd vir spansport en hier is hulle besig om taktiek te bespreek vir die krieketwedstryd.

Namiddag is dit weer sessies. In hierdie les doen hulle "Onwrikbare Geloof" en Charmaine speel die trustgames met hulle. Nelmari wys hier haar vertroue in die twee groepleiers.

Laat middag speel hulle weer volleybal. Hier wag Nelmari en Vicky vir die wedstryd om te begin.

Dit is nie die einde van die kamp nie, maar môre wys ek die res. Natuurlik konsentreer ek op Nelmari se foto's maar vir die ander kampers wat hulle self wil sien, gaan loer op die kindergroep se blok (link aan regterkant) vir al julle foto's!

Monday, February 25

Die vroue doen weer handwerk

Ons vroue het verlede week weer saamgekom vir 'n "handwerk" les/sessie. Soos die vorige keer was almal baie opgewonde en het dit omtrent gegons soos almal hulle stories en beplanning verduidelik het. Ons gaan skinkborde maak. Elise het baie geduldig die prosesse aan ons verduidelik en almal het met spitsore geluister.

Vanessa maak haar hand nat om op die bord te plak .... groot konsentrasie en dis net stap een

Heleen maak 'n skinkbord vir 'n vriendin wat hier gekuier het. Dis met foto's van hulle besoek en hier plak sy hulle versigtig op die skinkbord.Amelia plak prentjies van haar onlangse oorsese besoek. Wonder wat hier gesê word want Tracey geniet dit baie.Nou moet die prentjie met die goed wat bo-oor gesit is, drooggemaak word.

Amelia lyk heel tevrede met haar skinkbord sover...
Vanessa se prentjies is nou klaar uitgelê en geplak. Sy het foto's van haar seuns geplak.
Charmaine se beurt om met die haardroer te werk en haar projek droog te blaas. Ons prentjies se ink het gevloei toe kon ons nie skinkborde maak nie, maar Elise laat mens nie ledig sit nie en ons maak klein boksies.
Ek knip en werk aan my dekseltjie terwyl Elise "sonder toestemming" my kamera gebruik vir 'n foto!
Charmaine lyk baie trots op haar dekseltjie
Hier wys Elise vir ons hoe om die goed wat bo-oor ons bokse en skinkborde kom te meng. Kyk net hoe mooi luister Heleen en Charmaine
Dit lyk dallkies snaaks, maar Heleen is hier besig om die borreltjies van die skinkbord af te blaas.
Tracey blaas haar skinkbord droog. Sy het foto's van haar kinders op haar skinkbord.
Inspeksietyd .... Elise maak seker dat die dekseltjie van Charmaine se boks reg is en die goeters wat ons moet oorsmeer reg versprei is.
Die klomp met die eindproduk .... almal lyk heel trots op hulle self. Dankie Elise vir nog 'n lekker aand.

Sunday, February 24

'n Dag by die resiesbaan

Gedurende die naweek was ek en Nelmari op 'n jeugkamp en daar is sommer baie wat ek julle daarvan wil vertel. Maar om deur 280+ foto's te werk vat so 'n tydjie en daarom sal ek julle eers vertel wat Eddie aangevang het terwyl ons gekamp het.
Hy en Anton het Vrydagaand op uitnodiging 'n perderesies by die Nad Al Sheba wedrenbaan in Dubai bygewoon. Hier staan die manne netjies by hulle aankoms.
Die uitsig van waar hulle gesit het. Kyk op die foto, die sementblad in die linkerhoekie is iets aan die gebeur terwyl die wedrenne gehardloop word ...... Bietjie nader .... die groepie is besig om te bid in die rigting van die vuilgoeddrom .... (Onthou dobbel is hier onwettig)
Anton by die wennersirkel ek vermoed besig om te wag vir sy perd wat nog moet inkom .....
Kyk my naam is op die bord, ek's 39ste wys hy. Blykbaar (ek het geen bewyse nie) was Eddie se naam 30ste. Die baan. Kyk bietjie by die vlae vierdie van regs, hang ons vlag. In die 9 wedlope het daar altesaam 12 perde van SA gehardloop. Ek's nie seker hoeveel het 'n plek gehardloop nie, maar ek weet daar het.
Terwyl hulle perde gekyk het, het hulle ook heerlik geeet aan die kosse in die "losie". Die 21ste was ook Anton se verjaarsdag en al is ek bietjie laat .... hoop ek jy het 'n wonderlike dag gehad Anton! Wanneer kom Elzbeth?

Thursday, February 21

Basketbal ADSAC

In hierdie dorp begin die sport seisoen vinnig en na drie wedstryde speel hulle al die eerste toernooi. Dis nie soos by die huis wat die kinders laaaaaank voor die tyd begin oefen nie, die arme goedjies moet dadelik in die diep kant ingegooi word. Vanjaar se ADSAC was maar vinnig op ons en ons ouers se arme senuwees is behoorlik beproef.
Die dogterspan wat ek nog steeds sê is 'n baie goeie span ondanks gemengde welslae, het hard gespeel, maar ai tog wanneer hulle by die doelskiet kom was dit 'n gesukkel. Seuns ek weet nie wat is dit met hierdie ringe dat ons spanne altyd hier by ACS so sukkel nie? Hulle het nouwel nie in die finaal gespeel nie, maar kon al die wedstryde wat hulle gespeel het, gewen het. Die twee wat hulle verloor het, was beide slegs met een punt. Nelmari was glad nie gelukkig nie en het heeltyd gekla dat sy dit haat om met een punt te verloor.Maar soos haar ander vyf maats het hulle hul harte uitgespeel en kan ons trots wees op die dogters. Binnekort is dit die ISAC (Internasionale kompetisie) en dan gaan die dogters teen nog sterker opposisie deelneem. Die foto's is sommer net Nelmari in aksie tydens die toernooi.
'n Ernstige spanpraatjie teen ACS.
Nelmari langs die baan af teen AIS
Hier gaan sy weer. Sy het 'n paar goeie doele geskiet en ook goed verdedig. Die arme ander spanne wat met die 3 lang SA verdedigers sukkel maar.

Die meisies vat 'n ruskansie. Hulle eindig algeheel 3de. GO LIONS!!

Wednesday, February 20

Ingerig of nie?

Die volla het Bloemfontein toe gehaal en ek dink hy was baie bly om eintlik by sy nuwe blyplek te staan .... ek wonder wat doen hy nou? Die seuns en hulle ander huismaats het die huis begin inrig vir die nuwe jaar en dit het nie lank geneem nie.
Op die foto lyk dit nog nie asof Murray uitgepak is nie ... of wag ..... hy is uitgepak die woord moet weggepak wees. Sy bed is reg en so ook die lessenaar en Murray is ingesettle!
Lyk asof Leanè met 'n plan haar kamer inrig...
James se kamer staan nog in bokse, maar ek's seker dat hy ook sy kamer gou-gou sou inrig. Daar is GEEN fotó van William se kamer nie, maar ek is seker dat die einde van die jaar sal hy maklik trek omdat alles nog in bokse sal wees :-).
Terwyl die bokse nog teen die mure staan, is die TV/Sitkamer en playstation ingerig en word dit uitgetoets.Lyk asof niks meer nodig is nie, elke man is al klaar besig met sy eie goed. Will en die kitaar en James en Murray by die rekenaarDie vyfde lid van die studentehuis is "Sabeeha" (moenie vra waar vandaan en hoekom nie). Hier is sy besig om die verskillende slaapplekke uit te probeer .... lyk bietjie ongemaklik by William.


Die plekkie by James kan dalkies gemaklik wees ... maar ek dink sy sou heelwaarskynlik 'n bed uitkies.
Die huis het darem ook 'n gasskottel so wanneer daar vleis op die spyskaart is, kan dit gaargemaak word. Seuns ek is nuuskierig om te weet hoe dit nou, 'n maand later daar lyk?